Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag ná weke se navrae, die oorsaak van Natasha (41) se dood aan Huisgenoot bevestig.

Natasha se lyk is op 13 Junie op die hoewe in Castenlaan in Groenvlei gevind waar sy saam met haar kêrel, die sakeman en ontwikkelaar Dennis Casten (48), gewoon het.

Natasha is sowat twee weke lank vermis voor Casten na bewering toevallig op haar lyk op die hoewe afgekom het onder ’n doringboom in die kampie waar sy haar springbokkies aangehou het. Hy het vroeër teenoor die polisie beweer sy het met haar vermoorde dogter, Noeline Koekemoer (15), se as en sy .357-rewolwer “weggeraak”.

Tweede vuurwapen?

Aangesien Natasha se lyk yskoud was en nog glad nie ontbind het nie, het die polisie onmiddellik onraad vermoed. Dit sou later blyk sy is ook nie geskiet met die rewolwer wat langs haar lyk gekry is nie. Noeline se as is ook eindelik wel in die huis gekry.

Mbambo het bevestig die lykskouingsverslag toon daar was wel ’n uitgangswond aan die agterkant van haar liggaam. Sy het ook beserings onder haar arm gehad en bloed is in haar bors gevind.

Mbambo het ook bevestig niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

Noeline Koekemoer
  • Huisgenoot het vroeër berig Noeline is op 7 April 2016 in die naburige Bainsvlei wreed verkrag en vermoor.
  • Natasha, ’n ma van drie wat destyds as hoof van die skoonmaakdienste in die plaaslike winkelsentrum Mimosa Mall gewerk het, het ná werk op haar oudste kind se lyk afgekom.
  • Casten het haar toe tydens die trauma ondersteun en hulle het daarna ’n liefdesverhouding ontwikkel en het sy by hom ingetrek.
  • Moses Maoka (36), wat op ’n kol as tuinier gewerk het op die hoewe, waar die ma en dogter toe gewoon het, is daardie Desember twee keer lewenslange tronkstraf opgelê.

Vriende en familie het aan Huisgenoot gesê hoewel die moord op haar dogter ’n bitter pil was, het sy haar kind se dood verwerk en was sy die laaste paar jaar “baie gelukkig”.