Dis veronderstel om die allerveiligste plek ter wêreld te wees, die plek onder ’n ma se hart waar ’n baba groei en wag om gebore te word. Maar dit was net hier dat ’n enkele koeël uit ’n kaper se rewolwer die ongebore kindjie so seergemaak het, sy sou nooit die vreugde smaak van loop en hardloop nie.

Courtney Ellerbeck het reeds voor haar geboorte waarskynlik die jongste Suid-Afrikaanse slagoffer van ’n motorkaping geword. Vandag, 18 jaar later, sit sy in ’n rolstoel en vertel in haar heel eerste onderhoud van drome wat nooit waar kan word nie – en van ander wat dalk wel kan . . .

Ons kuier hier by haar en haar ma, Lesley (41), en stiefpa, Roley Hockly (53), in die sitkamer van ’n skoolkoshuis op Bethal, Mpumalanga, waar die gesin woon en Roley ’n onderwyser is. Destyds het hoofopskrifte dit uitbasuin: “Geskiet voor geboorte,” en: “Hier is die land se wonderbaba!”

Dit was inderdaad ’n wonderwerk dat Courtney oorleef het, maar soms sukkel sy met die werklikheid van haar daaglikse lewe.

“Ek weet dis deel van my lewe en ek moet dit aanvaar,” sê Courtney. “Ek moet net grootword en aangaan (met my lewe), maar dit maak seer.

“Al weet ek ek moenie in ’n hoekie gaan sit nie, is dit nou baie dae moeilik om soggens uit my bed op te staan.”

Lesley is dadelik by om haar enigste kind moed in te praat.

“Ek sê dikwels vir Courtney daar is niks fout met haar nie. Ja, ons haat skoene koop!

“Maar sy kook, sy maak koffie, sy was haar eie wasgoed . . .

“Sy kan alles doen, want alles werk – dit is net haar bene wat nie werk nie.”

‘Ek het my nog altyd as ’n normale kind beskou’ Foto: Onkgopotse Koloti

Lesley was ’n werklose kleuterskoolonderwyseres toe sy kort voor haar 23ste verjaardag onverwags swanger raak. Hoewel die pa tot kort ná haar baba se geboorte in die prentjie was, het hy hom daarna uit die voete gemaak en, volgens Lesley, nooit weer ’n rol gespeel nie.

Daar is dele van die oggend van 30 Maart 2000 wat blykbaar vir ewig uit Lesley se geheue gewis is, maar sy onthou ander dele in volkleur asof dit gister gebeur het.

Die hoogswanger Lesley het in Kempton Park by haar ouers, Mary (nou 65) en George (nou 71), gewoon toe sy die dag haar wit Toyota Corolla se bande wou laat vervang het.

Vroeg die oggend het sy besluit om eers in Boksburg-Suid by haar geliefde ouma Miemie Edwards (nou 86) in te loer.

Sy het vinnig gesig gewys. Dit was net ná negeuur die oggend toe sy daar uitstap na haar motor.

Haar tweejarige niggie, Zizzanne Edwards, was langs haar ouma toe hulle Lesley groet.

“My ouma het nog gevra of ek al ’n naam vir my baba het. Ek het vir haar gesê ek wil nie die geslag weet nie, want ek wou graag hê dit moes ’n verrassing wees. Toe’s daar ewe skielik nog twee stemme . . .”

Lesley is nie seker of sy dit uit skok uit haar geheue blokkeer het en of sy werklik niks gesien het nie, want tot vandag toe weet sy nie hoe die twee kapers gelyk het of wat hulle aangehad het nie.

Die een het haar ouma so hard gestamp, haar regtergewrig is gebreek.

Haar verhaal het destyds opslae gemaak. Foto: Onkgopotse Koloti

Haar tannie Deidré Govender (nou 44) het in die huis die geskree gehoor en die polisie gebel. Tussen die chaos en gille deur het ’n kaper die sleutels uit die motor se aansitter geruk en toe op Lesley begin skiet.

Die eerste skoot is deur haar en haar baba, maar sy het dit nie besef nie.

“Ek het nog in skok geskree: ‘Jou idioot, jy skiet blanks!’ ”

Sy het niks gevoel en nie geweet haar ongebore baba, wat dwars in haar maag gelê het, is in haar linkerboud getref nie.

