Sy het al die verdoemende getuienis voor die Britse hof gehoor dat haar man, die Suid-Afrikaans gebore pa van hul kinders, haar probeer vermoor het deur haar valskerm te saboteer.

En dat hy stomende seksuele verhoudings met twee ander vroue tegelyk gehad het terwyl sy ná haar angswekkende val van 1 200 m met ’n gebreekte pelvis, gebreekte ribbes en gebreekte rug­werwels in die hospitaal gelê het.

Daar was die honderde oproepe, e-posse en SMS’e aan sy minnaresse en ’n seksklub. Die bewyse dat hy haar bank­rekenings geplunder het. En dan die skokkende getuienis dat hy ’n week voor die valskermvoorval in 2015 ook probeer het om haar te vermoor deur met ’n gasstoof in hul huis te peuter.  


Maar steeds was die Britse fisioterapeut en valskerminstrukteur Victoria Cilliers onwillig om te glo in die skuld van haar man, die Britse weermagsersant Emile Cilliers.

In haar nuwe biografie, I Survived, skryf sy oor ’n oomblik tydens sy verhoor in 2017: “Die advokaat het my gevra of ek glo hy het my valskerm gesaboteer. Maar ek moes eerlik antwoord: ‘Ek weet nie.’ Die gevoel op die krop van my maag is hy sou nooit so iets aan my doen nie, maar ek weet bloot nie meer nie.”

Selfs nadat Emile (39) drie jaar ná die byna geslaagde valskermmoord skuldig bevind is, was Victoria (36) onseker. Sy het hom op sy versoek in die Winchester-­tronk gaan besoek.

Victoria tydens 'n vorige sprong. Foto: Shuttersto
Victoria tydens 'n vorige sprong. Foto: Shutterstock

“Ek het hom oor sy ontrouheid gevra, maar kon nie regtig antwoorde kry nie. Ek het hom gevra: ‘Het jy my probeer seermaak met die valskerm?’ Hy het sy kop geskud, sy gesig in sy hande verberg en gesê: ‘Nee, ek is onskuldig.’ Toe begin hy huil, en ek het besef ek weet steeds nie of ek hom moet glo of nie,” onthul sy in haar boek.

Eers in Junie, toe die oud-Suid-Afrikaner in Engeland tot 18 jaar tronkstraf gevonnis is, “het ek besef hy is ’n monster.”

Suid-Afrikaanse eksverloofde

Nicolene Shepherd, Emile se gewese verloofde.
Nicolene Shepherd, Emile se gewese verloofde. Foto verskaf

Maar Emile se Suid-Afrikaanse eksverloofde, Nicolene Shepherd (36), vertel eks­klusief aan Huisgenoot sy was geensins verbaas toe sy hoor hy is skuldig bevind aan twee pogings tot moord op Victoria nie. Sy beweer immers sy is ook jare lank vasgevang in die manipuleerder se web van leuens en kullery.

“My eerste gedagte was nie dat hy nooit so iets sou doen nie,” vertel Nicolene, wat deesdae ook in Brittanje woon, tydens ’n video-onderhoud aan Huisgenoot.

“Net skok dat iemand wat deel van my lewe was iemand anders probeer vermoor het.”

Ek wens ek het Emile ­Cilliers nooit ontmoet nie.

Sy vertel dat sy Emile se skoolkys in Suid-Afrika was en hom later na Engeland gevolg het, maar sê hy het haar lewe hel gemaak voor hulle eindelik uitmekaar is.

“Die letsels wat hy op my en my twee kinders se lewe gelaat het, is enorm. Ek het al gewens ek kan na ’n hipnotiseur gaan wat alle herinnerings van Emile uit my kop kan haal. Ek wens ek het Emile ­Cilliers nooit ontmoet nie.”

En wat met Victoria gebeur het, laat haar glo sy het dalk haar lewe te danke aan die feit dat haar en haar “eerste liefde” se paadjies geskei het.

Hulle het destyds albei aan die Hoërskool Ermelo skoolgegaan. Nicolene was 13 jaar oud en Emile, ’n “kranige landloopatleet met goeie maniere”, was 16 toe hy haar gevra het om te kys.

Emile was ’n topstudent aan die Hoër­skool Ermelo
Emile was ’n topstudent aan die Hoër­skool Ermelo.

