“Ons kan ons oë nie van mekaar af hou nie,” vertel Paul van die kusdorp Mosselbaai, aan Huisgenoot

“Sy los my nie een oomblik alleen nie; Jessica volg my oral.”

Paul, ’n oudmynwerker, het "ware liefde" gevind toe hy besluit het om die aand van sy 72ste verjaardag as deel van ’n drie dag lange slaapmarathon in die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se hondehokke in George te oornag.

Jessica, die vyfjarige bruin-swart-en-wit mopshond-kruising het sy hart onmiddellik gesteel. 

"Dit was liefde met eerste oogopslag," vertel Paul toe hy vir Jessica by die DBV in George gesien het. Foto: Verskaf

“Dit was liefde met die eerste oogopslag,” vertel Paul en lag. 

As deel van ’n plaaslike geldinsamelingsprojek het die Tuinroete se DBV drie aande gereël waar 20 mense, waaronder raadslede van Mosselbaai, plaaslike sakelui en ander vrywilligers in die hondehokke sou oornag.

Hulle het hul eie opblaasmatrasse en beddegoed saamgeneem en ook ter viering van Paul se 72ste verjaardag  bewustheid geskep vir oor die 180 hawelose honde en 30 katte wat daar gelos is.

Gereed met sy matras om vir drie aande in die DBV
Gereed met sy matras om vir drie aande in die DBV se hokke te slaap ter viering van sy 72ste verjaardag. Foto: Verskaf

Louis Stuwig, operasionele bestuurder van die DBV, sê hul hokke is vol en dat meer as 100 mense sedert April vanjaar om verskillende redes hul eens geliefde troeteldiere by hulle kom aflaai het.

Een van daardie honde was Jessica, die vyfjarige mopshond-kruising wat aan ’n bejaarde vrou behoort het. Maar omdat die eienaar na ’n ouetehuis moes verhuis waar geen troeteldiere toegelaat word nie, moes sy noodgedwonge haar enigste kameraad by die DBV aflaai. 

Dit was nie lank op Paul se 72ste verjaardag op 21 Mei voor Jessica sy hart deur die ogiesdraad gesteel het nie. 

Op pad na haar nuwe huis. Jessica en Paul is op pad na sy huis. Foto: Verskaf
Op pad na haar nuwe huis. Jessica en Paul is op pad na sy huis. Foto: Verskaf

“Mense het gereeld vir my gevra of ek nie daardie aande in die hokke koud gekry het nie, maar wie kan koud kry as hulle met ’n verwarmer op hul bors slaap? Jessica het my elke aand warm gehou en op my bors aan die slaap geraak.”

Jessica by haar nuwe huis. Die oggend na die slaap
Jessica by haar nuwe huis. Die oggend ná die slaapmarathon staan Paul by sy huis op Mosselbaai met Jessica in sy arms. Foto: Verskaf

Die twee se band het sommer gou sterker geword en aan die einde van die drie dae was dit onmoontlik vir Paul om Jessica in die hokke agter te laat. 

Hy het haar dadelik aangeneem en na sy huis geneem.

“Sy was ’n hondjie wat geen heenkome gehad het nie. Nou is sy deel van my huis en deel van my gesin en ek is sommer baie lief vir haar,” vertel Paul. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe