“Ek het my hele lewe hard gewerk. Ek het hom by die kollege elke dag gaan oplaai toe hy geswot het. Toe hy siek word was ek die een wat hom versorg het en hom hospitaal toe gevat het. Nie sy nie.”

Nou gaan die 64-jarige tot die bittereinde toe in die hooggeregshof baklei nadat dit aan die lig gekom het dat die ander vrou 51% van Gerald se tamaai R8.5 miljoen boedel gaan erf en sy 49%.

Gerald en Louise in gelukkiger dae. Foto: Tumelo Leburu

“Hulle was nie eers wettiglik getroud nie,” sê sy.

“Dit is nie regverdig nie. Ek gaan baklei.”

Lees hier Huisgenoot se onderhoud met Louise toe sy van die skoknuus te hore gekom het. Die artikel is oorspronklik in die uitgawe van 6 April 2017 gepubliseer.

MAN STERF – TOE SKOK OOR 2DE VROU 

Die ongelooflike verhaal van hoe ’n vrou uitgevind het haar man was terselfdertyd ook met iemand anders getroud.

Sy het gedink sy en haar man was getroud tot die dood hulle geskei het, soos hulle 30 jaar tevore op hul troudag aan mekaar beloof het.

Maar terwyl sy reggemaak het vir sy roudiens, het sy ’n oproep gekry wat die laaste vastigheid onder die 64-jarige weduwee se voete weggeruk het.

“Ek het nie geweet jy en Gerald is geskei nie,” het die makelaar van ’n versekeringsmaatskappy gesê. Louise Engelbrecht het lam geraak van skok.

Toe moes sy hoor ’n ander vrou eis haar oorlede man se polisse – as sy wettige vrou.

Op sy sterfdag op 3 Mei 2016 het Gerald (56) aan Louise erken hy het ’n buite-egtelike verhouding gehad, maar die nuus dat hy ook met dié vrou getroud was, het Louise onkant betrap.

Navrae het bevestig dat Gerald inderdaad die vorige jaar met nog ’n vrou getrou het ingevolgende die Islam-geloof, wat hy blykbaar aanvaar het.

Hy was ’n wonderlike man. Hy het nooit iets vir my weggesteek nie. Net die affair.

“Ek was soos ’n besetene,” vertel Louise van die dag toe die derde groot skok binne agt dae haar tref: eers die erkentenis dat hy ontrou was, toe sy doodstyding nadat hy hom geskiet het en daarna die nuus dat nog ’n vrou daarop aanspraak maak dat sy sy weduwee is.

Nou, nege maande ná sy dood, is sy steeds in ’n regstryd gewikkel nadat die hooggeregshof in Johannesburg Gerald se huwelik met Amina Khan* (38) in Oktober verlede jaar ongeldig verklaar het, maar dié dit teenstaan.

Intussen woon Amina ten spyte van ’n uitsettingsbevel steeds in die huis wat Gerald vir haar aan die Wes-Rand gekoop het, al het Louise as sy wettige erfgenaam ná sy dood die verband daarop afbetaal.

Terwyl sy die geregtelike kraaines probeer uitpluis, is haar emosies ’n warboel.

“Ek kan my nou nog nie my lewe sonder hom voorstel nie,” sê Louise in die tuinwoonstel in Germiston waarin hulle saam gewoon het. Sy en Gerald het nooit baklei nie.

“Hy was ’n wonderlike man. Hy het nooit iets vir my weggesteek nie. Net die affair.”

Twee weke voor sy dood het sy begin dink iets skort.

Haar man, ’n finansiële bestuurder by ’n mediamaatskappy, was wel dikwels uithuisig, maar sy het aanvaar hy werk laat of kuier by vriende.
Sy het eers onraad vermoed toe sy afkom op koopbewyse vir wasbakke en spieëls.

Hy het namens ’n kollega betaal omdat dié se bankkaart nie wou werk nie, het hy verduidelik. Die waarheid het eers uitgekom toe Gerald een oggend ’n SMS kry.

