André van Huyssteen, ’n verkoopskonsultant, is op Dinsdag 6 November in die Steve Biko Akademiese Hospitaal dood, het sy vrou, Ilse van Huyssteen, aan Huisgenoot gesê. 

Die hospitaal het Ilse om 19:20 gebel om haar in te lig haar man het ophou asemhaal. 

Die ma van twee sê die dood van haar man het haar gesin hard getref. 

“Dis moeilik, maar ek sal hierdeur kom. Ek weet hy waak oor my waar hy ook al is,” sê Ilse aan Huisgenoot. “Die kinders beleef dit die ergste.” 

André en Ilse het op 9 Augustus, ’n openbare vakansiedag, by vriende in Pretoria gekuier toe die ongeluk gebeur. 

Die groep vriende het in ’n Jacuzzi ontspan toe die warmwaterstelsel ontplof. Die ontploffing het ’n stuk hout teen André se kop laat skiet. Die voorwerp het sy skedel binnegedring en sy serebrale membraan geskeur. 

Huisgenoot het vroeër berig André is vier keer geopereer en in ’n medies geïnduseerde koma geplaas om die swelling op sy brein te laat sak. 

André het met tye sy bewussyn herwin en selfs sy familielede herken, wat sy geliefde hoop gegee het hy sou oorleef. Ongelukkig was dit nie die geval nie. 

Die 30-jarige laat sy vrou en twee jong seuns, onderskeidelik nege en drie jaar oud, na.

Die familie wag op die lykskouingsverslag van die hospitaal voor hulle André se begrafnis reël.