Die agt word beskuldig dat hulle Anisha en Joey van Niekerk in Desember 2017 gemartel het voor hulle glo vermoor en hulle lyke verkool is.

Familie het vroeër aan Huisgenoot gesê dat hulle glo die vrouens vermoor is om hulle kleinhoewe in Mooinooi in die hande te kry. 

Sondagmiddag het die beweerde baasbrein in die moorde, *Pieter Brits se 21-jarige vrou, *Valerie, haar oorhandig aan polisie in Rustenburg. A.o Mpeile Talane sê sy staar dieselfde klagte in die gesig as die ander.

“Ons is nog besig met die ondersoek. Op die stadium word al die verdagtes van dieselfde misdade aangekla,” het hy aan Huisgenoot.com gesê. 

Mpeile sê die saak sal na verwagting na die Nood-Gautengse hooggeregshof in Pretoria verskuif word waar die klagte teen die verskillende verdagtes aangepas sal word. 

Die polisie het in Desember menslike bene gekry. Die eerste menslike oorskot was meters van die ‘baasbrein’ se plaas maar Mpeile het dit as ‘oud’ beskryf.

"Ons is besig met 'n ondersoek maar ons weet nog nie of dit aan 'n vermiste persoon behoort nie. Ons wag nog vir die DNS-resultate."

Die ander menslike bene is langs die R104 in die veld op pad Rustenburg toe gevind. Die polisie glo dié weefsel en bene is die van die Van Niekerk-egpaar. Dié stuk veld is volgens bronne deur een van die verdagtes aan die polisie uitgewys.

Die resultate van die DNS-monsters is egter nog nie beskikbaar nie. 

“Ons weet nie of nog mense betrokke is nie. Ons sal, soos die ondersoek ontvou, kyk of daar nog mense betrokke was,” sê Mpeile.

Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om die polisie te kontak sou hulle nog enige inligting het. 

Die saak is tot 18 Januarie 2018 uitgestel in die Brits-landdroshof wanneer borgtog aansoeke na verwagting gehoor sal word. 

*Skuilname word gebruik omdat die verdagtes nog nie gepleit het en hulle klagte van verkragting in die gesig staar.