“Dit kan op 13 gebeur. Wat weet ’n kind van daardie ouderdom van dinge soos seks,” voeg sy in trane by. Die rou seer is hoorbaar in haar stem.

Dit is agt jaar sedert Kennodene met haar dogter gepraat het.

Sy wens sy kon net op ’n vliegtuig klim en haar dogter gaan haal. “As jy geld het, kan jy baie dinge regkry,” meen sy. “Ek het nie die geld nie.”

Boonop weet sy in elk geval nie waar Amiera en haar pa, Alaa, hulle in Noord-Afrika bevind nie.

Die laaste ding wat Kennodene sou kon raai toe die tweejarige Amiera in 2011 saam met haar man, Alaa, in Egipte by familie sou gaan kuier, is dat sy tot vandag toe nie na Suid-Afrika teruggekeer het nie.

Amiera,Egipte,ontvoer,pa
Die mees onlangse foto wat Kennodene Shalwa-Levendal van haar sewejarige dogter, Amiera, het. Foto: Verskaf
Die mees onlangse foto wat Kennodene Shalwa-Levend
Nog 'n onlangse foto van Amiera Shalwa.

Op 6 Julie 2011 het sy die laaste keer met haar spruit oor die telefoon gepraat. “Sy het gelag van opgewondenheid toe sy my stem hoor,” onthou Kennodene hartseer. “Haar laaste woorde aan my was nog in Arabies: 'Kom mammie, kom na my toe'. Ek koester dit sedertdien.”

Maar op 7 Julie 2011 kry sy die skokkende nuus van Alaa dat Amiera onder ’n vragmotor beland het en dood is. Hy het die vragmotorbestuurder glo gekonfronteer en met ’n mes doodgesteek, het Alaa glo vanuit 'n "tronk" aan Kennodene vertel.

'n Dag later, moes Kennodene nog ’n skok verwerk dat Amiera boonop, volgens die Moslem-gebruik, reeds begrawe is.

Amiera Shalwa,ontvoer,Egipte,pa
Amiera toe sy nog op Mosselbaai was. Foto: Verskaf

“Asseblief stuur net vir my ’n foto van die graffie,” het sy by Alaa en sy vriende in die sosiale media gesmeek. Hy het glo belowe dat hy met Amiera se doodsertifikaat na Suid-Afrika sou terugkeer.

Vier maande lank het sy en hy oor die foon gesels, tot ’n niggie van Kennodene in Nederland, Yvette Boeijenga, by die Suid-Afrikaanse owerhede vasgestel het dat hul Egiptiese eweknieë nie ’n doodsertifikaat vir Amiera kon opspoor nie. Inteendeel, hulle het bevestig dat Amiera Egipte wel binnegegaan het en dit nog nooit verlaat het nie. Daar was geen bewys van haar dood nie.

“Ek was verslae. Hoekom sal hy sulke verskriklike leuens versprei,” vra Kennodene.

Intussen probeer Egiptenaar-vriende om haar te help. Die onderhandelingsproses om Amiera terug te kry in Suid-Afrika word bemoeilik deur die feit dat Egipte nie soos Suid-Afrika die Verenigde Nasies se Den Haag-konvensie onderteken het nie. Hierdie verdrag is onder meer in plek gestel om kinders spoedig na hul tuislande te laat terugkeer in gevalle waar die kind wederregtelik deur ’n ander ouer weggevat is.

Kennodene het by Facebook-vriende en familielede van haar man gepleit om haar te help om ’n meer onlangse foto van haar dogter te kry. “Ek loop soos ’n zombie rond weens die rou oor my kind wat nog lewe, maar vir wie ek nie ’n drukkie kan gee nie.”

Al die jare se gesmeek het verlede jaar, op 12 Junie, vrugte afgewerp. 'n Oom van Amiera het op dié dag stilletjies vir Kennodene ’n foto van Amiera gestuur. Tog kon Kennodene nog nie met haar dogter kontak maak nie.

Die lys van waar sy al oral gaan aanklop het om haar dogter op te spoor, is elle lank: die Egiptiese ambassade in Pretoria, binnelandse sake, buitelandse sake, Interpol . . . Sy wag nog op antwoorde.

Amiera Shalwa,ontvoer,Egipte,pa
Kennodene Shalwa-Levendal. Foto: Facebook

“Intussen wil ek vir ander ma’s wie se kinders weg is ’n inspirasie wees dat jy nooit moet ophou veg om hulle te probeer terugkry nie.”

Haar storie was al in talle tydskrifte en koerante sowel as op die TV-program Fokus.

“Is daar iemand wat kan help?” vra sy. “Ek dink dit gaan nog lank wees voor ek my trane sal kan afdroog.”

Esktra bron: mosselbayadvertiser.com