Ulrich Roux, bekende strafregprokureur aan die sy van Pieter van der Westhuizen, sê hulle gee in hierdie stadium hulle volle samewerking aan die Suid-Afrikaanse polisiediens.

Pieter (51), broer van die ontslape Springbokkaptein Joost van der Westhuizen, het Sondag na bewering twee gewapende rowers doodgeskiet toe hulle tydens ’n kerkdiens in die Querentia Bediening in Wierdapark, Centurion ingebars en gemeentelede na bewering begin beroof het. ’n Derde rower het op die vlug geslaan.

Ulrich het Maandag aan Huisgenoot gesê die polisie is steeds besig met hul ondersoek.

“Die polisie moet nou eers die ondersoek klaarmaak – soos die uiteensetting van die toneel, die ballistiese toetse van die vuurwapens wat gebruik is, die verklarings van die getuies.

“Die polisie het aangedui hulle sal gedurende die week ook ’n verklaring van my kliënt afneem. Dit is ’n moordondersoek, want mense is dood, maar in hierdie stadium is my kliënt nog van niks aangekla nie.

Foto verskaf.
Foto verskaf.

“Ons sal natuurlik aanvoer my kliënt het uit selfverdediging opgetree. Een van die rowers het ’n vuurwapen teen die pastoor se kop gehou. Hulle het ook skote afgevuur,” sê Ulrich.

Pieter het glo voor in die kerk gesit toe die rowers inbars en na bewering met sy eie gelisensieerde vuurwapen gereageer.

Past. Kobus Erasmus, teen wie se kop een van die rowers na bewering die vuurwapen gehou het, het vroeër aan Huisgenoot gesê ondanks talle skote wat na bewering deur die rowers geskiet is, is niemand anders beseer nie.

“Pieter het opgetree om my en die res van die gemeente te beskerm. Dis al,” het hy oor Pieter se handeling in die kerk gesê