OP 46 het dit eensklaps vir hom gevoel of sy hele lewe ’n leuen was toe hy uitvind die ma en pa wat hy al die jare gedink het sy bloedfamilie is, is eintlik sy aanneemouers.

“Dis ’n verskriklike skok om dit op daardie ouderdom uit te vind. Dis ’n skok vir jou hele familie, jou kinders, jou menswees,” sê prof. Eben Maré, self ’n pa en oupa.

“Ek weet dit maak nie van my ’n ander mens nie, maar dit irriteer my tog, want almal het geweet behalwe ek.”

Nou, vyf jaar ná sy stryd om dié skokontdekking te verwerk en sy biologiese ouers op te spoor, is hy in ’n nuwe stryd gewikkel – dié keer in die hooggeregshof. In die eerste saak in sy soort gaan Eben (nou 51) veg om as aangenome kind van sy skatryk oorlede biologiese pa te erf.

“Ek sorg vir myself; ek het nie die geld nodig nie. Vir my gaan dit oor reg en geregtigheid,” sê die lang, forse man met ’n welige snor. Hy is netjies geklee in ’n pak hier in die keurig gemeubileerde raadsaal van ’n bank in Sandton, Johannesburg, waar hy as fondsbestuurder in die bateafdeling werk.

Hy is ook deeltyds professor in toegepaste wiskunde aan die Universiteit van Pretoria. Soos die aanneemstelsel sy biologiese ma in die steek gelaat het toe sy hom later in haar lewe probeer opspoor, so weerhou die regstelsel hom nou daarvan om van sy biologiese pa te erf, glo hy.

Dié is sowat drie en ’n half jaar ná hul destydse hereniging vermoor.

Dit was ’n emosionele en blye hereniging toe Eben as ’n middeljarige man sy pa André in 2012 ontmoet.

Omdat sy biologiese pa, Pieter André Bezuidenhout (67), eienaar van die Pretoriase vervoermaatskappy Bus Rentals, sonder ’n testament gesterf het, is sy ander vier kinders die wettige erfgename van sy boedel – en dis g’n klein bedraggie nie; dit bedra sowat R86 miljoen. Een van die kinders, Adele Bezuidenhout, is in 2015 op 32-jarige ouderdom oorlede, maar haar dogter sal in haar plek erf.

Ten tyde van pa André – soos almal hom genoem het – se dood byna twee jaar gelede was hy ongetroud. Eben se halfbroer Conan Devy (31) gaan sy aansoek in die hof teenstaan om as hul pa se biologiese kind ook as erfgenaam erken te word.  

Vir Eben is dit ’n bitter pil om te sluk. “Dit is nooit betwis dat ek sy oudste kind is nie, maar hier sit ek en ek mag nie van hom erf nie? Dis onregverdig. Dit is nie my skuld dat ek aangeneem is nie.”

As pasgebore baba is Eben destyds deur ’n Pretoriase egpaar aangeneem. Hulle het Eben nooit vertel hy is aangeneem nie; hulle het “net nie gedink dit is nodig nie”, sê Eben en glimlag wrang. Dan laat hy deurskemer hy is van sy aanneemouers vervreem sedert die waarheid oor hom uitgekom het.

Vir my pa was dit ook ’n skok om my en sy kleinkinders skielik te ontmoet.

Hy het dié ontdekking in 2012 gedoen toe sy dogter, Desiré (28), oorsee by familie van sy aanneempa gaan kuier en vir die interessantheid ’n familieregiser teruggebring het. Langs Eben se naam het gestaan: “Aangenome kind.”

Eben onthou die skok en ongeloof toe hy daardie woorde lees goed.

“Dis as’t ware ’n wat-de-f**?-oomblik. Dit verander jou hele verwysingsraamwerk. Jou kinders kom agter hul oupa en ouma is nie werklik hul grootouers nie,” sê hy.

Hy het benewens Desiré ook twee seuns, Eben jr. (30) en Jean-Jacques (29). Met die hulp van sy vrou, Amanda (54), wat by die registrateur van aannemings in Pretoria navraag gedoen het, het Eben toe uitgevind wie sy biologiese ouers is.

Sy ma, Dalene le Roux (gebore Wilken), was ’n 17-jarige weeskind en leerlingverpleegster toe sy met hom swanger raak. Sy pa was 18 en nog op skool. Daar is aan hulle geen keuse gegun om self hul baba groot te maak nie, sê Eben – hy voer dit trouens nou as ’n argument aan in sy regstryd om ’n erfporsie. 

Dalene het later met ’n ander man getrou en die lewe aan ’n seun geskenk. ’n Maatskaplike werker het in Augustus 2012 vir Eben ’n ontmoeting met sy ma gereël. Dit was emosioneel, onthou hy. Sy ma het toe vertel sy het jare tevore ’n paar keer na hom probeer soek, maar omdat dit ’n geslote aanneming was, was haar pogings vergeefs. Sy het haar hoop daarop gevestig dat hy haar sou kontak toe hy op 18 mag uitvind wie sy biologiese ouers is.

“Sy het aanvaar as haar kind haar nie opspoor nie, is hy dood. Maar hoe moes ek haar opspoor as ek nie geweet het ek is aangeneem nie?” vra Eben.

Sy ma het ná hul ontmoeting sy ouma aan vaderskant gekontak; dit het daarop uitgeloop dat Eben en sy gesin sy pa en halfsuster Adele in November 2012 by ’n eetplek in Pretoria ontmoet het.

“Ons almal was oorbluf deur die hele storie. Ek dink vir my pa was dit ook ’n skok om my en sy kleinkinders skielik te ontmoet,” vertel hy. Hulle het nogtans gou ’n hegte band gesmee.

Eben het Conan ook leer ken. Toe Adele in 2015 weens respiratoriese probleme in die hospitaal oorlede is, het Eben en sy twee ander halfsusters, Aura Devy van Kanada en Jade Moran van Amerika, mekaar op haar begrafnis ontmoet.

Eben het ook vir die eerste keer sy ma Dalene le Roux ontmoet. By hulle is een van Eben se drie kinders, Jean-Jacques.
Eben betwis nou sy vermoorde ­biologiese pa, André Bezuidenhout, ’n skatryk sakeman, se boedel nadat hy in April 2016 sonder ’n testament gesterf het.

Net meer as ’n jaar later, op 7 April 2016, is pa André in sy bakkie in die oprit van sy huis in Pretoria-Wes doodgeskiet.

Die moordenaar is nooit aangekeer nie en Eben glo dit was ’n beplande moord, want sy pa is op ’n kort afstand vyf keer in die bors, maag en kop geskiet en niks is geroof nie. Dit het Eben geruk.

“Ek moes my pa se lyk gaan eien. Ek moes hom begrawe . . .” Maar die volgende skok sou voorlê.

“Toe moes ek uitvind hy is sonder ’n testament dood. In daardie geval erf net ’n mens se vrou en kinders – nie ’n kind wat jy laat aanneem het nie.”

In sy aansoek in die hooggeregshof in Pretoria betwis Eben nou die bepaling in die Wet op Intestate Erfopvolging dat ’n aangenome kind nie van sy biologiese ouers mag erf as dié, soos in André se geval, sonder ’n testament gesterf het nie. Hy voer aan sy aanneming is ongeldig aangesien sy ma destyds gedwing is om hom af te teken.

In hofstukke wat Conan se regsverteenwoordiger ingedien het, word in antwoord hierop gesê Dalene het destyds nie die aanneming betwis nie. Conan is die enigste van Eben se sibbes wat amptelik sy aansoek teenstaan, maar wou nie self kommentaar lewer nie.

Ek was goed genoeg om my pa te help begrawe, maar nie om te erf nie.

Eben is bitter oor sy halfbroer se besluit. “Ek weet nie of Conan namens al die kinders praat nie, maar ek was goed genoeg om my pa te help begrawe, maar nie om te erf nie.”

Conan het slegs bevestig Eben het op sy versoek die begrafnisreëlings vir hul pa hanteer, maar sê hy het vir Eben die geld gegee om daarvoor te betaal. Dis vir Eben hartseer dat hy nou nie net van sy aanneemfamilie vervreem is nie, maar ook van sy biologiese familie aan vaderskant.

Hy en sy biologiese ma sien mekaar steeds, maar hy is hartseer omdat sy tydjie saam met sy biologiese pa so bitter kort was.

“Ek het onlangs oupa van ’n tweeling geword; my pa se agterkleinkinders. Hy sou mal gewees het oor hulle. Ek glo ek sou ’n verskil in sy lewe gemaak het.” 

Foto's: Dino Codevilla, Verskaf