“Vir twee jaar lank soek ek die perd,” sê sy aan Huisgenoot.com.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Rustenburg het drie perde op die beweerde baasbrein van die Mooinooi-moorde se plaas gekry. “Daar was niemand om na die perde te kyk nie en daar was nie kos of water so ons pas hulle nou op,” sê Louise Du Pisanie van dié tak. 

Malissa het ’n ryskool in Rustenburg gehad maar toe hy sluit het sy Lestadt, haar dogter Amber se perd, op ’n vriendin se plaas laat staan. “Toe ek weer hoor is die perd weg of verkoop. Hulle wou nie vir my sê waarheen nie,” sê sy. “My dogter was baie kwaad vir my so ek het orals in die perde bedryf na hom gesoek.”

Malissa het nooit ’n klag by die polisie oopgemaak nie want sy sê sy het net ’n verbale ooreenkoms met die vriende gehad om tydelik na Lestadt te kyk. 

Verlede jaar het haar dogter op die ouderdom van 16 egter selfmoord gepleeg. “Ek het toe nog harder na LeStadt gesoek,” sê sy.

Amber (16) saam haar ma en boetie, Hanro (toe 15) kort voor haar dood. Foto: Verskaf

Vroeër die week toe kom die oproep van ’n oud-student van haar. Die reun met die kenmerkende wit streep op sy voorkop en wit klossie onder sy bek staan by die DBV.

“Ek het dit nie geglo nie maar toe ek daar aankom toe sien ek dis hy en hy het my onmiddelik herken.” Lestadt, wat op sy dag 'n spog springperd was, is gek na Coca Cola vertel Malissa en in die video sien jy hoe hy die soet koeldrank gulsig drink. 

“Dit was so ’n emosionele oomblik vir my. Al is my dogter nie mee hier het ek hom nou darem gevind”. 

Malissa sê Lestadt het skaafplekke aan sy lyf, is oorgewig van net in die veld wei en loop effens mank. “Hy’s al ’n oupa. Ons kyk nou mooi na hom.

Hy’s al 15 jaar oud maar nou gaan hy lekker aftree,” sê sy. 

Agt verdagtes is vir die moord van Joey en Anisha van Niekerk aangekeer wat 10 Desember verlede jaar vermis geraak het.