Trevor en Elma Davis is Sondag laatmiddag dood toe Trevor sy vrou, ’n Protearolbalspeler, in hul woonkompleks in Mosselbaai doodgeskiet het voor hy die vuurwapen op homself gerig het.

"Ek kan eenvoudig nie glo dat so iets gebeur het nie,” voeg Jenny by.

“Hy was so ’n sagte, vredeliewende mens,” vertel 'n jarelange vriendin wat naamloos wil bly. “Dis 'n aaklige ding wat gebeur het. Dis baie sleg. Niks wat enigiemand gaan sê, gaan hulle terugbring nie,” sê die vrou.

“Elma was ’n baie goeie skip en kon mense hanteer en die beste in hul uitbring op die baan.

"’n Skip is amper soos ’n kaptein in die span, saam met die leier," verduidelik die vriendin verder. "Sy moet haar spelers kan lees en raadgee en ook die opposisie dophou.”

Ook die Mosselbaaise rolbalklub is in rou gedompel ná die paartjie se dood. “Dit was vir ons ’n geweldige skok. Hulle het drie geliefde yorkies gehad waarna Elma se ma nou moet omsien by haar huis op Mosselbaai,” vertel 'n ander klublid.

“Hy was ’n groot gentleman en het altyd perfek teenoor my opgetree,” vertel die vriendin. "Hy het als geweet van rolbal en baie hard geoefen. Niemand in Suid-Afrika het meer vir die sport gedoen nie,” meen die vriendin. Sy vertel Trevor het selfs gehelp om die dik internasionale reëlboek saam te stel.

Elma sou nou in Mei aan die Wêreldkampioenskap in Wallis deelneem, vertel Jenny. “Sy het gelewe vir die sport.”

“Wat my betref, was hulle altyd goed en lief vir mekaar. Hy het hard gewerk en ook ’n onderneming in Bloemfontein gehad,” vertel sy verder. “Daar gaan nou allerhande gissinge wees oor hy depressief was, maar ek het dit nooit so beleef nie."

Van die groot rolbalgeesdriftige se laaste inskrywings op Facebook lui: "My ouderdom pla my nie, maar wel die newe-effekte," en "Just because you are struggling does not mean you’re failing," en "Evaluate the people in you life; then promote, demote, or terminate. You are the CEO of your life."