Die tyd het eindelik aangebreek. Jy is moeg van CD’s wat oral rondlê en het oplaas besluit om die 21ste eeu te betree: Jy wil by ’n musiekstroomdiens aansluit.

Om digitale musiek te kies maak ’n wêreld van luistergenot vir jou toeganklik. Daar is miljoene liedjies wat jy kan geniet waar jy ook al gaan – op jou foon, tablet en rekenaar.

’n Musiekstroomdiens stel die gebruiker in staat om musiek oor die internet te luister nadat hy vir die diens ingeteken het. Dis soortgelyk aan internetradio, maar jy kies self die liedjies.

Maar waar begin ’n mens en hoe kies jy uit die verskillende stroomdienste wat tans beskikbaar is?

Daar is soveel keuses dit kan jou kop vinniger as ’n outydse langspeelplaat laat draai. Ons het die gewildste dienste vergelyk om jou te help kies wat die beste vir jou sal werk.

SPOTIFY

Dit was musiek in baie Suid-Afrikaners se ore toe Spotify aankondig dit word in Maart hier bekendgestel.

Die Sweedse musiekdiens is een van die baanbrekers in musiekstroming.

Sleutelkenmerke

  • Met ’n indrukwekkende katalogus van meer as 30 miljoen liedjies en 20 000 nuwe liedjies wat elke dag bygevoeg word, is die kans goed jy sal kry presies waarna jy soek.
  • Dit bevat die grootste Afrikaanse albums en liedjies.
  • Die diens gebruik algoritmes om uit te pluis wat jy graag sal wil hoor en doen aanbevelings wat op jou luistergeskiedenis gegrond is. En hoe meer jy dit gebruik, hoe beter sal dit jou musieksmaak leer ken en hoe meer sal dit soortgelyke musiek onder jou aandag bring.

Begin so

  • Op jou rekenaar: Besoek spotify.com, registreer en kliek dan die aflaaiknoppie (download) om die app op jou werkskerm te installeer.
  • Op jou selfoon of tablet: Gaan na Apple App Store, Google Play Store of Microsoft Store en laai die app af.

Hoeveel toestelle?

Jy kan soveel toestelle as wat jy wil met jou rekening verbind, maar net een toestel op ’n slag kan musiek speel.

Hoeveel kos dit?

As jy bereid is om ’n paar beperkings te verduur, sal dit jou nie ’n sent kos nie. Met die gratis diens kan jy ’n album of speellys kies, maar jy kan nie ’n spesifieke liedjie kies as jy op jou foon luister nie – wat beteken Spotify is in beheer.

As jy op jou rekenaar of tablet luister, geld hierdie beperking nie. Jy word ook net toegelaat om die “fast forward”-knoppie ses keer in ’n uur te druk. Met die gratis aanbod geld dít oor alle toestelle heen.

Nog ’n vangplek is jy moet ná elke paar liedjies na ’n advertensie luister.

Die premiumpakket sal jou R59,99 per maand kos en geen beperkings geld nie. Jy kan die diens vir ’n gratis proeftydperk van ’n maand gebruik voor jy jou daartoe verbind.

Met dié pakket kan jy die liedjies waarvan jy hou, aflaai en op jou foon bêre – eerder as om dit te stroom – sodat jy daarna kan luister wanneer jy nie ’n internetverbinding het nie.

Beste klankgehalte

320 kbps in die Ogg Vorbis-formaat (Spotify se hoëgehalte-oudiokompressieformaat).

Dit bied ook opsies vir 96 kbps en 160 kbps.

Aflaailimiet

3 333 liedjies per toestel.

APPLE MUSIC

Apple Music spog met een van die grootste musiekbiblioteke. Jy het nie ’n Apple-toestel nodig om dit te gebruik nie – dit werk ook op rekenaars en Android-toestelle.

Sleutelkenmerke

  • Apple het eksklusiewe ooreenkomste met groot name in die musiekbedryf soos Taylor Swift en die Kanadese rapper Drake gesluit om hul albums voor hul mededingers uit te reik.
  • Dit bevat die grootste Afrikaanse albums en liedjies.
  • Dit het ’n ingeboude radiodiens met tientalle stasies wat op spesifieke genres, soos hip-hop of dans, alternatief en indie, fokus.
  • Jy kan jou eie radiostasie skep wat op jou smaak gegrond is. As jy ’n Abba-aanhanger is, kan jy jou eie Abba-stasie skep. Maak een van hul liedjies in jou biblioteek oop en tik dan op die Options-knoppie aan die onderste regterkant van die skerm en kies Create Station. Jy sal dan ander Abba-liedjies, afgewissel met liedjies van kunstenaars met dieselfde musiekstyl, kan speel.

Begin so

Op jou rekenaar of MAC: Besoek apple.com/za, laai iTunes af en registreer.

Op jou selfoon: Maak seker jy het die iOS 8.4 of ’n nuwer bedryfstelsel.

iPhone-gebruikers: Maak die Apple Music-app oop. Klik op For You, tik op die profiel-ikoon aan die boonste regterkant van die skerm en teken in.

