Hy woon alleen in ’n gerieflike drieslaapkamerhuis, maar soms wanneer hy snags in die donker wakker skrik, vergeet hy dit. 

“ ’n Oomblik lank sal ek verward wees oor waar ek my bevind,” sê Albert Woodfox. 

Terwyl intense engtevrees hom beetpak, sal paniek in sy bors opwel. “Maar dan besef ek: ‘O, ek’s in my huis.’ ” 

Ná sulke oomblikke klim hy partykeer uit die bed en loop in sy huis rond, of op en neer in sy gang, of hy dwaal selfs in sy woonbuurt in New Orleans rond. 

“Ek kan op en af in die blok stap. Ek kan na die park toe gaan.”

Hy was besig om ’n vonnis vir gewapende roof uit te dien toe hy van die moord in 1972 op ’n tronkbewaarder in die Louisiana-staatsgevangenis aangekla word.

Die vermoë om rond te beweeg is iets wat Albert nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. 

Hy loop selfs op en neer terwyl hy praat en stap vir ’n groot deel van ons onderhoud in ’n klein sirkel in sy slaapkamer. Die rede hiervoor is geen raaisel nie. 

In Februarie 2016 is Albert uit ’n Amerikaanse tronk vrygelaat nadat hy 43 jaar in eensame aanhouding was. 

Hy was besig om ’n vonnis vir gewapende roof uit te dien toe hy van die moord in 1972 op ’n tronkbewaarder in die Louisiana-staatsgevangenis aangekla word. 

Tot sy vrylating is hy feitlik voortdurend in afsondering aangehou.

ANGOLA PRISON, LOUISIANA - OCTOBER 14, 2013:
Albert Woodfox het 43 jaar in eensame aanhouding in die Louisiana-staatsgevangenis deurgebring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit beteken hy was 23 uur per dag in ’n piepklein sel van 1,8 x 2,7 m opgesluit. Dekade ná dekade ná dekade. 

Niemand in die Amerikaanse geskiedenis is al langer in sulke toestande aangehou nie. Dit is deur die Verenigde Nasies en Amnestie Internasionaal as marteling bestempel. 

“Toe ek die eerste keer in eensame aanhouding was, het ek toegang tot niks gehad nie. Geen boeke of tydskrifte nie. Geen televisie nie. Geen radio nie. Niks,” sê Albert (72), ’n skraal man met ’n reghoekige bril, ’n netjiese bokbaard en ’n grys afro. 

Wanneer ’n mens die eerste keer met dié besonderhede gekonfronteer word, is die probleem dat die aakligheid daarvan gou abstrak word. 

Met jou kop verstaan jy die sel was ’n ongelooflik beperkende ruimte. En jy weet 43 jaar is ’n ongelooflike lang tyd. 

In Februarie 2016 is Albert uit ’n Amerikaanse tronk vrygelaat nadat hy 43 jaar in eensame aanhouding was.

Maar jy kan jou nie werklik die ervaring indink nie, al probeer jy ook hoe hard. 

Albert sê sedert sy vrylating wy hy baie tyd daaraan “om by ander te probeer tuisbring hoe aaklig eensame aanhouding is”, al snap die meeste mense dit steeds nie. 

“Stel jou voor jy staan 23 uur per dag in jou slaapkamer,” sê hy in sy hees Louisiana-draalstem. 

“Stel jou voor jy is in dié beperkte ruimte en kan glad nie daar uitkom nie.” 

Jare lank het Albert paniekaanvalle in die tronk gekry. Al manier hoe hy verligting kon kry van die gevoel dat die mure hom vasdruk, was om snags in sy sel te sit en slaap of ure aaneen op die piepklein vloer heen en weer te loop. 

A chain gang of African American prisoners from th
Dwangarbeiders aan’t werk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om die sieldodende herhaling te beveg, het hy op enige manier die illusie van verandering probeer skep. 

Hy het maande lank sy ontbyt op sy slaapbank geëet sodat wanneer hy dit eindelik staande begin eet dit soos ’n wonderlike nuwe ervaring sou voel. 

