Volgens dr. Maritha Louw Fourie, ’n algemene praktisyn aan die Wesrand in Gauteng, verwar mense sinusitis en verkoue met griep. 

“Griep of influenza is nie net ’n loopneus en seer keel nie,” sê sy aan Huisgenoot.com.

“Die virus het die potensiaal om dodelik te wees, veral vir mense wat MIV-positief is, kankerlyers, kinders, babas, swanger vroue, diabete en mense met ’n verswakte immuunstelsel,” sê sy. 

Carla Coetzee
Die inenting teen die griep is nou beskikbaar. Die een is vir net R69 gekoop! Foto: Carla Coetzee

Hoe werk die inenting?

Suid-Afrika se griepinenting word aangepas by die griepseisoen wat verby is in die Noordelike Halfrond omdat die virusse jaarliks verander.

“Die inenting beskerm mens net teen die drie gevaarlikste of algemeenste griepvirusse,” verduidelik Maritha.

Volgens die Verenigde State van Amerika se Centers for Disease Control was daar ’n beraamde 79 000 sterftes in die land as gevolg van griep en byna ’n miljoen mense is gehospitaliseer tydens hul griepseisoen verlede jaar. Dié syfers is hoër as in vorige jare. Die nuutste inenting teen griep is nou in SA beskikbaar. 

Kan die inenting my siek maak?

Al die kenners op die gebied is dit eens. Dit is onmoontlik dat die inenting jou kan griep gee omdat dit nie ’n lewendige virus is nie. 

“Verbeel jou jy vat ’n paar haartjies van ’n dief wat jy wil hê jou hond moet opspoor. Jou hond ruik daaraan en leer hoe dié dief ruik en dat hy jou teen hom moet beskerm. Later, wanneer jou hond die persoon teëkom, weet hy dadelik om die skelm aan te val, selfs voor hy ’n kans gehad het om jou seer te maak of by jou te steel. Die spuit werk dieselfde,” sê Maritha. 

Slegs ’n skadelose gedeelte van die virus word aan jou immuunstelsel blootgestel sodat jy immuniteit daarteen kan opbou sê sy. 

“Jy gaan dalk net ’n seer arm hê of bietjie ‘af’ voel vir ’n dag of wat terwyl jou lyf werk om teenliggampies te maak.” 

Wie moet dit kry?

“Babas vanaf ses maande en kinders onder drie wat die inenting vir die eerste keer kry, moet twee halwe spuite, ’n maand uit mekaar, kry. Daarna tot hulle drie jaar oud is net ’n halwe spuit per jaar,” verduidelik Maritha. 

“Kinders tussen drie- en agt jaar oud wat vir die eerste keer die entstof kry, moet twee vol spuite kry, ook ’n maand uit mekaar. Daarna kan hulle soos die res van die bevolking een dosis ’n jaar kry, maar jou klinieksuster sal dit weet, of jy kan die Sentrum vir Oordraagbare Siektes skakel.” 

Maritha sê mense wat baie met ander in aanraking kom, soos onderwysers en hospitaalwerkers, moet veral die inenting kry omdat die virus maklik kan versprei. 

Dr. Lilla Friend, ’n algemene praktisyn by ’n onkologiepraktyk in Pretoria, sê alle gesondheidspersoneel in hul praktyk móét die griepinenting kry. 

“Ons pasiënte se immuunstelsels is soms afgetakel weens die kanker, so ons almal kry die inenting sodat ons hulle nie aansteek nie. Hulle immuunstelsels is te swak om teenliggaampies te maak teen die inenting, so hulle kan nie self ingeënt word nie,” sê sy. 

Maar onthou . . . 

Maritha sê as jy die inenting kry, vrywaar dit jou nie van enige siekte dié winter nie. “Jy kan steeds lugweginfeksies, bronchitis en selfs longontsteking kry, maar die inenting sal jou beskerm teen die gevaarlikste drie tipes griep, wat varkgriep insluit,” sê sy. 

Die griepinenting is beskibaar by die meeste apteke en klinieke.