Nicky Verstappen het op 10 Augustus 1998 met ’n skooluitstappie na Brunsummerheide vermis geraak en die jong seun se lyk is die volgende dag gekry. Hy is destyds ook verkrag, maar behalwe DNS-monsters en ’n sneesdoekie met sperm wat naby sy liggaam gekry is, het die polisie min leidrade gehad.

Maar dit was 1998 en DNS-tegnologie was toe nog nie so ver gevorderd soos deesdae nie.

'Net nuuskierig'

’n Man wat op die dag van die gruvonds met ’n fiets verby die moordtoneel gery het, het in daardie stadium nie veel aandag getrek nie.

Die polisie het gedink Jos Brech is bloot nuuskierig. Hy het immers ontken hy weet enigiets van Nicky. Hy het in daardie stadium sowat 13 km verder by sy ma gewoon. 

In 2001 is Jos weer ondervra toe Nicky se moord vir ’n tweede keer ondersoek is, maar niks het daarvan gekom nie.

DNS-toetse

In 2012 het die wet in Nederland so verander dat familielede se DNS ingespan kon word om verdagtes mee te identifiseer en toe Jos (nou 55) in Oktober 2017 verdwyn na hy vir sy familie gesê het hy gaan op ’n bergklim-avontuur, het dit die polisie se aandag opnuut op hom gevestig.

Omdat die polisie die DNS wat destyds by Nicky se lyk gekry is, met dié van Jos se familie kon vergelyk, het hulle bevind dit is moontlik dat Jos wel vir Nicky in 1998 kon vermoor het.

Jos se naam het op Europol se lys van mees gesoekte mense verskyn en ’n Europese lasbrief is op 12 Julie vir sy inhegtenisname uitgereik.

In ’n stadium het die polisie geglo Jos is dood na 'n uitgebreide soektog na hom in die berge van Vosges, Frankryk, waar sy DNS gekry is, niks opgelewer het nie.

Wenke van die publiek het gesorg dat Jos eindelik Woensdag in ’n woud digby Barcelona, die groot Spaanse kusstad, vasgetrek is. Hier het hy na bewering sedert Mei in 'n kommune gebly.

'Geen rus'

“Ons sou graag antwoorde wou kry. Terselfdertyd is ons bang om uit te vind wat gebeur het. Maar ons moet, anders bly jy daaroor dink en dit bied jou geen rus nie,” het ’n emosionele Berthie Verstappen, Nicky se ma, op ’n mediakonferensie na Jos se inhegtenisname gesê.

Sy het Peter de Vries, ’n Nederlandse misdaadverslaggewer, bedank vir sy volgehoue belangstelling in Nicky se moord en sê sonder hom sou daar geen vordering in die saak gewees het nie.

Bronne: mercurynews.com, theguardian.com, nltimes.nl, app.nos.nl, washingtonpost.com, dailymail.co.uk