Melissa Dyer verwerk 14 jaar later steeds die trau
Melissa Dyer verwerk 14 jaar later steeds die trauma van die dag toe haar eks hul baba in haar maag laat dood­skiet het – en nou kom hy uit op ­parool. Foto: Gallo Images/Getty Images

Al flonker daar in die Kerstyd oral liggies, hou die feesdae vir haar donker herinnerings in. Want in dié tyd dink sy altyd aan haar ongebore dogtertjie vir wie daar nooit geskenke onder die boom sal wees nie.

Boonop sal Kersfees 2020 selfs moeiliker as vorige jare vir Melissa Dyer wees. Tydens die inperking is sy ná ’n huwelik van 10 jaar geskei en moes sy onlangs die man wat destyds haar lewe verwoes het weer in die gesig staar; die man wat meer as 14 jaar gelede, op Valentynsdag 2006, hul ongebore baba in haar maag laat dood­skiet het.

Boonop sal die gevangenis se deure op Oukersdag vir hom oopswaai nadat hy destyds weens dié wrede daad tronk toe gestuur is.

Kyk jy nou na Melissa (38), sou jy dink sy is reeds met vakansie saam met haar kinders. Abbey* en Adam* is nog klein en die gesin begin al voorbereidings vir die feestyd tref. Maar al lyk sy nes enige ander ma, laat haar verhaal jou ril.

David Best is destyds tydens sy verhoor in die hooggeregshof in die Oos-Kaap as ’n psigopaat bestempel.

Dit was in Augustus vanjaar toe Melissa die telefoonoproep kry: David Best, die pa van haar ongebore eersteling, word vir parool oorweeg en sy kan die paroolverhoor bywoon as sy wil. Sy was destyds hoogswanger met dié dogtertjie toe David gereël het dat sy in ’n kwansuise kaping geskiet word. Die babatjie sou Jenna-May heet, maar sy is dood weens die skoot in haar ma se maag.

Melissa was naar van skok toe sy die oproep kry. Sy het Best laas in 2007 gesien toe hy en sy medepligtige, Ludwe Mshumpa, weens poging tot moord op Melissa tronk toe gestuur is. Ingevolge Suid-Afrikaanse regspleging was hulle nie strafbaar vir die dood van haar ongebore baba nie.

Melissa erken sy het nooit gedink sy sal dapper genoeg wees om Best weer in die gesig te kyk nie. Hy is destyds tydens sy verhoor in die hooggeregshof in die Oos-Kaap as ’n psigopaat bestempel.

“Ek is ná al die jare steeds bang vir hom. Maar toe hulle my bel, dink ek: ‘Nee, ek gáán na sy paroolverhoor, al sê ek nie ’n woord nie.’ Ek wou hê hy moes bly net waar hy is,” vertel sy.

In November het Melissa snaarstyf van spanning aan tafel by haar eks se paroolverhoor gesit. “Ek het baie min vir hom gekyk, al het dit heeltyd gevoel hy kyk vir my. Hy het heeltyd verwys na ‘my betrokkenheid dit, my betrokkenheid dat’.”

Toe skryf sy ’n nota vir haar advokaat: “Ek wil hoor hoe hy sê: ‘Ek het haar doodgemaak.’ ”

Sy wou hê hy moes erken wat hy gedoen het; wat hy aan haar en hul kind gedoen het.

En toe die teleurstelling: Die paroolraad beveel aan dat Best weens die covid-19-gevaar in oorvol gevangenisse vrygelaat word. Hy het net 13 van sy 21 jaar tronkstraf uitgedien.

“Ek het gedink ek is oor dit wat gebeur het, maar nee . . . Toe ek by die huis kom, was ek geknak.”

Hy was nooit aggressief of iets nie, maar hy het nie baie met ander mans gesosialiseer nie. Onder die vroue was hy altyd ’n charmer.

As kind het Melissa altyd na die Kersboomliggies gestaar en gedroom hoe sy eendag haar eie baba se verwondering sou aanskou. Die oggend van Valentynsdag in 2006 was haar droom binne reik­afstand. Die toe 23-jarige Melissa was 39 weke swanger met Jenna-May. Sy het ­uitgesien na die natuurlike geboorte en daardie eerste spesiale familie-Kersfees as mamma later die jaar.

Sy is vir oulaas na haar ginekoloog in Oos-Londen. As die pa het Best haar vergesel, al was hulle nie meer in ’n verhouding nie.
Sy het met hom uitgemaak omdat hy haar verkul het, maar ’n week daarna het sy ontdek sy is swanger. Hy wou hê sy moes ’n aborsie kry, maar sy het geweier.

Melissa vertel sy en Best was ’n jaar lank in ’n verhouding nadat hulle mekaar by haar werk, waar hy die IT hanteer het, ontmoet het. “Hy was nooit aggressief of iets nie, maar hy het nie baie met ander mans gesosialiseer nie. Onder die vroue was hy altyd ’n charmer.”

