Nege jaar gelede was Karen Swanepoel die enigste o
Nege jaar gelede was Karen Swanepoel die enigste oorlewende in ’n ongeluk wat haar man en twee kinders se lewe geëis het. Vandag is sy weer getroud – met André – en die ma van ’n tweeling, Desiré en Reynard. Foto: La'Anne Photography

Moenie toelaat dat die oulike tweeling jou flous nie – daardie laggies verander blitsig in ’n geneul en huilery om jou ore, waarsku hul ma kamma kwaai.

Maar in ’n oogwink vermurwe Karen Swanepoel weer toe sy vertel hoe wonderlik dit is om “Mamma” genoem te word. “Is dit nie die mooiste naam nie? Dit laat my smelt, elke liewe keer.”

Want al beproef Reynard en Desiré (2) haar soms tot die uiterste, is hulle haar grootste seën. “Ek het nou meer geduld – dalk heeltemal te veel vir die klein rakkertjies,” sê sy.

Die tweeling is deel van ’n wonderlike nuwe hoofstuk vir Karen nadat haar lewe nege jaar gelede weens ’n motorongeluk op die N1 tussen Ventersburg en Winburg aan skerwe gespat het. Karen het lewend uit die wrak gekom, maar haar man, Schalk (39), en hul kinders, Jea­nelle (5) en Juan (2), is dood.

“Ek weet hoe seer dit is om te hunker na sulke klein, warm lyfies. Ek onthou presies hoe dit voel om ’n mamma in jou hart te wees, maar om nie kinders te hê op wie jy jou liefde kan uitstort nie.”

Vyf jaar gelede het sy nuwe liefde gevind by André (49) en weer getrou.

Maar sy het lank gewag op ’n nuwe kinderlyfie. “Ses jaar lank het die liefde wat ek eens aan my kinders gegee het soos branders op droë sand gebreek.”

Sy sal altyd na haar verlore gesin verlang, want die seer is blywend. Tog loop haar hart weer oor van geluk en haar lewe voel weer heel nadat Reynard en Desiré in 2018 gebore is.

“Daar is nie een dag wat ek nie in verwondering na hulle kyk nie. Ek het gedink my kans is verspeel; dat ek nooit weer soveel vreugde sou ervaar nie,” sê sy oor die tweeling.

Karen se destydse man, Schalk, saam met klein Juan
Karen se destydse man, Schalk, saam met klein Juan en Jeanelle wat in 2012 dood is. Foto: Verskaf

“Nou besef ek elke dag opnuut dat hulle die vergestalting van genade is.”

Sy het nie die vrese van nuwe ma’s ervaar toe die tweeling gebore is nie; sy is mos algekonfyt, het Karen destyds geglo.

“Maar laat ek vir jou ’n ding vertel, hierdie tweetjies het vir my ’n les kom leer,” vertel Karen (nou 45) vanuit die gesinshuis op Mosselbaai.

Watter les?

“Dat jy as ouer nooit moet dink jy is in beheer nie. Hulle draai my elke liewe dag om hul pinkie. O, en hulle is ’n handvol. Dis ’n ander ball game.”

Karen, ’n dieetkundige, en André, wat ’n skuldinvorderingsonderneming bedryf, het ’n strategie bedink: Huil boetie snags, staan Pa op. Huil sussie, is dit Ma se beurt.

“Maar hulle wou dit nie so hê nie,” sê Karen en lag. Kort voor lank was Reynard haar verantwoordelikheid, en Desiré haar pa s’n.

“Dit moet ek erken: Hulle het beter as ons gekies. Ek en boetie het soortgelyke persoonlikhede. Hy is fisiek besig, maar het ’n rustige siel. En hy’s lief vir slaap, nes sy ma.”

En sussie?

“Sy’s ’n waaghals, nes haar pa. Boetie is nog versigtig op die swaai, maar sy kan eenvoudig nie hoog genoeg en lank genoeg swaai nie. André het juis valskerm gespring in sy jonger dae. En sy is soggens altyd eerste wakker.”

Die tweeling hou hulle op hul tone, sê hul ma. Fot
Die tweeling hou hulle op hul tone, sê hul ma. Foto: La'Anne Photography

Sy kan kwalik haar geluk glo, sê Karen weer. “Die seer gaan nooit weg nie. Jy dra dit elke dag saam met jou. Maar eendag wanneer jy dit die minste verwag, leer jy weer om te leef en om die lewe te waardeer.”

