’n Lewe kan in ’n oogwink verander.

Presies twee jaar gelede, toe Marietjie Vosloo haar goedjies pak om saam met haar gesin op Mauritius vakansie te hou, was sy een mens. Vandag, 24 lang maande later, is sy iemand anders.

Toe sy destyds op pad na die lughawe die voordeur van haar ruim drieslaapkamerhuis in Margate, KwaZulu-Natal, agter haar toetrek, het sy gestap uit die vrolike gewoel van ’n huis vol kinderdinge; dié van haar seuntjie en sy halfbroer en -suster, Mundolene.

Mundolene was ’n tiener en soms moeilik. Die enigste dogter van haar pa, Marietjie se man, Mike. Toe Marietjie daardie dag saam met haar gesin lughawe toe ry, was sy en Mike nog getroud; gelukkig, al was daar soms krake nes in enige ander huwelik.

Mundolene en haar pa, Mike Vosloo Foto: Verskaf

Maar ’n dag later, op 5 Oktober 2016, het alles verander toe sy haar hand vir Mundolene (toe 17) lig en haar tydens ’n onderonsie in die hotelgang van ’n luukse oord in die eilandparadys deur die gesig klap. Haar stiefdogter het neergeslaan – dood.

Marietjie (nou 35) se lewe het op daardie oomblik inmekaargetuimel. Daarna was niks ooit weer dieselfde nie.

Ná die dood van haar stiefdogter is sy in hegtenis geneem en in die streekhof in Port Louis, die hoofstad van Mauritius, verhoor. Agttien lang maande was sy in die tronk.

Sy het op ’n dun matras geslaap en van brood geleef. Met haar seuntjie, haar enigste kind, kon sy net soms oor Skype praat. Sy het gehuil, gebid en gewag.

En toe, oplaas, word sy in April vanjaar vrygelaat nadat die nadoodse ondersoek op Mundolene getoon het sy is dood weens bloeding op die brein, wat veroorsaak kon word deur enige harde stamp voor haar dood of deur ’n aneurisme.

‘Jy moet so hard soos ek val om rêrig jou lewe te verander’

Marietjie kon terugkeer na Suid-Afrika; huis toe. Maar “huis” sal nooit weer wees wat dit was nie.

Die Marietjie wat twee jaar gelede na Mauritius gereis het, is weg.

Maar ook die een wat vyf maande gelede met haar terugkoms op Johannesburg se O.R. Tambo-lughawe bang en onseker van die vliegtuig afgeklim het ná haar tronkontbering op Mauritius.

Marietjie kom op 4 April op die O.R. Tambo-­lughawe aan nadat sy 18 maande agter tralies op Mauritius deurgebring het. Die hof het haar eindelik net aan aanranding skuldig bevind. Foto: Rowyn Lombard

Die nuwe Marietjie, die een wat ons by haar woonstel in Rustenburg verwelkom, lyk gesond en haar hare is ’n sagte rooi gekleur. Sy lyk kalm, so amper asof ’n donker wolk oor haar gewyk het en sy ligter deur die lewe gaan.

Kom in, sê sy, sit. En dan: “Kyk, ek het altyd gesê ’n mens moet val om te leer, maar ek kan vandag met ’n eerlike hart sê: Jy moet so hard soos ek val om rêrig jou lewe te verander.”

Sy is nie bitter oor daardie 18 maande in die tronk nie, vertel sy. “Ek sal elke dag van my lewe skuldig voel dat ek my hand vir Mundolene gelig het. Maar die Here het daar in die tronk in Eksodus vir my gewys: As jy iemand slaan en jy het nie bedoel om daardie persoon dood te slaan nie, sal Hy ’n weg vir jou maak.”

’n Nuwe weg is presies wat sy die afgelope maande vir haarself moes baan, want die dag van haar terugkeer na Suid-Afrika moes sy hoor Mike wil van haar skei.

Sy sal nie weer na hul gesinshuis op Margate kan terugtrek nie. Al is hulle nou vervreem, help Mike haar nog geldelik, vertel Marietjie hier in die karig gemeubileerde tweeslaapkamerwoonstel wat sy huur.

Teen die muur is foto’s van haar seun (nou 13) uit haar huwelik met Mike. Sy het haar kind einde Mei laas gesien, vertel sy.

“Ek moes aanvaar ek sal nou nie meer my kind elke dag by my hê nie en dat ek op my eie gaan wees. In die gevangenis het ek darem nog mense om my gehad.”

Dan, met die gelate aanvaarding van iemand wat weet sy kan haar nie teen haar lot verset nie, sê sy: “Ek is dit darem nou eindelik gewoond.”

Toe Marietjie op 2 April op Mauritius skuldig bevind word aan aanranding, is sy tot 15 maande tronkstraf gevonnis. Maar sy was toe reeds 18 maande lank agter tralies; dus is sy op dieselfde dag vrygelaat.

Twee dae later was sy terug in Suid-Afrika. Nou vertel sy: “Ek is nie spyt oor die ruk wat ek langer gesit het nie, want daardie drie maande het my geleer oor die mensdom, watter mens ek wil wees en hoe ek my lewe wil verander.”

Sy leef deesdae in dankbaarheid omdat sy so lank so min gehad het en so moeilik moes leef. “Ek is steeds met tye hartseer. Ek het ook ’n kind verloor, want Mundolene was soos ’n eie dogter. Ek het my man verloor, en die feit dat ek nie elke dag by my seun kan wees nie, is so goed ek het hom ook verloor. Ek loop baie van sy lewe mis.”

Sy kwel haar ook oor hoe Mike en Mariska, Mundolene se ma, en die tienerseun uit hul huwelik “deur elke dag kom”.

“Hulle het ook baie verloor.”

Marietjie saam met (van links) haar seun, wyle Mundolene en haar vervreemde man, Mike. Haar seun is nou 13 jaar oud. Sy het hom in Mei vanjaar laas gesien. Foto: Verskaf

Mike en Mariska se seun (nou 15) was ook saam op die eilandvakansie. Sedert Mundolene se dood woon hy en Marietjie se seun by Mike op Margate. In Marietjie se huurwoonstel is rooi beddegoed versier met karretjies, reg vir die dag wanneer haar seun kom kuier.

Sy kon hom nog net drie keer ná haar terugkeer van Mauritius op Margate gaan besoek. “Ons was verskriklik bly om mekaar ná alles weer te sien. In die tyd dat ek weg was, het ons vervreemd geraak. En ek is ’n ander mens. Ek vloek nie meer nie en is nie meer so oorweldigend nie.”

Die lewe buite die tronk was ’n aanpassing. Sy was voor haar vertrek na Mauritius ’n apteekassistent, maar is sedert haar vrylating werkloos. Bedags hou sy haar besig met tuinwerk, en sy swem en stap.

Haar vriendin Sandra Vermeulen en dié se gesin is haar ondersteuningsgroep.

“Sandra sê nou die dag vir my: ‘Marietjie, ek wil ook op die pille wees waarop jy is, want niks pla jou nie.’

“Mense wat my ken en my nou sien, kan nie glo hoe ek verander het nie,” vertel sy met ’n laggie.

“Die nietighede waaroor ek voorheen gestres het, pla my nie meer nie. Ek maak nie meer ’n berg van ’n molshoop nie. In die tronk het ek nie geld gehad of die luuksheid wat ek nou in hierdie huis het nie, so waaroor stres ek?”

Voor haar tyd in die tronk was haar oë toe vir dit wat werklik saak maak.

“Byvoorbeeld die omgee van mense van wie jy dit die minste verwag. “Daar is soveel klein dingetjies! Om in warm water te bad, ordentlike seep, om jou klere en beddegoed in ’n wasmasjien te kan was.”

Nadat sy 18 maande op die tronkvloer geslaap het, sukkel sy met kwaai pyn in haar lae rug. Maar ’n bed is wonderlik en “ ’n kopkussing is soos poeding”.

“Die Here dra my,” sê sy en beduie met hande met naels wat groen geverf is. Groen, soos die koms van die lente. “Wanneer ek snags op my knieë gaan en sê: ‘Here, U ken my situasie; maak dit asseblief beter,’ dan is dit die volgende dag altyd 10 keer beter.

“Ek het nie nagmerries nie. Ek droom baie oor Mundolene, maar dis goeie dinge, waar ons saam lag. Dis eintlik vir my ’n fees om van haar te droom, want ek herleef die lekker wat ons saam gehad het.

“Ja, ons het baklei. Maar noudat sy nie daar is nie en ek die goeie oomblikke onthou, besef ek dat ek haar baie liefgehad het.”

  • Op Sondag 30 September om 21:00 word ’n heruitsending van Marietjie en Mundolene Vosloo se verhaal in Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA, kanaal 147 op DStv, uitgesaai.