Wynand van Niekerk, die broer van Anisha van Niekerk wat vermoedelik op Mooinooi vermoor is, sê 'n vreemdeling het hom Dinsdag verras.

"Ek en ’n kollega het gesit en gesels in ’n koffierestaurant in Rustenburg. “Ons het maar gehoor hoe gaan dit met mekaar en net 'n bietjie weernuus gedeel,” vertel hy aan Huisgenoot.com. 

Toe dit tyd raak om die rekening te betaal, sê die kelner dis reeds betaal en oorhandig ’n briefie met die woorde: “I’m so sorry for your loss. I’m praying for you and your family”. 

Die brief wat iemand vir Anisha van Niekerk se ouboet gelos het. Foto: Facebook

“Ek het geen benul wie dit was nie. Geen. Maar dis so wonderlik. Dis so ’n mooi gebaar. Ek wil net aan daai persoon dankie sê. Jy het geen benul wat die boodskap vir my beteken het nie.” 

Anisha en haar vrou, Joey, is op 11 Desember as vermis aangemeld. Sewe mense is in verband met hulle verdwyning in hegtenis geneem en aangekla van verkragting, menseroof en moord. 

Die polisie het bene gevind wat hulle glo die oorskot is van die twee vroue, maar hulle wag nog op die DNS-uitslae.

Die sewe verdagtes het Woensdag in die landdroshof op Brits verskyn. Die saak is tot 15 Januarie uitgestel.