Melissa en haar ekskêrel David Best, wat die meest
Melissa en haar ekskêrel David Best, wat die meesterbrein agter die aanval was. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe hulle later by die spreekkamer uitstap, was Best in ’n ligte luim, onthou Melissa. Die hof het later gehoor hy het Mshumpa gehuur as “die skieter” wat hom ná daardie besoek aan die ginekoloog as ’n motorkaper sou voordoen.

Mshumpa het hulle by die motor ingewag, agter in die motor geklim en Best beveel om te ry met sy wapen op hulle gerig.

Sigbaar woedend vertel Melissa: “David het heelpad my been vasgehou. ‘Alles sal oukei wees,’ het hy getroos.”

Op ’n brug by die nywerheidsgebied buite Oos-Londen moes hulle stilhou. Mshumpa het Best in die skouer geskiet. Melissa het haar arms beskermend om haar maag gevou, maar Mshumpa het twee skote deur haar vingers geskiet. Haar baba is in die onderlyfie getref en is in haar maag dood.

Mshumpa het padgegee en David het met die skouerwond self probeer hospitaal toe bestuur. Langs hom het die bebloede Melissa haar ma, Kathy Shelver, gebel. Op pad het hulle op ambulansdienste afgekom en hulle om hulp genader. Dié het hulle toe na die hospitaal gejaag.

Melissa se ouers, Alfred en Kathy, hou klein Jenna
Melissa se ouers, Alfred en Kathy, hou klein Jenna-May in die hospitaal vas. Sy het nie die tragedie oorleef nie. Foto: Gallo Images/Getty Images


By die St Dominic’s-hospitaal is Melissa reguit na die teater geneem om haar dooie baba uit te haal en haar eie lewe te red. “Ek kon Jenna-May net ’n klein rukkie vashou . . . Ek wens ek kon toe net meer in die oomblik wees, maar ek was nog onder sterk verdowing.”

Tien dae ná die “mislukte motor­kaping”, terwyl sy vir haar ontslag gereedgemaak het, het die polisie, ’n sielkundige en ’n dominee skielik langs haar hospitaalbed gestaan.

Tydens die verhoor het Melissa gehoor daar was vyf ander beplande aanslae op haar lewe wat nooit uitgevoer is nie.

Best is in hegtenis geneem, hoor sy. Die polisie het Mshumpa opgespoor en hy het alles uitgeblaker. “Ek was histeries van skok. Hulle wou hê ek moes langer in die hospitaal bly, maar ek het geweier.” Maande lank daarna was sy bang om alleen te wees. Bedags was sy by ’n vriendin; snags by haar ma.

Haar eks, moes sy later hoor, wou haar laat vermoor, want die swangerskap was vir hom “ongerieflik” omdat hy reeds met ’n ander vrou in ’n verhouding was.

Tydens die verhoor het Melissa gehoor daar was vyf ander beplande aanslae op haar lewe wat nooit uitgevoer is nie.  

Eers ná Best se vonnisoplegging in 2007 kon sy begin om Jenna-May se dood te verwerk. Sy het weer gewerk, maar die volgende agt jaar lank op Valentynsdag tuisgebly.

“Almal het geweet: Los my net uit; dis my dag. Die agtste jaar is ek alleen strand toe om haar as te strooi,” vertel sy. “Ek het net besef ek moet op ’n manier oor dit kom. Maar ek wonder nou nog hoe Jenna-May sou gelyk het, of dink dat sy al op hoërskool sou wees.

“Elke jaar is moeilik. Maar die koms van my twee kinders het Kersfees darem weer makliker gemaak,” sê sy.

Die swangerskappe was egter uitdagend omdat haar eierstok weens die skietery beskadig is. Haar dogter het grootgeword met die wete Mamma “is bang vir alles”.

“Die kinders het jare lank by ons in die kamer geslaap, en die deur moes altyd gesluit wees. Ek kan vandag nie met ’n oop venster ry nie en die kardeure moet altyd gesluit wees. Ek was jare lank bang iemand agtervolg my. Ek is steeds bang, veral snags.”

Sy het jare gelede aan Abbey vertel sy het “ ’n babasussie in die hemel”. “Adam weet ook, maar ek dink hy is nog te klein om te verstaan. Sy ousus is dus baie versigtig oor wat sy om hom sê.”

Melissa is vandag die ma van twee jong kinders.
Melissa is vandag die ma van twee jong kinders. Foto: Verskaf

Onlangs het Abbey ’n foto in ’n silwer raam met hartjies in hul huis ontdek. Dis van Jenna-May, tot onder haar kennetjie toegedraai in ’n babakombers, in die een kosbare oomblik toe Melissa haar kon vashou. Op die foto lyk klein Jenna-May vreedsaam, kompleet asof sy in haar ma se arms slaap.

* Skuilname.

  • Nobuntu Gantana, ’n Oos-Kaapse woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het aan Huisgenoot bevestig David Best word op 24 Desember vanuit die Mdantsane-gevangenis op parool vrygelaat. Sy sê Best het reeds sy minimum aanhoudingsperiode oorskry en rehabilitasieprogramme voltooi.