Die familie van Joey en Anisha van Niekerk wat sedert 10 Desember 2017 vermis word, het nou ’n beloning van R5 000 uitgereik in die hoop om Mercia op te spoor.

Mercia van Rooi word gesoek in verband met die Mooinooi-saak.

Joey en Anisha is op 11 Desember 2017 as vermis aangemeld nadat hulle nie by Joey se pa se begrafnis in Pretoria opgedaag het nie.

’n Dag daarna is Koos, wat ’n paneelkloppersaak bedryf het op Joey en Anisha se kleinhoewe by Mooinooi, Noordwes, in hegtenis geneem. Wynand van Niekerk, Anisha se ouboet, sê hulle glo Koos wou sy suster en Joey se grond hê. 

Koos en nog ses verdagtes, onder wie sy seun en dié se meisie, staan tereg op aanklagte van moord, verkragting en menseroof. Sy 21-jarige verloofde het ná sy inhegtenisnaming op 12 Desember 2017 op die vlug geslaan. 

Noordwes-polisie se woordvoerder ao. Mpeila Talane het bevestig hulle is op soek na Mercia. “Ons wil met haar praat oor die saak,” het hy aan Huisgenoot.com gesê.

Die polisie sê die familie het die beloning uitgereik. Wynand sê hulle vra dat enigeen met inligting oor die saak of oor waar Mercia haar bevind, die polisie sal skakel. 

Die polisie wag steeds op DNS-uitslae van beendere wat langs die R104 op pad Rustenburg toe gevind is wat moontlik Joey en Anisha s'n is. 

Die sewe beskuldigdes sal na verwagting weer Woensdag voorkom.