Imogen Tingay (25), ’n student van Guildford in Brittanje, ly van geboorte af aan die toestand wat haar vel laat bars, jeuk en seer raak. In 2013 het sy voorgeskrewe steroïedrome begin aanwend om die simptome te bestry.

Oor die volgende drie jaar het Imogen se vel van die rome begin afhanklik raak, en toe sy dit ophou gebruik, het sy topikale steroïed-onttrekking (TSO) ontwikkel – wat twee jaar geduur het. TSO is ’n toestand wat grootliks deur mediese kenners geïgnoreer word. 

Die toestand laat die vel nog pynliker en ontsteek raak wat veroorsaak dat dit bars en sweer. Weens die isolerende aard van die herstelproses kan dit ook tot geestesgesondheidstoestande soos angs en depressie bydra.

Imogen Tingay
Foto: mediadrumworld.com / @healing_imogenellen/Magazinefeatures.co.za
Imogen Tingay
Foto: mediadrumworld.com / @healing_imogenellen/Magazinefeatures.co.za

Tydens haar herstelproses was Imogen so selfbewus sy het net die huis verlaat as dit absoluut noodsaaklik was. Sy het daagliks paniekaanvalle onderdruk voor sy werk toe is – die enigste plek waarheen sy tydens haar ergste uitbraak van ses maande gegaan het.

Nadat dokters haar vrese as niks afgemaak het en verplig het om die probleem self aan te pak, wil Imogen nou bewustheid oor die kwessie kweek. “Die herstelproses was absolute hel en ek wens dit niemand toe nie. Ek wou nie uitgaan of gesien word nie. Selfs wanneer ek mense gesien het wat ek ken, was ek beangs en verleë,” sê Imogen. 

“Die uitwerking op my geestesgesondheid was by tye oorweldigend. Ek het gedurig ’n bol angs in my bors gehad, en ek het geen idee gehad wat met my liggaam gebeur nie.

"My dokters was nie ondersteunend nie, en dit het my afgesonder en alleen laat voel. Die gebrek aan slaap het alles vererger en dit was vir my moeilik om met mense te praat oor hoe ek voel. 

Imogen Tingay
Foto: mediadrumworld.com / @healing_imogenellen/Magazinefeatures.co.za
Imogen Tingay
Foto: mediadrumworld.com / @healing_imogenellen/Magazinefeatures.co.za

“Ek het gedink mense, nes die dokters, dink ek oordryf. Ek raak nou nog paniekerig wanneer ek na foto’s van my vel op sy ergste kyk.

'Ekseem is as baba by my gediagnoseer, maar dit het in my laat tienerjare ’n hoogtepunt bereik. Dis toe dat ek steroïedrome begin gebruik het – drie jaar lank, daagliks.” 

Steroïedrome word algemeen voorgeskryf vir pasiënte wat aan ekseem ly, maar mense wat al TSO ervaar het, maan die rome is ’n kitsoplossing en nie ’n langtermynplan nie. Imogen het deur Istagram in aanraking gekom met ander mense met TSO en wil nou bewustheid skep.

“Die rome kan baie gevaarlik wees, en ek is maar een van vele wat as gevolg daarvan gely het. Die dokter het my baie dwaas laat voel toe ek my simptome van steroïedonttrekking beskryf het,” sê Imogen. 

Imogen Tingay
Foto: mediadrumworld.com / @healing_imogenellen/Magazinefeatures.co.za

“Baie mense beskou steroïedrome as ’n wonderkuur aangesien dit ekseemsimptome binne ’n paar dae laat vervaag, maar dit versluier net die probleem en maak dit in die werklikheid veel erger. Dit is ook te sterk om elke dag te gebruik. Dit moet aangeroer word en dit moet met ’n ernstige waarskuwing gepaardgaan. 

“My vriende was vir my van groot hulp – dié in my daaglikse lewe en dié wat ek aanlyn ontmoet het. Dit het gehelp om ’n sterk steunstelsel te hê van mense wat dieselfde as ek deurgemaak het. 

“Dit kan moeilik wees vir vriende en familie om te verstaan; daarom is dit belangrik om te praat met ander mense wat TSO eerstehands ervaar het. 

“Vir die mense wat bekommerd is of leiding nodig het – die internasionale netwerk oor topikale steroïede (ITSAN) het baie inligting wat my gehelp het. Ons moet op die oorsake van ekseem begin fokus en nie die simptome verbloem nie.”