“Hy het akademies goed gevaar en was heel gewild, ’n doodgewone Afrikaanse seun,” vertel Nicolene vanuit haar huis in Somerton in Engeland. “Ons het drie jaar uitgegaan, en toe ek 16 was, het ek swanger geraak.”

Die enigste foto wat Nicolene van haar en Emile oo
Die enigste foto wat Nicolene van haar en Emile oorhet – die res is verbrand. Foto verskaf


Emile het haar glo probeer oorreed om ’n aborsie te kry, maar sy het geweier.

“Hy was al uit die skool en het by sy pa se boumaatskappy gewerk. Ek het gedink hy is die man met wie ek gaan trou. Ek het net voor sy 20ste verjaardag uitgevind ek is swanger. Toe wou hy eers verjaardagpartytjie hou voor ons iemand daarvan vertel.”

Sy was jonk en glad nie wêreldwys nie, vertel sy kopskuddend.

“Daar is eintlik soveel goed, soveel tekens, selfs toe ons so jonk was, dat Emile se hele lewe net oor hom gaan.”

Toe sy in kraam gaan met hul dogtertjie, wou Emile nie opstaan om haar hospitaal toe te neem nie. Eindelik het haar stiefpa haar geneem.

Tog het hy trots gelyk op klein Cilene. Haar naam is ’n samevoeging van sy van en Nicolene se voornaam.

Nicolene saam met Cilene. Foto verskaf
Nicolene saam met Cilene. Foto verskaf

“Ons het toe saam ingetrek, maar geldelik gesukkel. Emile is in 2000 Engeland toe om daar te gaan werk, maar het byna nooit vir ons geld gestuur nie,” beweer sy.  

Sy het hom eenkeer geld gevra vir doeke, maar hy het glo laat weet hy het niks. “Maar daardie selfde dag het hy vir homself ’n duur paar gholfskoene gekoop,” beweer sy.

Tog het hy vakansies kom kuier en Nicolene het swanger geraak met hul tweede kind, Trevor. Maar Trevor was al 11 maande oud toe Emile hom die eerste keer gesien het. Op haar foonskerm wys Nicolene twee verjaardagkaartjies wat Emile vir hul kinders op hul eerste verjaardae gestuur het. “Al my liefde, pappa,” lui een.

Tog het hy nooit sy humeur totaal verloor, geskree of sy hande gelig nie.

Maar Nicolene skud haar kop.

“Ek onthou een aand toe hy van Engeland af kom kuier het. Die kinders het gehuil, en Emile was so koud. Ek het my ma gebel en gesê sy moet my en die kinders kom haal; Emile maak my bang,” vertel sy. “Tog het hy nooit sy humeur totaal verloor, geskree of sy hande gelig nie. Ek weet steeds nie hoekom ek daardie aand bang was nie.”

Dit herinner aan ’n voorval wat Victoria jare later, tydens Emile se verhoor, in die hof beskryf het. Sy het hom op ’n keer gevra om nie in die kar te rook nie en hy het “wit van woede” geword. Dit was skrikwekkend juis omdat hy “altyd kalm” was.

“Emile het my soveel kere verkul; dis eintlik belaglik,” beweer Nico­lene. “Ek het hom selfs eenkeer op heterdaad betrap. Maar hy het altyd alles ontken, tot ek hom met die bewyse gekonfronteer het. Dan het hy gehuil en jammer gesê en dan het ek hom maar weer vergewe.”

Al was sy en die kinders in Suid-Afrika en hy in Brittanje, was hulle steeds verloof, vertel sy.

“Toe nooi sy ma my eendag vir koffie. Trevor was nog ’n babatjie. Toe sê sy net: ‘Hoor hier, ek moet jou vertel, Emile is getroud.’

Ek was dom, maar Emile het vir my gesê hul huwelik is verby, en ons het toe ons verhouding hervat.

“Ek was woedend en seergemaak, maar ek het met my lewe aangegaan.”

Die vrou met wie Emile glo getrou het, was ene Carly. Maar in 2004 het Emile glo weer toenadering tot Nicolene gesoek, en sy is Brittanje toe terwyl hul kinders by haar ma agtergebly het.

“Ek was dom, maar Emile het vir my gesê hul huwelik is verby, en ons het toe ons verhouding hervat.”

Maar hy het glo dieselfde speletjie gespeel as later met Victoria.

“Hy het die aand by my oorgeslaap en sy foon by my vergeet. Carly het aanhou bel. Toe tel ek op en sy sê toe nee, hulle is nie uitmekaar nie,” beweer sy.

