Die agt verdagtes is verlede jaar van die verkragting, ontvoering en moord op Joey (32) en Anisha (30) van Niekerk in Desember aangekla. 

Die vermeende "baasbrein" se 21-jarige vrou, sy 28-jarige seun en dié se 18-jarige meisie is op borgtog van onderskeidelik R20 000 en R10 000 elk vrygelaat. Dit is onduidelik of hulle dié bedrae kon betaal. 

Ek het al verskeie oproepe gekry van mense wat wil weet wat nou gaan gebeur en of hulle veilig sal wees.

Willem Smith, wat vroeër saam met van die verdagtes in ’n huis op Mooinooi gewoon het, sê dit voel of die gemeenskap hom oordeel. “Ek word geterroriseer in die gemeenskap omdat hulle sê ek is ’n moordenaar. Ek het niks met die moorde te doen gehad nie,” sê hy. Willem het destyds eksklusief aan Huisgenoot vertel hy het ’n saag die oggend ná Joey en Anisha se verdwyning gaan koop. 

Hannetjie Grobbelaar van die Gemeenskapspolisiëringsforum op Mooinooi sê sommige in die gemeenskap is geskok die drie het borgtog gekry. “Ek het al verskeie oproepe gekry van mense wat wil weet wat nou gaan gebeur,” sê sy. 

Joey en Anisha se familie is in twee geskeur oor die borgtog. 

Willem Smith in ’n vorige onderhoud met Huisgenoot. Foto: Onkgopotse Koloti

Anisha se broer, Wynand, sê hulle is nie bekommerd oor die feit dat drie van die verdagtes borgtog gekry het nie. “Dit sou nice gewees het as hulle dit nie gekry het nie, maar hul borgtogvoorwaardes is baie streng. Dit kon erger gewees het,”  sê hy. 

Joey se tannie Joey Burnard sê hulle is teleurgesteld, maar het nog vertroue in die regstelsel.

Burnard het bevestig die beendere wat op die vermeende baasbrein se plaas gevind is, is dié van Joey. “Dit was ’n groot skok, want ons besef nou net weer wat sy deur is, maar ons het afsluiting nodig,” sê sy. Hulle sal binnekort ’n gedenkdiens vir Joey hou.

Ons het gehoop niemand kry borgtog nie.

Anisha se oorskot is nog soek. 

Joey en Anisha het op 10 Desember 2017 vermis geraak. Hul uitgebrande motor is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Die vermeende "baasbrein" het die egpaar na bewering  vermoor nadat hulle gedwing is om dokumente te teken om hul hoewe aan hom te oorhandig. 

Die saak sal na verwagting in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.