Rozaan November is enkele dae nadat haar tweeling,
Rozaan November is enkele dae nadat haar tweeling, Riley en Reece, gebore is, weens covid-19-verwante oorsake oorlede. Foto: Verskaf.

“Om eerlik te wees, ek gaan slaap met daardie seer en ek staan daarmee op. Dit is nie iets wat maklik verbygaan nie. Ek is nog in rou,” vertel Rosemary Plaatjies (58) aan Huisgenoot.

Rozaan Gelderbloem November (37), Rosemary se oudste van drie dogters, het op 29 Desember aan tweelingseuntjies, Rylie en Reece, die lewe geskenk. ’n Paar dae later, op 9 Januarie, is sy weens covid-verwante oorsake in die George-hospitaal oorlede. 

Die tweetjies by ouma Rosemary Plaatjies. Foto: Verskaf.
Die tweeling in die hospitaal.
Die tweeling in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Die tweeling, wat eintlik eers op 22 Februarie hul opwagting moes maak, is tydens ’n noodkeisersnee gebore.

Rosemary, ’n huishulp, vertel dat sy geskok was om uit te vind Rozaan het covid-19 opgedoen.

“Drie dae nadat sy in die hospitaal was, het sy vir my gesê: ‘Mammie, hulle het my vandag getoets en ek het covid,’” onthou Rosemary.

Sowat twee weke voor Rozaan se dood, is haar pa, wat in Kaapstad gewoon het, dood. Haar skoonpa is oorlede terwyl Rozaan in die hospitaal was.

“Rozaan se pa is die 19de Desember oorlede en hulle vermoed hy het covid gehad. Haar skoonpa is weens covid oorlede terwyl Rozaan in die hospitaal was,” verduidelik Rosemary. 

Rozaan se ander drie kinders saam met Riaan. Links
Rozaan se ander drie kinders saam met Riaan. Links is Abigail, regs is Rezandre en voor is Taylor. Foto: Verskaf.

Rozaan, wat ook drie kinders uit vorige verhoudings gehad het, is op 7 November verlede haar met Riaan November (36) getroud. Riaan het ná die bruilof by Rozaan se huis ingetrek, waar sy op Rosemary se erf in die woonbuurt D’Almeida op Mosselbaai gewoon het.

“Riaan woon nou nog hier, want hy voel hy gaan my nie so alleen los met die kinders nie,” vertel Rosemary.

Riaan en Rozaan op hul troudag.
Riaan en Rozaan op hul troudag. Foto: Verskaf.
Flip November en Jonathan Sapto saam met hul dogte
Flip November en Jonathan Sapto saam met hul dogter en seun op dié se troudag. Flip, Jonathan en Rozaan is binne drie weke van mekaar oorlede. Foto: Verskaf.

“Rozaan was so opgewonde oor die kleintjies se koms, want dit is die eerste tweeling in ons familie. Maar in Riaan se familie is hulle die 16de tweelingpaar,” vertel Rosemary.

Dit is veral Rozaan se oudste, Abigail (18), wat gereeld handjie moet bysit met die tweeling.

Klein Reece.
Klein Reece. Foto: Verskaf.
Reece November in die hospitaal.
Reece November in die hospitaal. Foto: Verskaf.

“Terwyl ek werk, hou Abigail toesig oor die kinders en sy kyk baie mooi na hulle,” vertel Rozaan. “Daardie kinders is Abigail se alles. Sy wil hulle nie eens ’n minuut alleen laat nie,” lag sy.

Al lê die seer nog vlak, vind Rosemary darem vertroosting in klein Reece en Rylie se teenwoordigheid.

Klein Riley.
Klein Riley. Foto: Verskaf.
Riley November in die hospitaal.
Riley November in die hospitaal. Foto: Verskaf.

“Hulle herinner my aan hul ma. Kyk, hulle is nou drie weke oud, maar hulle herken my stem en reageer wanneer ek met hulle praat, en dit bring vrede in my hart,” vertel Rosemary.

“Dit is al troos wat ek nou het.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe