Hul eens vrolike, huppelende sesjarige dogtertjie het in minder as ’n jaar soos handomkeer verander.

Op ou gesinsfoto’s glimlag ma Bianca*, pa Ryno* en klein Nellie* breed. Maar hul enigste kind is nou inkennig, eenkant en eensaam en haar glimlag is weg.

Haar ma glo dis omdat ’n gr. 1-klasmaat haar afknou en die onderwysers toekyk sonder om in te gryp. Bianca (38) skryf in ’n roerende brief aan Huisgenoot sy en haar man is moedeloos, want die skool het hul kind in die steek gelaat; hul sonskyndogtertjie is die een wat ly.

Hier is haar brief (verkort).

Die aangrypende brief 

Nellie was so opgewonde om gr.1 toe te gaan. Ek het nog die video wat ek geneem het van haar kosblik en toebroodjie met appelkooskonfyt en botter, ’n sappie en ’n jogurt, alles gemerk met haar naam op.

Sy’t so mooi gelyk met haar poniestert en wit haarband. Nellie is die soort kind wat oral maatjies maak. Wanneer ons na ’n restaurant gaan, speel sy met ander, en voor jy jou kom kry, sit nog ’n kind by ons aan tafel.

By die kleuterskool was haar juffrouens gek oor haar. Sy was ’n paar weke in die laerskool toe sy begin verander. Sy het vertel daar is ’n meisie wat ongeskik is met haar.

Die meisie vat haar snoepiegeld en skryfbehoeftes en weier om dit terug te gee. Nellie het ook gekla niemand wil haar maatjie wees nie.

Ons was nie dadelik bekommerd nie, want ons het die skool vertrou. Ons het gedink dit is maar hoe kinders soms is. Sedert April sukkel Nellie emosioneel en sosiaal. Sy het teruggetrokke, hartseer en buierig geword.

Sy huil maklik en vertel dat die boelie haar treiter en spot. Eendag het Ryno haar by die skool afgelaai. Omdat hy ’n voorgevoel gehad het iets is fout, het hy in sy motor bly sit en kyk hoe Nellie klas toe stap.

Sy het alleen eenkant gaan sit, apart van al die ander maatjies. Hy het my gebel en my hart het tot in my skoene gesink. Ons het albei oor die foon gehuil. Op ’n dag het ek ’n oproep van ’n ander kind se ma gekry wat my vra of Nellie oukei is.

Haar dogter het haar vertel die boelie het twee keer haar hande om Nellie se nek gehad, asof sy haar wurg. Ons is dadelik skool toe. Nellie se juffrou het aan my en Ryno erken dié meisie boelie ons kind, fisiek en emosioneel.

Die boelie sou Nellie byvoorbeeld onder die tafel skop. Toe die onderwyseres dit nie langer kon verduur nie, het sy die boelie na ’n sitplek verder weg van Nellie af geskuif.

Maar nogtans het Nellie ál meer met haar skoolwerk gesukkel. Hoekom op dees aarde het dié juffrou ons nooit laat weet Nellie word so getreiter nie?

Ons was met ons hande in ons hare, want dit was asof niemand iets daaraan doen dat ons kind geboelie word nie.

Ons het ’n afspraak met die skoolhoof gemaak en daarop aangedring om te kyk na die videomateriaal van die voorval waar my kind glo gewurg word.

Die hoof het die boelie se ouers ook laat kom. Daar in die skoolhoof se kantoor het ek en Ryno saam met die boelie se ouers gesien hoe dié meisie twee keer nader hardloop en lyk asof sy Nellie wurg.

Ander kinders probeer haar keer, en jy sien hoe ons fyn, sagte dogtertjie ná die voorval haar nekkie vryf. Ek was buite myself van woede.

Die boelie se ouers het nie geweet hul kind vang dié goed aan nie; niemand het hulle ingelig nie. Jy kon die skok en skaamte op hul gesig sien.

Tot my skok is geen aksieplan voorgestel nie en die boelie is nie gestraf nie. Die hoof sê toe so ewe ons moenie die woord “boelie” gebruik nie; dis ’n te sterk woord.

Die hoof stel toe voor ons roep die twee meisies in en sê hulle moet maatjies wees. Ek en Ryno sê toe ja, mits hulle maatjies wíl wees. Hulle het natuurlik gesê hulle wil nie.

Die beledigings en afknouery het sedertdien nie opgehou nie: “Jou hare is lelik.”

“Jy’s ’n baba en niemand hou van jou nie.”

“Jy loop snaaks en jy’s dom.”

Later wou Nellie ons nie meer vertel wat die boelie alles vir haar sê nie. Ons was nog nooit in so ’n situasie nie, en dis moeilik om te weet wat die regte ding is om te doen of sê. Ons het geglo die skool sou stappe doen of reëls neerlê, maar die afknouery het nie opgehou nie.

Ná die wurgvoorval het Nellie ons klein bulhondjie seergemaak. Sy het hom gewurg en van haar klimraam afgegooi. Ons moes dié hondjie weggee.

Sy het ook begin jok en het vir die kinders by die skool vertel haar pa is oorlede. Ons glo dit was om aandag te kry. Ek kon dit nie glo nie.

