Hy het Donderdagoggend aan Huisgenoot.com gesê die familie hoop borgtog word van die hand gewys. “Die mense is bad news. Hulle gaan vlug of van bewyse ontslae raak,” sê hy.

Wynand het ’n beroep op die publiek gedoen om hul profielfoto’s in die sosiale media na dié van sy suster en Joey te verander ter ondersteuning.

Hier is die brief wat Wynand gedeel het.

Ek gaan nie jok nie en moet bieg dat hierdie een van die vreemdste plekke is waarin ek (en ons) onsself al bevind het. ’n Mens se emosies wissel vinnig tussen smoorkwaad en dan skielik rustig, tussen hartseer en dan weer ongelooflik sterk. Ek vind tans ’n groot vasklouplek in die Woord van die Here. Dit staan vas. Wanneer ek my daartoe wend, is dit asof God my wegneem en my toevou. Hy vertroos my.

Jy hoef nie eens ’n gelowige te wees om geraak te word deur hierdie woorde nie:

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’ Psalm91:1-2

Hy sal uiteindelik al die eer kry.

Vanaand is die vooraand van ’n belangrike paar dae wat voor ons lê. Einde ten laaste word daar more gehoor gegee aan die agt verdagtes se borgtogaansoeke. Miskien is ek wreed, maar ek hoop dat geen van hulle borgtog sal kry nie. En dan wag ons met groot afwagting op die DNS-uitslae wat sal bepaal of die verbrande bene Anisha en/of Joey s’n is of nie. Bly asseblief saam met ons bid en hoop dat die waarheid en geregtigheid sal seëvier.

Kan julle sien hoe ek God se hand in hierdie saak kan sien en kan getuig dat daar steeds wonderwerke gebeur?

Ek wil namens ons familie hierdie week dankie sê aan ’n klomp mense.

Dankie aan die SASI (South African Support Initiative). Dankie aan Mike, Wendy – julle is ysters. Dankie aan die lede van SAPD wat hierdie afgelope tyd soos bloedhonde gewerk het om duidelikheid te kry en lig te werp op dit wat in die donker was. Dankie, Adri, dat jy jouself afgestaan het tydens jou verlof – ons stel jou hoog op prys en is verstom deur jou werketiek. Dankie, SAPD-lugvleuel.

Dankie vir al die plaaslike gemeenskapsforums wat op ’n merkwaardige manier al hul hulpbronne tot ons beskikking gestel het. Van hommeltuie tot stootskrapers tot mannekrag. Ek verwys hier spesifiek na Mooinooi se Radio-Groep: Julle was en is steeds engele vir ons. Dankie ook aan Rustenburg se RCCF en SACCW – dankie dat die publiek op julle kan staatmaak.

Dankie aan die media – Mia, Carla, Hanti en Verwoed.

Ek weet ek het dit al gesê, maar ek sê dit weer: Hier in ons land is daar baie goeie mense.

Kan julle sien hoe ek God se hand in hierdie saak kan sien en kan getuig dat daar steeds wonderwerke gebeur?

Dankie aan elke persoon wat saam bid. Dankie aan elke persoon wat saam deel. Dankie aan elke persoon wat saam huil. Dankie aan elkeen wat hierdie saak as hulle eie opneem. Dankie vir al die boodskappe.

Dankie aan al ons vriende (die nuwes en die oues) -net om julle te sien bring verligting. Asseblief moenie ophou nie. Daar is oomblikke waarin hierdie dinge ons dra en ons letterlik kan voel hoe omgee en liefde ons omgord.

Dankie vir my twee broers, Pieter van Niekerk en Schalk van Niekerk, julle is bastions. Julle is twee van die sterkste mense wat ek ken.

Die land van ons, is ’n goeie land.

Ek weet ek het dit al gesê, maar ek sê dit weer: Hier in ons land is daar baie goeie mense. Ongeag hul velkleur, ongeag hulle politieke partye, ongeag hulle seksuele voorkeure en ongeag hulle geloofsoortuigings. In ons land is daar ’n plek vir ons elkeen.

Ek sê dit nou sommer prontuit: Die lewe is te kort om heeltyd te sit en vingerwys. Wees lief vir jou vriende. Wees lief vir jou familie. Wees lief vir jou kollegas. Wees lief vir jou werkers. Wees lief vir jouself. Ons is almal op een of ander manier aan mekaar geweef – as dit met jou buurman sleg gaan, dan gaan dit met jou ook sleg.

Die land van ons, is ’n goeie land.

Kom! Julle is almal welkom! Aan al ons familie en al ons vriende. Die boere. Die hippies. Die gelowiges. Die dominees. Die rockers. Die ernstiges. Die snaakses. Die drinkers. Die niedrinkers. Die dokters. Die tegnikuste. Die slimmes. Die baie slimmes. Die met grade. Die sonder grade. Die pienkes. Die perses. Die wat Engels praat. Die wat Zoeloe praat. Die prokureurs. Die mechanics. Die auto-electricians. Die metallurge. Die tuisteskeppers. Die base. Die werkers. En dan laastens die WP-ondersteuners . . .

Kom staan more en Vrydag langs ons by die Brits-landdroshof om 08:30 vir die een saak: In ons land sal mense lewe! Nie doodgaan nie. Hulle sal lewe! Anisha en Joey se storie is nie net ons storie nie.

Dit is ook nou joune. (Kan ons asseblief ook vra dat julle ter ondersteuning julle profile pics tot Sondag sal vervang met die prentjie van Joey en Anisha hier onder?)

Ongelooflik baie liefde. Dankie SA.

Die borgtogaansoeke sal na verwagting Donderdag en Vrydag hanteer word.