In daardie verskriklike botsing op 10 Januarie 2012 is Schalk en Jeanelle op die toneel dood, en klein Juan kort daarna in die hospitaal.

Karen was 10 dae lank onder verdowing voor ’n hospitaalsielkundige haar die nuus vertel het.

Sy het nie toe gedink sy sal ooit weer ma kan wees nie. “Ek was bang ek sou hulle verraai as ek weer kinders het.”

Maar die leemte in haar hart wou nie verdwyn nie. In 2014 het sy en André mekaar by ’n restaurant op Mosselbaai ontmoet. Die liefde het geblom, en albei wou kinders hê.

“Sy seun, Nandré, was ’n jaar oud toe hy van sy eerste vrou geskei is. Hy was nie daar vir elke oomblik om sy seun te sien grootword nie, en hy wou dit ervaar. En ek het weer ’n kinderlyfie teen my bors begeer.”

Nandré (18) woon nou saam met Karen en André op Mosselbaai.

André en Karen is in 2015 getroud. By hulle en die
André en Karen is in 2015 getroud. By hulle en die tweeling is Nandré, haar man se seun uit sy eerste huwelik, wat ook by hulle op Mosselbaai bly. Foto: La'Anne Photography

Ná Reynard en Desiré se geboorte was sy soms in twee geskeur.

“Joeg, ek het vir so lank gehunker om net weer ’n kinderstemmetjie in die huis te hoor. Maar ek was bang dat ek my oorlede kinders verraai, al klink dit ook hoe vreemd,” vertel Karen.

Sy voel nie meer so nie.

“Die tweeling is soveel anders. En hul persoonlikhede verskil soos dag en nag van dié van Juan en Jeanelle.”

Dit is vir haar belangrik om nie die tweeling met haar eerste kinders te vergelyk nie.

“Daar is natuurlik dae wanneer ek verlang. Soos wanneer ’n vriendin met kinders kom kuier en ek skielik dink hoe groot my kinders al sou gewees het. En op verjaardae, Moedersdag, en die herdenking van die ongeluk.”

Ten spyte van haar verlange soek sy nooit na Juan en Jeanelle in die tweeling nie.

“Reynard en Desiré is twee mensies uit eie reg, en dit sal nie reg wees om ’n stempel op hulle af te druk nie,” sê Karen. “Want eintlik is hulle twee ook mos net vir my geleen.”

Dis g’n grap om op 45 na die tweetjies om te sien nie.  “Maar ek sal hul besige lyfies vir niks verruil nie,” sê Karen. Sy het gedink sy sal die rustiger lewe geniet toe Reynard en Desiré onlangs kleuterskool toe is. Maar dis niks lekker as hulle selfs net ’n halfdag weg is nie.

“Jy sal my nie glo as ek vir jou sê hoe gaande hulle daaroor is om hul ouers te tart nie. Ons kan hulle nie soggens of ná badtyd aantrek nie. Hulle hol die huis vol. Nou het ek al ’n plan. Ek vang eers die een en druk ’n borsel deur sy of haar hare, en dan die ander. Dan hol ek weer en vang een om aan te trek, en so aan.”

God het my weer laat leef, en eendag sal ek moet rekenskap gee oor wat ek met my tweede lewe gedoen het.

Dit bring vir haar groot genot om te sien hoe André pa-wees geniet.

“Hy bad hulle, ruil doeke en doen pappa-pligte. Dis vir hom lekker om net pa te wees.”

Karen het onlangs ’n boek, Ek sal weer ’n loflied sing, geskryf oor haar pad ná haar verlies.

“Ag, dit was maar ongelooflik moeilik om al daardie dinge weer van voor af te moet ervaar, maar ek wou skryf oor die gereedskap wat my deur die donker tyd in my lewe gedra het. Dis in wese my verhaal van hoe ek gesoek het na antwoorde oor hoekom juis ék oorleef het. Daarmee wil ek ander hoop gee.”

Dis die klein dingetjies wat nou vreugde bring. Soveel seer het haar laat besef dat sy elke dag moet aangryp. Dié dat sy ’n tweede boek vir 2021 beplan. “Ek kan nie veel verklap nie. Die punt is: God het my weer laat leef, en eendag sal ek moet rekenskap gee oor wat ek met my tweede lewe gedoen het.”

Beskikbaar by marleo.co.za
Beskikbaar by marleo.co.za
  • Ek sal weer ’n loflied sing word deur Mar-Leo-uitgewers uitgegee en is by marleo.co.za beskikbaar. Die boek kos R170, aflewerings­koste uitgesluit.