Mariandra, ’n begfranisondernemer van Centurion, was hoogswanger toe Justice Sethlangu (39) haar man in Oktober 2016 voor haar en haar oudste dogter vermoor het. Sethlangu het by Mariandra en haar man, Johann, se huis in Kameeldrift, oos van Pretoria, ingebreek voor hy hom ses keer geskiet het.

Die laaste skoot – die een wat Johann se lewe geëis het – was ’n kopskoot.

Maar vandeesweek, byna drie jaar nadat Sethlangu in Junie 2017 in hegtenis geneem is, is hy in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is ’n ekstra 42 jaar tronkstraf opgelê, maar die vonnisse is nie gelyklopend nie.

Die hooggeregshof het beslis Sethlangu is skuldig aan moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en bykomende aanklagte van huisbraak.

Vir Mariandra is dié vonnis ’n verligting, vertel sy Donderdag aan Huisgenoot.

verskaf
Johann en Mariandra saam hulle oudste twee dogters, Mieke en Mischa.

“Dis absoluut fantasties. Die vonnis is ver bo enigiets wat ek verwag het. En ek is dankbaar hy is swaar gestraf. Hoe anders? My man se lewe is geneem,” sê sy.

Dit het lank geneem vir die wonde om te genees, vertel sy. Veral oor die wreedheid van die moord – en omdat sy en haar oudste dogter die moord moes aanskou.

“Dis ironies dat sy naam ‘Justice’ is. Want geen straf sal ooit regverdig wat hy gedoen het nie. In my oë is daar geen straf gelykstaande aan sy wreedheid nie.” 

Die verlange lê die meeste dae nog vlak, sê Mariandra.

“Daar is kort-kort die groot besef: hy kom nie terug nie – nooit nie. En dis seer; dis traumaties . . . Maar ’n mens moet vrede maak. Jy moet heel word. Dis veral met iets soos die inperking dat ’n mens weer besef hoe alleen jy is. Dat daar geen pa is wat kan help met die voorbereiding nie; of iemand wat na die kinders kan kyk nie,” sê sy.

Mariandra het ‘n ondersteuningsgroep vir weduwees
Mariandra het ‘n ondersteuningsgroep vir weduwees begin. Foto: Verskaf

Maar dis haar geloof, sê Mariandra, wat haar nog elke dag deurdra.

“Ek kan vasklou aan die wete dat ons mekaar eendag weer sal sien, maar nie in hierdie lewe nie. En wanneer die verlange allesverterend word; wanneer jy daarin verdrink, dis dán wanneer ek probeer onthou dat dit nie vir ewig is nie.

“Ek weet nog elke dag ons het ons lewe aan hom te danke. Hy het ons beskerm – en deur dit te doen, het hy met sy eie lewe geboet. Ons sou nie hier gewees het as dit nie vir hom was nie. 

“Ons sal deur alles, ons hele lewe lank, hom daarvoor eer. Maar vir nou gaan ons eerste hier nare hoofstuk afsluit.”