Sy het afgespreek om Carly te ontmoet by die huis wat sy (Carly) met Emile gedeel het. Die twee vroue het glo toe besef hulle word albei bedrieg. Carly het toe reeds twee klein kinders by Emile gehad. Haar jongste was net weke oud.

“Emile het daar aangekom. Hy het nog geroep: ‘I’m home’, en toe val sy mond oop toe hy my sien. Toe Carly hom vra wat aangaan, het hy eers in Afrikaans met my probeer praat. Maar ek het hom uitgetrap en gesê sy vrou weet nie wat ons sê nie,” vertel Nicolene.

“Sy het gesê hy moet kies. Hy het ons so op en af gekyk en toe gesê hy kies my. Maar toe weet ek ek is klaar met die man.”

Kinders

En Nicolene se kinders se verhouding met hul pa?

“Dis ingewikkeld. Cilene het gesmag na sy goedkeuring. Nadat hy en Carly geskei is, het hy eenkeer kom kuier. Hy het gesê hy kom kry my en die kinders oor ’n paar dae, maar ons het nooit weer van hom gehoor nie.”

Cilene was net ses jaar oud. “Sy sou goed sê soos: ‘Het ek iets gedoen dat Pappa my nie wil hê nie.’ En ’n paar jaar terug was Trevor (nou 19) op ’n slegte plek. Hy het my die dag gebel en gehuil en gesê: ‘Wat as ek soos my pa is? Ek wil nie so wees nie.’ Ek kon hom gerusstel.”

Nicolene saam met Trevor. Foto verskaf
Nicolene saam met Trevor. Foto verskaf


Nicolene en die kinders het Emile laas in 2006 gesien. Sy het daardie jaar vir Russel ontmoet, met wie sy nou al 13 jaar getroud is. Hulle het drie kinders saam, en Trevor en Cilene het ook al kinders.

Sy het eenkeer vir Emile ’n boodskap gestuur dat sy kinders ly omdat hy hulle verwerp het. “Ek het vir hom gesê hy is useless, dat my kinders nou ’n regte pa het. Hy het toe geantwoord ek moet hom uitlos, anders gaan hy iets doen en ek sal jammer wees,” beweer sy.

“Ek het hom geglo. Dit het my bang gemaak, toe los ek hom uit.”

Victoria en Emile, ’n fiksheidsinstrukteur en self ’n valskermspringer, het reeds huweliksprobleme gehad die dag in 2015 toe sy bo die Salisbury Plain uit die vliegtuig spring en haar valskerm probeer ontplooi – en niks gebeur nie.

“Ek het om my lewe geveg, maar verskriklik vinnig geval.”

Toe sy in die sagte grond van ’n vars geploegde land bykom, met besorgde gesigte wat oor haar hurk en die geloei van ’n naderende ambulans, het sy haar vingers beweeg en tot haar verligting besef sy is oukei, skryf sy in haar boek.

Die blou valskerm wat Emile opsetlik beskadig het
Die blou valskerm wat Emile opsetlik beskadig het met die doel om haar dood te veroorsaak. Foto: Shutterstock


Maar sy was nie. Sy moes chirurgie ondergaan om haar verbrokkelde pelvis te herbou en het maande op haar boude rondgekruip voor sy danksy haar ysere wil en dissipline weer genoeg kon rehabiliteer. En deur dit alles het sy nie kon glo haar man sou haar so wou vermoor nie.

Toe sy ná die val weer in die hospitaal wakker word, skryf sy, het Emile klaarblyklik onbesorg en verveeld langs haar bed gesit.

“Ek is so jammer; ek wou nie al hierdie ongerief veroorsaak nie,” het sy gesê. Hy het stilgebly en sy het benoud gedink: Hy verskil nie van my nie. Hy gaan nou nog minder van my hou.

Sy was kwaad vir haarself oor haar ongeluk. En toe die polisie maande later aan haar deur klop en vertel hy is ’n verdagte in die valvoorval, kon sy dit nie glo nie. Selfs nie toe sy tydens sy verhoor die teksboodskappe tussen hom en sy minnares, Stefanie Goller van Oostenryk, lees nie.

Emile het glo sy verhouding met Stefanie begin terwyl Victoria met hul tweede kind swanger was.

En die vrou met wie hy sowel Victoria as Stefanie verkul het?