“Diep in my binneste het ek altyd geweet dit is dieselfde roetine. Ek kon myself nie flous om anders te glo nie.” 

Sy wonde is nie net sielkundig nie. Hy lag saggies toe hy vertel van die liggaamlike beserings wat hy aan die hand van die tronkbewaarders opgedoen het. 

“Nou nog het ek ’n kol op my kop waar hulle my skedel oopgekloof het. En my linkerheup gee soms nog onder my mee omdat ek met ’n bofbalkolf in die rug geslaan is.” 

Hy lag saggies toe hy vertel van die liggaamlike beserings wat hy aan die hand van die tronkbewaarders opgedoen het.

Hoe het dit gebeur dat ’n misdadiger van New Orleans wat minder ernstige oortredings begaan het van ’n moord aangekla is wat hy nie gepleeg het nie en daarna ’n rekordtyd in eensame aanhouding deurgebring het? 

Hoekom het die staat Louisiana ten spyte van oorweldigende regsargumente so hard baklei om hom so lank gevange te hou? 

En dalk die moeilikste vraag van almal: Hoe het Albert oorleef? Hy het ’n outobiografie, Solitary, geskryf waarin hy al dié vrae probeer beantwoord. 

Daarin beskryf Albert hoe hy arm in die gesegregeerde Suide grootgeword het – hy is in die swart vleuel van ’n hospitaal in New Orleans gebore – en hoe sy ma, skaars geletterd, soms as ’n prostituut gewerk het om haar kinders te onderhou. 

In sy tienerjare het hy hom tot misdaad begin wend. “Ek het mense beroof, hulle bang gemaak, gedreig, geïntimideer,” skryf hy in sy memoires. 

Albert Woodfox
Herman Wallace (links) en Albert is skuldig bevind aan die moord op die bewaarder Brent Miller. Foto; Gallo Images/AFP

“Ek het mense besteel wat feitlik niks gehad het nie. My mense. Swart mense.Ek het by hul huise ingebreek en die besittings gevat waarvoor hulle hard gewerk het, hul beursies uit hul sakke gehaal.Ek het mense aangerand. Ek was ’n chauvinistiese vark.” 

Op 17 is hy weens motordiefstal tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Maar hy het ontsnap deur op ’n sementmenger weg te kom. 

’n Chaotiese misdaadloopbaan het hom in die volgende paar jare keer op keer in die tronk laat beland vir ál ernstiger misdade soos gewapende roof. 

In 1969 het hy tydens ’n vonnisoplegging uit die hofgebou ontsnap deur ’n pistool te gebruik wat ’n medepligtige vir hom daar in die toilet in ’n papierhanddoekhouer versteek het. 

Hy kon nie uit die moeilikheid bly nie en is kort daarna weer vir gewapende roof aangekeer. 

Weens sy vele misdade is hy tot 50 jaar tronkstraf gevonnis, maar met goeie gedrag kon hy verwag om teen die helfte van dié tyd vrygelaat te word. 

In ’n tronk in New York het hy twee mans teëgekom wat hulself as lede van die Black Panther Party for Self-Defence voorgestel het. Dié ontmoeting het sy lewe verander. 

Op 17 April 1972 het ’n wit tronkbewaarder, Brent Willer, 32 steekwonde in ’n slaapsaal vir swart gevangenes opgedoen. Albert en ’n Black Panther-medelid, Herman Wallace, is van sy moord aangekla.

Al was die mans in die tronk, het dit gelyk of hulle trots, selfvertroue en medelye uitstraal. 

Teen die tyd dat hy na ’n tronk in Louisiana oorgeplaas is, was hy ’n volwaardige lid van die Panthers, toegewy daaraan om ander swart gevangenes te onderrig in wat hy as diepgewortelde rassisme in die Amerikaanse samelewing beskou het. 

In sy nuwe omgewing sou dit g’n moeilike taak wees nie. Die grootste maksimumsekuriteitstronk in Amerika, die Louisiana-tronk, was – en is steeds – bloot as Angola bekend, die naam van ’n eertydse slaweplantasie waarop dit gebou is. 

“Angola is in daardie tyd as die gewelddadigste, bloedigste tronk in Amerika aangewys,” vertel Albert. 

Met sy aankoms daar het hy vir die hoofkwartier van die Black Panther geskryf en toestemming gevra om ’n tak te stig. 

Sy versoek is toegestaan en sy taak, sê hy, was om “te verset, op te voed en op te stook”. 

Albert sê sy uitgesproke toegewydheid aan die Black Panthers en sy pogings om by Angola lede te werf het hom ’n teiken vir die tronkowerheid gemaak omdat hulle oproer gevrees het. 

Op 17 April 1972 het ’n wit tronkbewaarder, Brent Willer, 32 steekwonde in ’n slaapsaal vir swart gevangenes opgedoen. Albert en ’n Black Panther-medelid, Herman Wallace, is van sy moord aangekla.

albert woodfox
Brent Miller. Foto: Gallo Images/AFP

Daar was weinig bewyse teen die twee mans en die saak het swaar gesteun op die getuienis van ’n sleutelgetuie, ’n reeksverkragter wat ’n lewenslange vonnis sonder die moontlikheid van parool uitgedien het. 

Hy het Albert en Herman as die moordenaars uitgewys. Geen fisieke bewyse het hulle met die misdaadtoneel verbind nie. 

Albert se bewering dat hy toe in die kantien ontbyt geëet het, is deur ander gevangenes gesteun. 

In ’n oomblik wat aan ’n klugspel herinner, het die aanklaers met nog ’n ooggetuie vorendag gekom wat volgens Albert “klinies blind” was. Nie dat dit saak gemaak het nie. 

’n Uitsluitlik wit jurie het hom en Herman albei skuldig bevind en hulle is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Toe is die sleutelgetuie, die reeksverkragter, begenadig. 

’n Uitsluitlik wit jurie het hom en Herman albei skuldig bevind en hulle is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Albert twyfel nie daaraan dat hy weens sy betrokkenheid by die Panthers tot sondebok gemaak is nie. “Hulle wou my invloed beperk. Maar die vernaamste ding is: Hulle wou my breek.” 

Hy en Herman is in eensame aanhouding geplaas. Nog ’n Panther, Robert King, het by hulle aangesluit nadat hy aan die moord op ’n medegevangene skuldig bevind is. 

Saam het hulle as die Angola-drie bekendgestaan. Hulle het onderling ooreengekom om bloot hul beleid van weerstand voort te sit. 

“Die hartseerste ding wat ek in my lewe beleef het, was om ’n mens te sien wie se gees gebreek is,” sê Albert. “Jy verloor iets wat jy nie kan terugkry nie.” 

Later het die tronkowerheid begin om hulle elke 90 dae ’n aanbod te maak: “Verbreek bande met die Black Panther-party, staak ons politieke aktiwiteite, laat vaar ons politieke oortuigings, en hulle sou ons uit eensame aanhouding laat kom,” sê Albert.

“En ons sou altyd sê – en verskoon asseblief my taal – ‘F** julle’.” 

Die drie mans kon kommunikeer deur uit hul selle te skree en tydens hul uur lange ontspanningstyd bymekaar te kom en vir die ander gevangenes wiskunde en grammatika te leer. 

Albert het homself probeer immuun maak teen genot; hy het nie gerook of koffie gedrink nie. 

“Ek sou myself nooit toelaat om van iets afhanklik te raak nie, want die administrateurs het die mag om wat jy ook al het in ’n oogwink weg te neem. Hoe minder ek my in dinge verlustig het, hoe minder kon hulle daarom van my wegneem.” 

Soms het die Angola-drie byna bomenslik voorgekom.

Albert Woodfox
Saam met Robert King, wat saam met Albert en Herman as die Angola-­drie bekend was. Foto: angola3.org

Wanneer hulle toegelaat is om buite te oefen, het hulle kaalvoet gehardloop, selfs in die ryp, bloot om te wys hulle kan. 

Hulle het hulle verset teen die gebruik om gevangenes kaal te deursoek en teen ondersoeke van die anale holte, daaglikse gebeurtenisse wanneer bewaarders saamgedrom het om te spot en beledigings te skree. 

“Jy moes jou boude oopsper en jou geslagsdele wys, en 99% van die tyd het veiligheidswagte allerhande neerhalende kommentaar gelewer.” Weerstand het slae beteken. 

Albert het dikwels van vrees gebewe terwyl hy vir die wagte wag, wetend dat hy nie sou toegee sonder om te baklei nie. 

“Dit was ’n bewustelike besluit. Hoe gaan ek leef? Hoe gaan ek behandel word? Ek is steeds ’n mens, maak nie saak waar ek is nie, maak nie saak wat die situasie is nie.” 

In ’n stadium het Albert, Herman en Robert ’n eetstaking help lei uit protes daarteen dat hul etes op die grond by hul selle ingestoot word asof hulle diere is. 

“Eetstakings is waarskynlik die moeilikste en vernietigendste vorm van protes wat gevangenes kan gebruik; daarom verg dit baie wilskrag en krag,” sê hy. 

Ná 45 dae is gleuwe vir skinkborde in die deure gemaak van selle waar gevangenes in eensame aanhouding is. 

“Ons het nie gedink dit sou 45 dae wees nie. Glad nie. Maar dit is hoe lank dit op die ou end was. En jy bereik ’n stadium dat jy dink: Ek gaan nie toelaat dat hulle my breek nie.” 

Die naaste wat hy daaraan gekom het, was met sy ma se dood in 1994. Toe het hy al deur petisies aan die hof die reg tot toegang tot boeke, tydskrifte en televisie gekry. 

In ’n stadium het Albert, Herman en Robert ’n eetstaking help lei uit protes daarteen dat hul etes op die grond by hul selle ingestoot word asof hulle diere is.

Hy het geweet sy ma gaan agteruit. Hy het verwag dat wanneer sy sterf hy toegelaat sou word om haar begrafnis by te woon, soos die gebruik met ander hoësekuriteitsgevangenes was. Maar ook dit is hom ontsê. 

“Dit was al keer dat ek naby breekpunt was, toe ek my ma verloor het en nie na haar begrafnis kon gaan om haar te groet nie,” sê hy. 

Teen daardie tyd was die Black Panther-party al tot niet. Maar steeds het die tronkowerheid Albert se revolusionêre ideale as die rede voorgehou vir sy eensame aanhouding: die vrees dat hy ander gevangenes sou “aansteek”. 

In sy 60’s het hy met sy gesondheid begin sukkel. Tydens ’n seldsame mediese ondersoek is hy gevra hoe lank hy al ’n diabeet is. Hy het geen idee gehad hy is een nie. 

Hy het gehoor hy het hepatitis C en nierprobleme en is aangeraai om sout te vermy.

Maar dit is makliker gesê as gedaan wanneer jy geen ander keuse het as om die tronkkos voor jou te eet nie. 

In 2000 is die Body Shop-eienaar en menseregteaktivis Anita Roddick se aandag op die lot van die Angola-drie gevestig. 

“In daardie stadium het mense in Louisiana en die buurstate al geweet wie ons is, maar ons het nie internasionale bewustheid en steun gehad nie,” sê hy. 

Maar Anita se betrokkenheid het alles verander. Sy het hom in Angola gaan besoek. Albert onthou hy was “vreeslik senuagtig” voor haar aankoms. 

“Dit was vreemd, weet jy, want sy was hierdie klein, fyn vroutjie,” vertel hy en glimlag skamerig. 

“Ons het gaan sit, onsself voorgestel en ek het gevra of ek haar ’n drukkie kan gee. Sy het gesê: ‘Natuurlik. Ek het ’n drukkie verwag.’ Vyf minute later het sy vir my vuil grappe vertel.” 

Sy het vir ’n prokureur vir die drie mans betaal. In 2001 is die skuldigbevinding van Robert King op appèl omgekeer. 

Albert Woodfox
In 2016 geniet Albert ’n kanovaart ’n paar maande nadat hy uit die tronk vrygelaat is. Foto: angola3.org

Hy was die eerste van die Angola-drie wat vrygelaat is. Daarna het hy hom vir Albert en Herman se vrylating beywer. 