’n Tweede skoot uit die .38 Special-rewolwer was mis en het die motor se sitplek getref.

Die mans het weggehardloop. Deidré het die ambulansdiens en haar ma, Mary Ellerbeck (65), ’n teatersuster by die nabye Arwyp-hospitaal, ontbied.

Hier is Lesley in die hoësorgeenheid opgeneem.

Sy het by haar bewussyn gebly tot dokters haar verseker het hulle hoor nog haar baba se hartklop.

Lesley en Courtney toe dié klein was. Foto: Verskaf

Sy was 32 weke swanger.

Met ’n noodkeisersnee is die 1,9 kg-baba die wêreld ingebring. Eers ses dae later het die dokters besef haar derms is so beskadig, sy kan geen van haar ma se borsmelk inhou nie.

Die senuwees om klein Courtney se rugstring was ook erg beskadig – sy sou met mediese hulp oorleef, maar was verlam.

Vandag nog het Courtney geen gevoel van haar naeltjie tot by haar voete nie.

Die tiener met die modieuse skelpienk toppie en stywe swart broek wat voor ons sit, het ten spyte van haar lot reeds baie vermag.

Toe Huisgenoot laas met haar ma gesels het, het Lesley haar kleuter van 21 maande as ’n aktiewe woelwater beskryf wat haarself op ’n manier leer “kruip” het.

'Ek het my nog altyd as ’n normale kind beskou’

Voor hulle Bethal toe verhuis het, was Courtney lid van die Aquatic Academy-swemklub in Kempton Park en het sy op 10 provinsiale kleure in swem vir gestremdes verwerf.

Sy kry op die oomblik tuisonderrig om matriek te skryf. Maar Courtney is vol vrae oor waarom dit juis haar lot was en sy nie soos haar vriendinne kan loop nie.

“Ek het my nog altyd as ’n normale kind beskou. Ek sit net terwyl ek alles moet doen,” vertel sy ons.

“Ek het my eers onlangs begin afvra: ‘Hoekom ek?’ Ek kan nie soos my vriendinne mooi skoene dra nie, en hoekom kan ek nie iemand ontmoet wat nie eerste die rolstoel raaksien nie?”

Toe sy die vertrek vir ’n rukkie verlaat sodat ons fotograaf haar kan afneem, gesels Roley trots oor sy stiefdogter. Hy is sewe jaar gelede met haar ma getroud.

Roley vertel Courtney het ’n wonderlike humorsin. Sy twee seuns, James (27) en Joey (26), is soos haar eie broers.

“Toe Joey onlangs trou, het Courtney onverwags gesê sy wil iets sê. Sy wás snaaks, maar die oë het éérs gerek toe my seun James die ‘seremoniemonster’ (Courtney) aankondig en sê: ‘Hier kom die stand-up comedian.’ ”

Sy het as kind in swem uitgeblink. Foto: Verskaf

Roley kry trane in sy oë toe hy vertel Courtney het destyds reeds op hul troue gevra sy wil graag, soos haar ma, sy van aanneem. Dié onnie se wens is nou dat hulle ’n aangepaste motor sal kan bekom sodat sy kan leer bestuur.

Met haar terugkeer vertel Courtney al is sy optimisties oor die toekoms, kry sy nog haar af dae.

“Dan wil ek net heeldag in my bed in my kamer bly. Dit voel vir my asof mense my nie onafhanklik wil laat wees nie.

“Ek wil nie heeltyd in hierdie lugborrel wees waar almal my gedurig help asof ek dit nie self kan doen nie.”

Sy is lief vir kos maak en wou vandat sy kan onthou graag ’n sjef word, maar sy dink nou dit sal nie kan werk nie omdat sy nie alles sal kan bykom nie.

Maar sy het ’n ander droom wat sy graag wil bewaarheid: Volgende jaar wil sy vir die eerste keer oorsee gaan.

“Ek weet nog nie wat ek daar gaan doen nie, maar ek gaan!”

Ons vra haar waarvoor sy die bangste is. Nee, nie om in die vreemde met ’n rolstoel reg te kom nie. “Dat ek sonder my ma gaan wees!”

Dan kyk Lesley liefdevol na haar dogter en sê: “Dis tyd om jou vlerke te sprei, my kind."