’n Foto van haar man hang teen die muur van die leefvertrek in hul huis; ’n herinnering aan die man met wie sy vanjaar 20 jaar getroud sou wees.

Maar Nathan Ganas is in die inrit van sy huis in Shallcross, Durban, doodgeskiet en sy dood het nie net skok en smart veroorsaak nie, maar ook ’n Dawid-en-Goliat-stryd toe sy weduwee, Denise Ganas, geweier het om bes te gee nadat die versekeringsreus Momentum gesê het hulle gaan nie Nathan se lewenspolis uitbetaal nie.

Die rede vir hul weiering? Al is Nathan nie dood aan natuurlike oorsake nie, wou die versekeraar nie sy polis uitbetaal nie omdat hy destyds nagelaat het om te sê hy het hoë bloedsuikervlakke gehad.

Ná ’n landwye protes het die versekeraar eindelik toegegee, maar terwyl Denise dankbaar is haar stryd is verby, sal niks die afgryse en hartseer van 2 Maart uitwis nie: die aand toe haar man vermoor is.

Nathan (42) was ’n ware gesinsman, sê sy. Hulle het twee kinders, Jaden (15) en Carmen (12).

Nathan, ’n elektriese passer, het hard gewerk om sy gesin te onderhou. “Hy het ook ’n passie vir versnelrenne gehad, en naas sy kinders was sy Golf 2 sy trots,” sê sy.

Hy het gereeld laat gewerk en naweke vir verlore gesinstyd vergoed. Dan het hy dikwels saam met sy seun gaan hengel.

Maar op daardie noodlottige Donderdag het hy vroeg huis toe gekom. “Hy het gebad, iets geëet en toe kyk ons televisie. Hy het my hand vasgehou,” vertel Denise (42).

Omstreeks seweuur die aand het ’n buurvrou ’n lamsboud se been vir hul hond gebring en daarop aangedring dat Denise uitgaan om die dier met sy lekkerny te sien. Terwyl hulle op die sypaadjie staan en gesels het, het sy ’n motor stadig sien verbyry.

Toe kom ’n kennis van haar man aan, parkeer op die bure se sypaadjie, en sy maak die hek vir hom oop. Skielik het die ander voertuig weer verskyn en is die deure oopgeswaai.

Die buurvrou kon weghardloop, maar een van die mans het Denise gegryp. “Hy het ’n balaklawa gedra en ’n vuurwapen gehad. Hy het dit op my gerig en gesê: ‘Ek soek die motor (Nathan se vriend s’n); gee vir my die sleutels.’

Ek het gesê: ‘Moet asseblief nie skiet nie.’”

Denise en Nathan.
Denise en Nathan.

Sy beweer hy het toe “na die huis gedraai en dit vol koeëls geskiet”. Daar was altesaam vyf kapers, sê sy, en hulle almal het begin skiet. Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het hulle met leë hande van die toneel gevlug.

Denise, wat agter ’n wiel van die motor weggekruip het, het na die huis gehardloop. Toe sy daar kom, het sy haar dogter hoor huil: “Mamma, ek bloei. Ek is geskiet.”

“Ek het ingehardloop en my dogter se arm vasgehou om die bloed te stuit. Ek het vir my skoonma gesê: ‘Kyk na my baba – sy is geskiet en bloei!’

“Dis toe dat my skoonma na my draai en sê: ‘Kyk na my baba – hy is geskiet en bloei!’

Ek het na Nathan gegaan, sy gesig vasgehou en gesê: ‘Dit gaan oukei wees.’ ”

Sy glo haar man het uitgehardloop toe hy die lawaai hoor “en dis toe dat hulle hom moes gekry het”.

Jaden onthou sy pa het na buite gehardloop en vir sy ma geskree sy moet platval.

“Dis die laaste keer dat ek hom hoor praat het,” sê Jaden.

’n Familievriend het Nathan na die naaste hospitaal gehaas terwyl Denise gewag het dat ’n ambulans Carmen kom haal. Toe sy later die aand na die huis terugkeer, het ’n see van mense buite haar huis vergader.

“Toe ek ingaan, het almal gehuil en ek het geweet Nathan is weg.”

Denise sê die polisie het sowat 26 (koeël)doppies op die toneel gekry. Nathan is een keer in die been en een keer in sy buik geskiet. Dit was verskriklik om haar man te verloor, sê sy – en toe kom die volgende skok: Momentum laat blyk hulle gaan nie sy lewenspolis uitbetaal nie.

Maar sy wou dit nie laat vaar nie. “Ek oorkom altyd enige verknorsing waarin ek beland en was nie bereid om dit te laat vaar sonder om te baklei nie.”