Louise het dit gelees terwyl hy in die stort was. “Good morning, my darling. I am leaving in five minutes,” het dit gelui.

Toe sy haar man konfronteer, het hy erken hy het al ses jaar ’n buite-egtelike verhouding. Eers het hy gesê hulle moet skei, maar daardie aand het hy in trane gesê hy het ’n fout gemaak. Hy het erken hy het vir die ander vrou ’n huis gekoop. Louise was bereid om hul huwelik te probeer red, maar sy wou sy bankstate sien en die ander vrou ontmoet.

Gerald wou nie so ’n ontmoeting reël nie. In die bed het sy haar aangedane man lank vasgehou om hom te troos.

Sy kon nie aan die slaap raak nie. Sy het later opgestaan en is kombuis toe, waar sy die poeier van 160 pille, onder meer kalmeer- en pynpille en pille vir artritis, in ’n glas met kookwater gemeng het. “Gerald het ingekom en gesê: ‘Jy hoef nie dit te doen nie,’ ” vertel sy. 

Nadat hy terug is na hul slaapkamer, het Louise die mengsel gesluk.

Sy het ’n selfdoodbrief geskryf en toe gevoel hoe haar tong dik raak in haar mond.

’n Week later het sy in die hospitaal bygekom, met haar drie volwasse kinders langs haar bed.

Toe sy na Gerald vra, moes sy hoor net nadat sy die pille gedrink het, het hy hom buite hul agterdeur doodgeskiet.

Die aand ná sy begrafnis het Louise se broer, Charles van den Heever, haar die bewyse gebring dat Gerald op 13 November 2015 as ’n Moslem met Amina getrou het.

Agt maande tevore het hulle saam aan die Wes-Rand huis gekoop.

Op Gerald se bankstate het Louise later op betalings van R48 000 afgekom vir behandelings by ’n vrugbaarheidskliniek.

Tot vandag het die twee vroue in Gerald se lewe mekaar nog nie ontmoet nie, maar wel al oor die foon gepraat.
Louise vertel Amina het vir haar gesê sy was onder die indruk Gerald is geskei.

Volgens sy testament is Louise sy enigste erfgenaam; daarom was sy aanspreeklik vir die uitstaande paaiemente op die verband van die huis wat Gerald vir Amina gekoop het.

Sy het vier agterstallige paaiemente betaal en daarna die uitstaande bedrag van meer as R571 000.

Louise wil die huis nou verkoop, maar daarvoor moet dit eers op haar naam geregistreer word. Dit kon nog nie gedoen word nie omdat Amina se naam as Gerald se vrou op dokumente van die huisverbandmaatskappy verskyn.

Louise het reeds ’n uitsettingsbevel bekom waarvolgens Amina die huis einde Desember moes verlaat het.

Ek slaap nie; ek eet nie. Ek gaan net werk toe en kom terug huis toe en kan skaars konsentreer,

Sy bly egter nog daar aan terwyl sy die hofbevel teenstaan waarin haar en Gerald se huwelik nietig verklaar is. Die gebeure van die afgelope maande was vir Louise, wat ’n wassery in ’n privaat hospitaal bestuur, bitter moeilik.

“Ek slaap nie; ek eet nie. Ek gaan net werk toe en kom terug huis toe en kan skaars konsentreer,” erken sy.

En ja, sy is bitter, erken sy.

“Nie teenoor hom nie,” voeg sy dan by, “maar ek is hartseer en ek is baie kwaad dat hy dit gedoen het.”

Op die plek in die tuin waar haar man gesterf het, het sy ’n broodboom geplant met klein klaprosies rondom. Daar sit sy gereeld en dink.

“Ek sal nie weer na sy graf gaan nie, want dis nie waar hy is nie.

Maar ek sit hier buite en worstel met hom.” * Skuilnaam. S B Amina het Huisgenoot se versoek om ’n onderhoud geweier en wou ook nie kommentaar lewer nie.

– Jana Smit