Natalie Bollinger se lyk is verlede jaar op 29 Desember in ’n beboste deel van ’n melkplaas naby Broomfield gevind, het The Daily Beast berig.

Natalie se kêrel het haar die vorige dag as vermis aangemeld. Sy vuurwapen was ook weg.

Joseph Michael Lopez, wat by ’n plaaslike pizzarestaurant werk, is verlede week in hegtenis geneem.

’n Nadoodse verslag het bevestig Natalie is een keer in die kop geskiet. Sy het ook glo ’n hoë dosis heroïen in haar sisteem gehad, het die nuuswebblad The Denver Channel berig. Sy het 'n geskiedenis van dwelmmisbruik.

Volgens Joseph het hy in Desember op ’n advertensie afgekom wat deur die tiener op Craigslist, ’n kleinadvertensiewebtuiste, gepubliseer is.

Die advertensie is glo in die “Vroue soek mans”-afdeling gepubliseer, en Natalie het glo gesê sy soek na iemand wat haar kan doodmaak.

Joseph het Natalie toe gekontak en gemaak asof hy ’n huurmoordenaar is.

CBS News berig Joseph het Natalie op 28 Desember by haar woonstel opgelaai. Voor hul ontmoeting het hulle glo deur selfoonboodskappe gekommunikeer.

Volgens hom het hy haar probeer oortuig om van plan te verander, maar sy wou niks weet nie. Sy wou glo haar lewe beëindig omdat sy “kwessies met haar kêrel” gehad het. Hulle het egter rondgery en bespreek hoe sy hom gaan betaal.

Natalie het glo self die vuurwapen verskaf waarmee sy geskiet is.

Joseph het ná sy inhegtenisneming eers ontken hy het die tiener geskiet en gesê hy het haar weer by haar woonstel afgelaai. Maar die polisie het deur middel van GPS-koördinate bevestig Joseph was wel op die toneel.

Hy het daarna erken hy het Natalie geskiet nadat hulle eers saam gebid het.

Joseph is steeds in aanhouding en die ondersoek duur voort, het 'n beampte aan CBS News gesê.

Bronne: CBS News, The Denver Channel, The Daily Beast