As dié Vrystaatse ma die horlosie kon terugdraai en hulle haar en haar dogter, Larochelle Steenberg (15), weer soos twee jaar gelede in die teater by die Charlotte Maxeke Akademiese hospitaal in Johannesburg moes instoot, sou sy dit weer gedoen het.

Maar dit beteken nie Lisa Steenberg (33) van Welkom het nie ’n groot prys hiervoor betaal nie. Die aanslae op die gesin het sedert die operasie in Oktober 2017 nog nie opgehou nie.

 Larochelle Steenberg en haar ma, Lisa.
Larochelle Steenberg en haar ma, Lisa.

Toe Huisgenoot haar kort voor Kersfees gebel het, het sy moedig gesug. Sy gesels al ’n lang tyd openhartig met Huisgenoot sedert ons dié pad saam met die gesin begin stap het.

“My liggaam trek baie swaar,” vertel sy. “Maar met Larochelle gaan dit baie goed. Sy is nou so ’n outgoing mens, sy is permanent in die strate!” sê Lisa oor haar dogter wat op 21 Junie volgende jaar 16 jaar oud sal word.

“Larochelle was nooit ’n mense-mens nie, maar dis nou vir haar baie lekker om by mense en haar vriendinne te wees. Sy is ’n sprankelende kind. Sy spot met my dat ek my nier én my houding vir haar gegee het.”

Sy vertel Larochelle vaar ook uitstekend op skool en sien uit na gr. 9.

Larochelle doen goed op skool en sien uit na graad
Larochelle vaar goed op skool en sien uit na gr. 9. Foto: Verskaf
Larochelle doen goed op skool en sien uit na graad
Larochelle vaar goed op skool. Foto: Verskaf
Larochelle doen goed op skool en sien uit na graad
Larochelle vaar goed op skool en sien uit na gr. 9. Foto: Verskaf
Larochelle Steenberg is nou 'n gesonde tiener. Fot
Larochelle Steenberg is nou 'n gesonde tiener. Foto: Verskaf

Dit is as’t ware asof sy en haar dogter plekke omgeruil het.

Voor Larochelle in Oktober 2017 ’n nier van haar ma ontvang het, was sy permanent moeg. Sy moes ses keer per dag dialise-behandeling ontvang aangesien sy net 5% nierfunksie oorgehad het.

Larochelle, by wie chroniese nierversaking in 2015 gediagnoseer is, het byna die stryd verloor.

Lisa het net een ding in Januarie 2017 geweet: As Larochelle nie so gou moontlik ’n nieroorplanting kry nie, gaan sy sterf. Teen Oktober daardie jaar het sy 60 kg afgeskud om self ’n nier aan haar dogter te skenk.

 Klein Larochelle
Klein Larochelle

Larochelle het volkome herstel, maar nie Lisa nie.

In Mei het Lisa ’n kwaai terugslag met haar oorblywende nier gehad. Sy moes hoor dié nier funksioneer nie optimaal nie. Die eens gesonde vrou se bloeddruk het probleme gegee en van daar af het haar gesondheid net meer verswak.

“Ek bly siek. Ek bly aanhoudend moeg. Alles is net ’n gemors. Ek het met al die toetse (om te bepaal of sy ’n geskikte skenker sal wees) ’n abses in my boud ontwikkel en die ding raak nie beter nie. Dit bly groter word en dit is permanent seer.”

Sy moes ook al minder begin werk by die kitskos-restaurant waar sy in Riebeeckstad naby Welkom, uithelp.

Haar man, Donald, het intussen ook sy werk as dieselwerktuigkundige op die myn verloor.

Finansieel het dit die egpaar geheel en al geknak. Hul huwelik is boonop ook op die rotse.

“Ons het aan die begin baie skenkings gekry, maar dit het mettertyd opgedroog. Ons moet steeds maandeliks by die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein kom vir Larochelle se pille om haar immuunstelsel te onderdruk (sodat die nier aanhou optimaal funksioneer).

“Ons kar is al in ’n toestand en breek heeltyd. Dit voel net soos stres op stres op stres. Ek dink soms so 'n ding breek ’n mens heeltemal.”

Lisa Steenberg het in Oktober ’n nier geskenk aan haar dogter Larochelle. Foto: Papi Morake
Lisa Steenberg het in Oktober ’n nier geskenk aan haar dogter Larochelle. Foto: Papi Morake

Maar steeds bly Lisa moedig. Wanneer 'n mens vra of sy dit weer sal doen, antwoord sy sonder om te huiwer: “So lank my kinders happy is, is ek happy. Enige ma wat lief is vir haar kind sal doen wat ek gedoen het en ek sal dit weer doen. Die Here dra ons.”

Sy vertel ook Larochelle se sussie, Nicole (13), gaan volgende jaar hoërskool toe. Sy lag wanneer sy vertel die twee tienerdogters baklei soos kat en hond.

“Nicole het soveel liefde om te gee. Sy het self deur diep waters gegaan met haar sussie se siekte. Sy help my nou so baie in die huis; sy dra my. Dis net skottelgoed wat sy ten alle koste vermy. Larochelle dra my nou weer veral emosioneel, want ek is nou die een wat altyd moeg is.”

Gaan na Gebedsgroepie spesiaal vir Larochelle om dié dapper meisie se vordering te volg.