Android-gebruikers: Gaan na Google Play Store en laai die Apple Music-app af.

Hoeveel toestelle?

Jy kan 10 toestelle met jou rekening verbind, maar word net toegelaat om twee gelyktydig te gebruik.

Hoeveel kos dit?

Dit kos R59,99 per maand vir die individuele opsie. Hoewel Apple nie ’n gratis opsie bied nie, kan jy dit ná ’n proeftydperk van drie maande kanselleer.

Daar is ’n familie-opsie wat ses lede toelaat om die diens vir ’n enkelfooi van R89,99 te gebruik. Dis nie net tot families beperk nie – ’n groep vriende kan ook hierdie opsie gebruik, maar aangesien net een persoon in beheer is van die familie-opsie, sal hulle die rekening vir al die ander lede se app-, fliek- en binne-app-aankope betaal, wat nogal ’n duur storie kan raak.

Studente betaal net R29,99 per maand, maar moet deur ’n aanlyn proses deur UNiDAYS, ’n onafhanklike studenteverifiëringsdiens, gaan.

Jy kan die liedjies aflaai en dan daarna luister wanneer jy nie ’n internetverbinding het nie.

Beste klankgehalte

256 kbps in AAC-formaat (Apple se voorkeur-oudiokompressieformaat).

Aflaailimiet

Onbeperk.

Google Play Music

Ná die bekendstelling in 2011 het dié diens se musiekbiblioteek drasties uitgebrei en dit bevat tans ’n indrukwekkende 35 miljoen liedjies.

Sleutelkenmerke

  • Jy kan musiek van die aanlyn biblioteek stroom of dit in die winkel koop en tot 50 000 van jou eie liedjies op Google se bedieners as deel van jou versameling laai.
  • Dit bevat die grootste Afrikaanse albums en liedjies.
  • Die ingeboude radiodiens bied talle musiekstasies wat op spesifieke genres soos hip-hop en indie gegrond is.
  • Jy kan jou speellys saamstel volgens verskeie kriteria soos genre, aktiwiteit en selfs jou bui, en jou eie radiostasie skep wat gegrond op jou voorkeure en gunstelingkunstenaars.
  • Dit kan ook speellyste volgens tema saamstel afhangend van jou persoonlike voorkeure, byvoorbeeld jazz vir etes en klassiek vir lees. Jy kan dan hierdie speellyste direk by jou biblioteek invoer.

Begin so

Dis voorafgelaai op die meeste Android-fone, maar as jy ’n Apple-gebruiker is, kan jy dit van die App Store aflaai.

Rekenaargebruikers kan die app deur die Google Play Store kry.

Hoeveel toestelle?

Jy kan met verskeie toestelle inteken, maar net deur een op ’n slag na musiek luister.

Hoeveel kos dit?

Daar is ’n 30-dae-proeftydperk. Daarna kan jy individueel (vir R59,99 per maand) of as deel van ’n groep (R89,99 per maand vir tot ses mense) aansluit.

Jy kan die liedjies aflaai en dan daarna luister wanneer jy nie ’n internetverbinding het nie.

Beste klankgehalte

320 kbps in MP3-formaat.

Aflaailimiet

Onbeperk.

Ander musiekstroomdienste

DEEZER

Dit spog met 43 miljoen liedjies en is in meer lande as baie van hul mededingers beskikbaar.

Die beste eienskap is ’n hoëtroustroomopsie.

Dis ’n goeie keuse vir oudioliefhebbers, want die klankgehalte is uitstekend.

Koste: Gratis / R59,99 vir Premium+ /R89,99 vir familielidmaatskap / R119,99 vir hoëtrougehalte.

JOOX

Dis die grootste musiekstroom-app in die Ooste.

Baie van die liedjies is gratis om te stroom.

Koste: Gratis / R14,99 per maand vir Premium-gebruikers.

TIDAL

Dit spog met meer as 55 miljoen liedjies.

Die noemenswaardigste kenmerke sluit 16-bit-CD-gehalte-oudio en meer as 130 000 musiekvideo’s in.

Koste: R79,99 vir toegang tot die Tidal-biblioteek in standaardklankgehalte of R159,99 om in hoëtrou te luister.

Dit bied ’n gratis 30-dae-proeftydperk.

Hoeveel data sal jy gebruik?

As jy op die laagste gehalte stroom (Spotify se 96 kbps), sal jy 43 MB per uur gebruik.

Maar as jy Premium kies, sal jy 2,4 MB per minuut gebruik, wat 144 MB per uur is.

Jy kan dus in net minder as sewe uur 1 GB gebruik. Dit klink dalk baie, maar dis minder as ’n videostroomplatform soos Netflix, wat sowat 1 GB per uur gebruik.

Met die hoëtrouaanbiedings (1 411 kbps) op ’n diens soos Tidal sal jy sowat 635 MB per uur en dus 1 GB in 90 minute gebruik.

Bronne: Nbnco.com.au, Cnnet.com, Techadvisor.co.uk, Digitaltrends.com, Consumerreports.org, Community.spotify.com, Apple.com, Pocket-lint.com, Popsci.com