Een van sy seuns, Martin (29) sê sy pa was op Donderdag, 8 Augustus, besig om by sy huis op die plaas sonpanele op ’n dak skoon te maak, toe die fratsongeluk gebeur.

“Die plank waarop hy gestaan het het meegegee en hy val toe tot in die leë sementswembad. Ek het my susterskinders hoor gil en uitgehardloop soontoe,” vertel hy.

Sy pa was by sy bewussyn maar in vreeslike pyn. Hy en sy ouer broer het al sukkelend hul pa tot op die rand van die swembad en in die kar gekry en met hom na die Mediclinic Ermelo-hospitaal toe gejaag.

Martin snr. se vrou, Loretta (54), sê haar man het sy linkerenkel vergruis, sy linkerarm is so erg gebreek dat die bene deur die vel gesteek het, van sy ribbe is gebreek en sy bekkenbeen is gekraak.

“Ek wil nooit weer aan daai dag dink nie. Dit was verskriklik. Ek het gedink ek verloor hom. Die groot man van my het gehuil van die pyn, maar dit was nie sy tyd nie,” het Loretta Maandag aan Huisgenoot vertel.

Foto: Verskaf
Dis 'n wonderwerk dat Martin Muller nog leef. Foto: Verskaf

“Dit is ’n wonderwerk dat hy dit oorleef het. Ons dank die Here,” sê sy.

Martin is oorgeplaas na die Netcare Linmed hospitaal in Benoni waar hy al twee operasies ondergaan het.

“Hulle het penne in sy hand gesit en wou sy enkel ook herstel, maar sy bloeddruk was te hoog so hulle gaan weer later moet probeer om dit te herstel,” sê sy.

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en moes geld bymekaar skraap om vir Martin se behandeling in ’n private hospitaal  tot dusver te betaal.

“Ek en Martin bly nou by familie van ons hier in Benoni. Hy is ontslaan omdat ons probeer om die kostes laag te hou. Hy het verskriklike pyn gehad, maar hy voel al bietjie beter.”

Loretta sê hy gaan dan later die maand terug Linmed hospitaal toe sodat hulle die operasie aan sy enkel kan doen.

’n Trust word behartig deur POK-prokereurs in Ermelo om te help met Martin se mediese uitgawes