Hoewel FC Prinsloo (43) se toestand stabiel is, kan hy nog nie vanuit die staatshospitaal in Polokwane na ’n private hospitaal oorgeplaas word nie en word sy wonde gereeld in die teater skoongemaak. 

“Die suster bevestig hy gaan teater toe dat hulle weer na sy wonde kyk. Hy is steeds onder sterk verdowing,” het FC se vrou, Estelle, gesê. 

Op ’n Facebook-ondersteuningsgroep het Estelle laat weet dat FC nog ’n hele ruk onder verdowing sal wees en dat die ventilator wat hom help om asem te haal, nog nie verwyder kan word nie.

 Daar is op Donderdag 22 Augustus ’n trageotomie (’n operasie waartydens ’n kunsmatige opening deur die nek in die tragea gemaak word) gedoen sodat die ventilator nie meer deur FC se mond hoef te wees nie.

 “In die toekoms sal veloorplantings gedoen moet word. Hy (die dokter) sê dit is ’n lang pad vorentoe, maar ons weet ons het ’n God van wonderwerke,” het Estelle op die Facebook-groep laat weet.

Die voorval het op Dinsdag 13 Augustus in die Makuya-reservaat plaasgevind.

“Ons was besig om na spore te kyk toe die buffel uit die bos kom. FC het glad nie na hom gesoek of enigiets nie. Hy het net in die digte bos gelê omdat hy ’n besering gehad het,” sê Stephan van der Merwe, die eienaar van Bushmans Quiver Quality African Safaris, waar FC werk. “Ek was 10 minute daarna by hom gewees.”

Die buffel het FC gestamp en op die grond vasgepen en ná sowat twee minute se geveg het die buffel spore gemaak.

Of die buffel se besering weens stropery is, het Stephan geen twyfel nie. “Dit was beslis stropers. Die draadstrik van die stropers was nog om die buffel se been.”

FC Prinsloo
FC. Foto: Facebook.



 Tog hou FC se naastes steeds moed dat hy volkome gesond sal word, maak nie saak hoe lank die herstelpad is nie.

 “FC is ’n yster en God het nog ’n groot plan met sy lewe hier op aarde,” sê Stephan.

 “Dankie aan julle almal weereens vir alles, al die liefde, omgee, bydrae en die meeste van als jul gebede,” het Estelle op die Facebook-groep laat hoor.