Niemand minder nie as sy eksvrou, Carly, by wie hy glo eenkeer aangedoen het vir seks terwyl hy onderweg was na Stefanie vir ’n intieme aandjie . . . en dit glo op dieselfde dag dat hy met die gasstoof in sy en Victoria se huis gepeuter het met die plan dat dit sou ontplof terwyl hy weg was.

Die hof het bevind Emile wou Victoria – wat hy reeds besteel het – vermoor ­sodat hy haar lewenspolis kon kry om al sy skuld te betaal. Vir Stefanie het hy gesê, soos hy jare tevore aan Nicoline beweer het, dat sy huwelik met Victoria op die rotse was omdat sy hom verkul het.

Victoria het eers onlangs aanvaar Emile het haar p
Victoria het eers onlangs aanvaar Emile het haar probeer vermoor. Sy besef nou hy het haar gemanipuleer, sê sy.

Tog was dit eers drie jaar ná sy inhegtenisneming en skuldigbevinding dat Victoria die stap kon doen om van die man te skei wat haar wou vermoor.

“Hy het my met oproepe en briewe (uit die tronk) gebombardeer. Aanvanklik het ek teruggeskryf. Hy het geklink soos die ou Emile, wat vir my liefdevolle briewe geskryf het. Hy het heeltyd gevra ek moet kom kuier, want ‘niemand anders sal kom nie’ en ‘jy is al wat ek oorhet’.

“Maar ná weke hiervan het ek eindelik vir hom oor die foon gesê dis nie wat ek wil hê nie; ek wil nie hierdie huwelik hê nie. Toe sê hy net: ‘Reg, ek moet nou aflui.’

Emile Cilliers. Foto: Gallo Images/Getty Images
Emile Cilliers. Foto: Gallo Images/Getty Images


“Dit het my lank geneem om te besef hoe manipulerend hy is en dat ek ’n slagoffer van mishandeling is. Dis nie altyd so sigbaar soos ’n blougeslaande oog of ’n stukkende lip nie. En dit het my selfs langer geneem om te verstaan en te aanvaar dat hy inderdaad probeer het om my te vermoor,” skryf sy in die boek.

Deesdae voel sy of sy, vry van Emile, ’n tweede kans op die lewe het. “Ek het weer begin om mense te vertrou. Ek sien selfs weer iemand.”

Sy het Victoria nooit ontmoet nie, vertel Nicolene. “En baie jare lank het ons geen kontak met Emile gehad nie. Toe, in 2015, stuur my ma vir my ’n berig oor sy inhegtenisneming. En toe kontak ek vir Emile.

“Hy het vir my gesê ja, dit gaan nou baie moeilik, dis lekker om van my te hoor, ek moet asseblief net nie met die media praat nie. En ek het ingestem. Maar toe sê ek daarna vir my ma ek weet hy het dit gedoen, anders sou hy dit dadelik teenoor my ontken het.”

Nadat hy van poging tot moord aangekla is, het Emile ook weer sy en Nicolene se kinders gekontak en selfs een middag vir Cilene en Trevor gesien. Op foto’s glimlag die drie asof hulle nooit vervreem was nie.

Emile en sy kinders by Nicolene, Trevor en Cilene.
Emile en sy kinders by Nicolene, Trevor en Cilene. Foto verskaf


“Ek het nie geweet hy gaan die kinders sien nie,” vertel Nicolene. “Ek sou dit nie toegelaat het nie. Hulle sê hy het voorgegee asof daar geen tyd verloop het sedert hulle hom laas gesien het nie, en hy het vir niks jammer gesê nie.”

Sy skud haar kop en pers haar lippe saam toe sy die besonderhede van Emile se verraad en moordplanne weer hoor.

Sy is bly hy moet eindelik die gelag betaal. “Hy kom nog altyd weg met alles. Daar was nog nooit gevolge vir sy slegte optrede nie.”
Dan sug sy.

“Dis alles eintlik baie scary. Ek wonder baie oor daardie tyd toe ek en Carly hom gekonfronteer het. Hy het aanhou sê ek en hy moet alleen gaan stap. Ter afsluiting. En ek is nie ’n stapper nie. Ek het nee gesê. Maar ek weet nie – het hy dalk iets beplan?

“Al wat ek beslis weet, is ek het ’n bullet ge-dodge met dié man, en ek is vandag baie dankbaar daarvoor.”

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES. SHUTTERSTOCK/GREATSTOCK, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe