Die toneel wat vir Wynand van Niekerk begroet het toe hy sy suster, Anisha, en haar vrou, Joey, se opstal instap, was soos iets uit ’n misdaadriller. “Joey se handsak het op die kombuiskas gestaan, maar haar beursie was nie daarin nie. Die sleutels van die huis was nog daar. Die televisie en die aircon was aan.”

Maar die twee vroue – wat die oggend van hul kleinhoewe naby Mooinooi na ’n begrafnis in Pretoria sou vertrek het – was skoonveld. Dit was Maandagaand 11 Desember toe Wynand tuis na hulle gaan soek het. Volgens die klagstaat wat intussen by die Brits-landdroshof ingedien is, was die jong egpaar toe reeds besig om weens ’n uitgerekte marteldood te sterf.

Hulle is na bewering ontvoer, herhaaldelik verkrag, geskiet en hul lyke verbrand. Die staat voer aan die motief was roof, maar die slagoffers se families glo die sewe beskuldigdes wou die kleinhoewe hê.

Maar terwyl daar nog baie onbeantwoorde vrae oor Joey (32) en Anisha (30) se laaste ure is, blyk dit die beweerde baasbrein agter die moorde, Koos Strydom, was ’n gevreesde man.

Jo-leen Geldenhuys (27) steek die een sigaret ná die ander op terwyl sy vertel dat Koos haar so gedreig en geteister het dat sy ’n interdik teen hom moes kry – net weke voor Joey en Anisha op 10 Desember verdwyn het.

“Ek was moeg van bang wees,” sê sy.

Anisha en Joey van Niekerk se huis.

Koos het ’n paneelkloppersaak op die Van Niekerks se kleinhoewe in Mooinooi in Noordwes bedryf. Jo-Leen, haar man, Jack, en hul vier kinders woon die afgelope jaar in ’n huisie op die kleinhoewe, maar het sedert die egpaar se dood met die toestemming van hul naasbestaandes in die opstal ingetrek.

Jo-leen wys vir ons die interdik. Sy beweer Koos het haar onder meer ingeloop met herstelwerk aan haar motor en haar seksueel geteister.

“Almal op Mooinooi is bang vir hom (Koos), maar ek dink hy het Joey en Anisha gecharm. Hy het elke liewe dag vir hulle gevra of hy hul plot by hulle kan koop.”

En op 11 Desember – volgens die polisie die dag waarop die twee vroue oorlede is – het Koos se vrou glo na Jo-leen gekom en vir haar gesê sy moet haar diere van die kleinhoewe af kry. Die plek behoort nou aan Kóós; hy het dit gekoop.

Dit lyk of Koos se vrou, Mersha, en hul driejarige dogtertjie met net die klere aan hul lyf gevlug het.
Joey en Anisha se bed. Die polisie se forensiese span het glo bloed hier gevind wat skoongemaak is.

Die volgende dag, 12 Desember, is Koos in hegtenis geneem. Later is ook sy seun, Vincent, dié se meisie, Marushka Opperman, die broers Aaron en Jack Sithole, Moses Rakubu en Alex Modau aangekeer en van moord aangekla.

Wat presies gebeur het, sal na verwagting tydens die verloop van die moordverhoor ontvou. Wynand het die twee vroue die Maandagaand as vermis aangegee nadat hy deur die bisarre toneel in hul opstal begroet is. Die volgende oggend is hy weer terug na die kleinhoewe, waar hy self met Koos gepraat het. Volgens hom het Koos gepraat asof die kleinhoewe reeds aan hom behoort.

Wynand deel Jo-leen se mening: “Ek twyfel geensins dat my suster en Joey vermoor is vir die grond nie.”

Pontsho Raikane, Koos en sy medebeskuldigdes se prokureur, het kort voor ons druktyd nie gereageer op telefoon- of WhatsApp-versoeke vir reaksie op Wynand en Jo-leen se bewerings nie.

‘Hy’t gesê hy skiet sommer al vier my kinders voor my dood’

Koos Strydom.

Die boodskappe aan Pontsho is wel as gelees aangedui. Die polisie het later Anisha en Joey se uitgebrande motor naby Magaliesburg gekry.

En nóg later het hulle menslike bene en weefsel in ’n streepsak in die veld op die R104 gekry. Hulle vermoed dis die twee vroue se oorskot, maar volgens ao. Mpeile Talana, polisiewoordvoerder van Noordwes, was die DNS-uitslae kort voor ons druktyd nog nie bekend nie.

Netwerk24 en Rapport het berig die vroue is glo eers na die kleinhoewe geneem waar Koos, sy gesin en verskeie ander mense saam in ’n huis gewoon het. Daar is hulle toe glo aan hul hande in ’n skeepshouer opgehang en gemartel voor hulle gesterf het. Dié plek is sowat 10 km van Joey-hulle se kleinhoewe.

Maar in ’n wending het ’n bron wat ingelig is oor die forensiese ondersoek aan ons vertel die egpaar is vermoedelik in hul eie opstal oorweldig.

Beendere en menslike weefsel is hier gevind.

Volgens die bron was hy saam met die polisie in die vroue se opstal en was daar “baie bloed” in die gang en slaapkamer.

“Toe hulle daai chemikalieë spuit, sien jy blou oral in die kamer en wat lyk soos sleepmerke in die gang,” het die bron ons vertel. “Ek het geweet Koos is in staat tot lelike dinge,” vertel Jo-leen verder. “Ek vermoed hy het my vyf honde vergiftig. Toe kry ek en hy stry oor my kar. Hy moes iets regmaak, toe strip hy my hele kar,” sê sy.

“Hy’t vir my gesê hy worry nie; hy skiet sommer al vier my kinders reg voor my dood en sal my in my huis toemaak en dit aan die brand steek,” vertel sy.

“Dis toe dat ek ’n interdik teen hom kry.” Sy beweer hy het op ’n vorige geleentheid onverwags aan haar bors gevat en haar privaat dele probeer betas.

“Hy’t gesê hy wil sien of ek ’n man of ’n vrou is, en hy sal my wys.”

Jo-leen Geldenhuys wys waar Joey se handsak ge-vind is.
Anisha en Joey van Niekerk. Die twee vroue is wreed vermoor.

Jy kry koue rillings die oomblik wanneer jy instap by die verlate huis waar Koos, sy vrou, Mersha, hul seun, Vincent, en hul driejarige dogter saam met ’n onbekende aantal mense gewoon het.

Behalwe ’n verslete matras is daar geen meubels nie. Vullis lê oral rondgestrooi. Die oorspronklike vertrekke is onderverdeel deur kru bouwerk en daar is donker gangetjies en vreemde, beknopte hoekies.

’n Trap lei af na ’n donker kelder; nog ’n trap lei op na ’n soort vensterlose toringkamertjie. Wie ook al die ander inwoners was, almal het padgegee nadat eers Koos, sy seun en dié se meisie aangekeer is.

Die huis van die vermeende baasbrein agter die moorde, Koos Strydom.

Die polisie het bevestig hulle verwag nog inhegtenisnemings. Dis nie bekend waar Koos se vrou en hul dogtertjie is nie. In die skeepshouer van metaal op die werf is dit oondwarm. Daar is eers berig die slagoffers is hier binne aan hul hande opgehang. Maar die dak is betreklik laag; selfs ’n korterige persoon sou hier platvoet kon staan met hul hande wat die dak raak.

In die bos agter die huis is ’n dieperige, reghoekige gat. Dis nie duidelik wat die doel daarvan was nie. Maar dit laat ’n mens onwillekeurig aan ’n graf dink.