’n Vrou het onthul haar maat, by wie sy ’n kind het, deel toesig oor ’n teddie met sy eksmeisie. 

Die teddie, met die naam Bear, word tussen hul huise uitgeruil en dus is die voormalige paartjie gereeld in kontak. 

Sy en haar lewensmaat is al amper twee jaar bymekaar, verduidelik die vrou, wie se naam nie bekendgemaak is nie, in ’n gesprek op Mumsnet.

Sy sê haar 40-jarige kêrel het met sy eks uitgemaak ’n paar maande voor hulle begin uitgaan het. Die twee is vriendskaplik uitmekaar. 

“Hulle het sedertdien skaars enige kontak gehad nie. Dit lyk of sy ’n heel gawe mens is.”

Maar sake het begin vreemd raak toe die eksmeisie begin inloer om Bear met vakansie te neem. 

Dit was die eerste keer wat sy van die ongewone reëling bewus geraak het. 

“DP (haar maat) het my nie gewaarsku dit gebeur nie en ek het net verwag sy sou van DP se goed aflaai. DP het die oorhandiging gedoen, maar dit was alles ondraaglik ongemaklik,” skryf die vrou. 

Sy het gedink die uitruiling sal die einde daarvan wees, maar was geskok toe haar maat ’n paar maande later noem hy gaan Bear by sy eks se huis aflaai. 

Sy sê al is sy “100% seker” daar’s niks tussen hom en sy eks nie, laat die situasie haar “ongelooflik vreemd, ongemaklik en ’n bietjie onseker” voel. 

“Ek weet alte goed die rede hoekom hy my nie vertel het nie, was omdat hy daaroor verleë is (en met reg!), maar dit voel steeds dislojaal om iets met ’n eks te reël en my nie te sê nie.

“En dan’s daar die feit dat dit so f***** vreemd is! Toe sy vra of sy Bear vir Kersfees kon kry, kon ek sien hy voel hy kon nie beswaar maak sonder om gemeen en kleinlik te lyk nie of my as die een of ander agterdogtige malletjie uit te maak nie (hy weet ek was nie die vorige keer heeltemal gelukkig daaroor nie).”

Haar kêrel kon nie vir sy eks ’n eie sagte speelding vir Kersfees gee nie, want sy sou “Bear se persoonlikheid mis”, verduidelik sy. 

Sy het ander sosialemediagebruikers se raad gevra en bygevoeg: “Ek weet nie wat daaroor my so baie pla nie. 

“Ek dink dié soort simpel kinderagtigheid oor DP se beer is piekfyn binne die grense van ’n romantiese verhouding, maar buite een is dit net ’n bietjie grillerig.”

Ander vroue het in die sosiale media met haar saamgestem dat die situasie vreemd is, berig Metro

“Ek weet nie eens waar om met dié een te begin nie,” lewer een kommentaar. “Hoekom het hulle ’n gedeelde beer?” 

“Dit is regtig vreemd. Hy moet eenvoudig vir haar die beer gee en die malligheid beëindig!” laat hoor ’n ander een. 

Wat dink jy – is dit grillerig of net oulik?

Bronne: Metro, Mumsnet, The Sun