Dit was ons liefdevolle dogter wat my graag in die kombuis gehelp het wat nou so optree. In die derde kwartaal het die boelie Nellie twee keer op die rug geklap.

Nellie was ’n week lank weens stres afgeboek. Kan jy jou indink?

’n Sesjarige wat vir stres afgeboek word?

Daarby sien sy ’n sielkundige. Op net ses jaar. Ons het daarop aangedring dat die departement van onderwys betrokke raak, maar niemand het nog vir ons gesê wat hulle gaan doen nie.

Ons gee tuis soveel liefde as wat ons kan. Sy is nou na ’n ander klas geskuif en dit gaan beter.

Dié juffrou is ouer en omvou my kind met liefde en sekuriteit. Maar die boelie agtervolg ons kind steeds, elke pouse.

Ek is bitter kwaad vir die skool en veral haar eerste onderwyseres dat hulle nie opgetree het nie. Hulle het haar gees geknak. Ons het dit al soveel kere oorweeg om haar na ’n ander skool te skuif, maar skole is vol en ons albei moet werk.

Dis so moeilik, want sê nou dit gebeur in die volgende skool ook?

Ek is moedeloos en moet saans ’n pil drink om te slaap. Ek het onlangs by kliënte in trane uitgebars.

My grootste vrees is dat ons ’n oproep kry dat Nellie by die skool ernstig seergekry het. Ons kind is emosioneel geskend. Sy het geen selfvertroue nie en sukkel om onderwysers te vertrou.

Sy het my onlangs gesmeek om haar hare te kleur. Sy het gehuil toe ek haar hare wou vleg en strikkies maak, want “die boelie gaan iets sê”.

Daar is kos wat sy nie wil eet nie, want sy gaan “vet word”. My hart breek dat my dogtertjie haar oor sulke dinge bekommer.

Ek is nie kwaad vir die boelie of haar ouers nie; sy is ook maar net ’n kind. Maar my boodskap aan die ouers van boelies is: Doen iets.

Die juffrou wat maande lank gesien het hoe my kind geboelie word, is aandadig aan die ergste vorm van afknouery.

Niksdoen maak jou net so skuldig. Vir eers bid ons om genade en wysheid en tel die stukkies van Nellie se selfbeeld op.

HELP, MY KIND LOOP DEUR!

Terg en boelie is twee verskillende dinge, sê Lizette Erasmus, ’n kindersielkundige van Pretoria.

“Boelie is ’n vorm van mishandeling en het ’n aggressiewe komponent.” Sy gee ouers die volgende raad: 

  • As jou kind geboelie word, moet die onderwyser en die skool ingryp. “Die onderwysdepartement vereis dat elke skool ’n boeliebeleid het wat uiteensit watter gedrag nie geduld word nie en hoe dié boeliegedrag hanteer word,” sê Lizette. “As die afknouery vererger en fisiek raak, moet die skool die (boelie) skors. Dit maak nie saak hoe oud die kind is nie.” As die skool nie optree nie, sal die boelie se ouers dit ook nie ernstig opneem nie; daardie kind het ook hulp nodig.
  • Dit is nie ’n goeie idee om die boelie se ouers op jou eie te nader nie. “’n Fasiliteerder moet by wees sodat al die ouers om ’n tafel kan sit. As die hoof dit nie kan doen nie, roep ’n sielkundige in.”
  • Nader die onderwysdepartement as die skool nie ingryp nie.
  • Skuif jou kind na ’n ander skool as die skool nie optree nie en die situasie nie verbeter nie.
  • Kyk waarom jou kind die slagoffer is en doen moeite om te verseker dat hy of sy minstens een goeie maatjie het.
  • Die beste raad wat jy jou kind kan gee, is: “Ignoreer die boelie en maak seker jy is nooit alleen waar die boelie jou kan nader nie.”
  • Jy moet empatie met jou kind hê. As sy sê sy is lelik, moenie bloot sê dis nie waar nie. Antwoord met iets soos: “Ek verstaan hoe jy voel; hoekom voel jy so?” As jy fout vind met jouself, jou wederhelfte of jou kind, sal jou kind dié gedrag naboots, veral teenoor hulself.
  • Jou eerste prioriteit moet jou kind wees. Jou kind wat afgeknou word, moet vir terapie gaan.
  • Wanneer jou kind geterg word, speel persoonlikheid ’n groot rol. ’n Meer geharde kind sal ’n aanmerking aflag en wegloop, maar ’n sensitiewer kind kan enige grappie, hoe onskuldig ook al, enstig opneem. In sulke gevalle is Lizette se raad aan ouers om ’n humorsin te bevorder. Sê jou kind moet vir die terggees vra: “Jy is reg, ek is baie kort; het jy geweet dit is geneties?” Of: “Jy is reg, ek hét duisend sproete!”
Nellie word deur ’n ander meisie in gr. 1 afgeknou en haar ouers is raadop. Haar ma skryf in ’n brief aan Huisgenoot haar hart breek vir haar dogtertjie. Foto: Verskaf
  • * Skuilname.