Anita, wat in 2007 dood is, het nie die dag beleef dat hulle vry uit die tronk stap nie. Maar danksy haar steun kon hulle albei lang, uitmergelende regstryde voer, hofsake teen Louisiana se departement van korrektiewe dienste aanhangig maak en teen hul oorspronklike vonnisse appelleer. 

In 2013 is lewerkanker by Herman gediagnoseer, en nadat ’n regter bevind het hy het nie ’n regverdige verhoor gehad nie, is hy vrygelaat. Hy is ’n paar dae later dood. 

Albert het sy beurt in 2016 gekry. In daardie stadium het selfs die weduwee van die vermoorde tronkbewaarder haar vir sy vryheid beywer. 

James Dennis, ’n appèlhofregter, het die vorige 43 jaar in ’n enkele sin opgesom: “Vir die grootste deel van sy lewe het Albert sonder ’n geldige skuldigbevinding byna elke wakker uur in ’n beknopte sel in vernietigende eensaamheid deurgebring.” 

Op 19 Februarie 2016, sy 69ste verjaardag, is Albert vrygelaat. Met ’n gebalde vuis omhoog het hy op die helder dag saam met sy broer, Michael, van die tronkhek na dié se motor gestap. 

Daarna het die twee mans na die begraafplaas gery waar hul ma begrawe is, maar dit was gesluit. 

Albert sê hy wou oor die heining klim, maar sy broer het hom oortuig om liewer die volgende dag terug te keer.

Om blomme op haar graf neer te lê, sê hy, het gevoel soos om die las neer te lê wat hy verplig was om jare lank te dra. 

“Ek moes so lank wag om na haar graf te gaan en vir haar te sê hoe lief ek vir haar was en hoeveel ek haar gemis het.” 

Drie jaar ná sy vrylating is Albert steeds besig om by sy vryheid aan te pas. Aanvanklik kon hy moeilik beweeg. Hy het steeds geloop soos ’n man wat in voetboeie is. 

‘Die hartseerste ding wat ek in my lewe beleef het, was om ’n mens te sien wie se gees gebreek is’

Nadat hy so lank eintlik net interaksie gehad het met mense wat reg voor hom is, was dit vir hom vreemd en ontstellend dat mense om hom beweeg. 

Op ’n partytjie om sy vrylating te vier het hy gewip van die skrik elke keer dat iemand hom op die rug klop of ’n stywe drukkie gee. 

“Dit het ’n paar maande geduur voor ek daaraan gewoond was.”

Nadat hy jare lank elke dag sy sel geskrop het, is sy huis “silwerskoon”. 

Albert hoef nie veel te eet nie en eet gewoonlik net een maaltyd per dag. 

Hy word meestal teen halfvier soggens wakker.

“Want in die tronk was dit die tyd wanneer jy goed gedoen kon kry. Dis stil. Niemand skree nie. Niemand beweeg heen en weer in die gang nie.” 

Toe hy Angola toe is, was hy die pa van ’n jong dogter by sy meisie. Toe hy uitkom, het hy drie kleinkinders en vier agterkleinkinders gehad. Hulle het hom sy hart help oopmaak.

“In die tronk is jy baie versigtig en hou jy jou emosies en verwagtings van die lewe so laag moontlik. Maar sedert ek uit is, het my kleinkinders my emosies en liefde vir die mensdom help uitbrei.” 

Albert stap steeds in sy slaapkamer heen en weer. Op dié dag sou hy later sy vriende in New Orleans ontmoet. 

Hy praat geesdriftig oor die “pragtige” patio in sy agtertuin en ’n meer daar naby waarheen hy graag gaan. 

Mense vra hom dikwels of hy iets aan sy lewe sou wou verander, maar sy antwoord is altyd dieselfde. “Nie ’n enkele ding nie,” sê hy. 

“Alles wat ek deurgemaak het, het my die man gemaak wat ek vandag is.” 

© Ben Machell/The Times Magazine/News Licensing