Nathan het in 2014 ’n lewenspolis van R2,4 miljoen by Momentum uitgeneem en elke maand R2 653 daaraan betaal.

“Hy wou ’n beter lewe vir ons hê nadat hy weg is,” sê Denise, wat as ’n verkoopskoördineerder vir ’n linne-onderneming werk.

“Hy wou nie hê ons moet iemand anders iets vra nie.”

Denise by die foto van Nathan wat teen die muur van die leefvertrek in hul huis hang.

Toe hy sterf en sy probeer eis, het Momentum egter vir haar gesê Nathan het nagelaat om te openbaar hy het hoë bloedsuikervlakke gehad. ’n Nieopenbaarmaking, het hulle gesê, beteken geen geld nie – ondanks die feit dat sy dood niks met diabetes te doen gehad het nie.

Momentum het nie mediese toetse gevra nie, sê Denise. Volgens haar het hy nie medikasie vir verhoogde suikervlakke gebruik nie en was hy fiks en gesond. Sy beweer haar man is ná sy dood “soos ’n lopende tydbom laat lyk, wat nie die geval was nie. Dis hoekom ek gesê het: ‘Ek het die nadoodse ondersoek. Ek weet hoe hy dood is. Daar’s nie ’n manier dat julle hiermee gaan wegkom nie.’ ”

Momentum het voet by stuk gehou: Nieopenbaarmaking het dieselfde gevolg by alle versekeraars, het hulle gesê. Dit is wet – dit maak nie saak of die kliënt se swye niks te doen gehad het met hoe hy dood is nie.

Tog het die druk later te veel geword en Momentum het toegegee. In ’n verklaring het hulle gesê ’n “indruk is geskep” dat die versekeraar redes gesoek het om ’n uitbetaling te vermy.

Dit was nie waar nie – die versekeringswet wat openbaarmaking vereis, het hul hande afgekap.

Maar hulle het ’n nuwe beleid geskep om “ ’n bedrag gelyk aan die sterftevoordeel (beperk tot ’n maksimum van R3 miljoen) in die geval van gewelddadige misdaad, ongeag vorige mediese geskiedenis, uit te betaal”.

Dit geld vir Denise sowel as ander soortgelyke gevalle terugskouend en in die toekoms. “Ons identifiseer kliënte wat op dié manier geraak is en sal hul families kontak om betaling te reël. Dit sluit mev. Ganas in,” lui die maatskappy se verklaring.

Die beleid, lui die verklaring verder, sal ten volle uit Momentum se wins befonds word en nie uit kliënte se premies nie. En hulle sal betaal “wanneer die dood ’n gevolg van ’n gewelddadige misdaad was, selfs wanneer materiële mediese nieopenbaarmaking ’n uitwerking op die legitimiteit van die kontrak het”.

Denise is verlig alles is agter die rug. “’n Jaar en agt maande het ek baklei. My man wou hê sy gesin moes finansieel veilig wees indien enigiets met hom gebeur en ek was nie van plan om toe te laat dat enigiemand my van Nathan se droom beroof nie.”

Al het sy ’n werk, het Denise snags wakker lê en wonder hoe sy die huislening en diensrekenings sou betaal. “Dit was besig om vir my te veel te raak. My man was die hoofbroodwinner en het vir alles gesorg.”

Sy wil haar huis afbetaal en die res van die geld vir haar kinders belê. Haar raad aan ander is om die fyn druk in versekeringspolisse noukeurig te lees.

“Selfs as die maatskappy nie mediese ondersoeke vra nie, praat met jou makelaar, sê vir hulle jy wil dit doen, want jy wil nie eendag met probleme sit nie.”

Sorg so jy is verseker

Dis belangrik om enige mediese toestand, hoe gering of ernstig ook al, te openbaar wanneer jy om mediese versekering aansoek doen of ’n lewenspolis uitneem. Jennifer Preiss, adjunkombud vir langtermynversekering, gee die volgende raad:

  • Wees altyd eerlik. As jy iets wegsteek of foutiewe inligting verskaf, word dit as “voorkontraktuele wanvoorstelling” beskou en sal dit die uitbetaling beïnvloed.
  • Gee eerder te veel inligting as te min. “As jy oor iets onseker is, vra nog tyd sodat jy jou dokter kan raadpleeg voor jy teken.”
  • Sou jy ’n toestand ontwikkel nadat die polis uitgereik is, hoef jy dit nie te verklaar nie. Polisse geld vir toestande ten tyde van ondertekening.
  • Kyk rond. Party versekeraars is bereid om aansoekers met ernstige mediese toestande te dek. Verken dus jou opsies.