Leslie Cilliers
Leslie Cilliers. Foto: Verskaf

Een van sy moordenaars word binnekort vrygelaat en Roxanne sê die nuus het ou wonde oopgekrap. Hier vertel sy haar familie se verhaal van onbeskryflike pyn en hul eindelose stryd om geregtigheid: 

"Ek onthou die dag soos gister.

Hoewel 18 jaar al verloop het sedert my pa, Leslie Cilliers, tydens ’n bankrooftog geskiet is, is die wond nog rou en die verlange na hom groter as ooit. My pa was ’n eerbare man.

’n Polisieman wat sy lewe daaraan gewy het om die mense van ons land te beskerm en op te hef. Hy was betrokke by gemeenskapsprojekte en op die ou end is sy lewe geneem toe hy aan diens was. Die ironie ontgaan my nie.

Dit was ’n Woensdagmiddag toe my lewe vir altyd verander het. Ek was ’n gr.11-leerder aan die Hoërskool Table View. Die hoof het in my klaskamer gekom met ’n bekommerde uitdrukking op sy gesig en gevra om my te sien. Ek onthou ek het gedink: ‘Sjoe . . . wat ek het nou gedoen?'

Toe ek sy kantoor bereik, het ek twee van my pa se kollegas in uniform daar sien staan. Hulle het gesê ek moet saam met hulle gaan. Ek het dadelik gewonder wat gebeur het, maar het nie gedink dit het iets met my pa te doen nie. Ek het saam met hulle in die motor geklim en terwyl ons gery het, het die gedagtes deur my kop gemaal.

“Is iemand dood?” het ek eindelik uitgeblaker. Hulle het vir mekaar gekyk en was duidelik ongemaklik.

In die paar sekondes wat dit hulle geneem het om te besluit wie die nuus aan my sou bekend maak, het ek deur ’n lys van ouer familielede gegaan.

Leslie Cilliers
Roxanne as jongmeisie, by haar pa en ma. Foto: Verskaf

Ek kon steeds nie begryp hoekom ek in ’n polisiemotor gehaal word nie. Eindelik het een van die beamptes stilweg geantwoord: “Dis jou pa.”

My pa is 52 keer geskiet. Die man was een van ses bankrowers wat weggehardloop het met die geld, maar het nie baie ver gevorder nie. Toe my pa en sy kollegas hulle eindelik inhaal, het die mans paniekbevange geraak en die koeëls het daardie middag in Atlantis neergereën.

My pa was net 38 toe hy gesterf het; sy hele lewe het voor hom gelê.

En nou kom een van sy moordenaars in aanmerking vir parool. Xolani Kumalo was die skieter en is drie lewenslange vonnisse opgelê, maar in Suid-Afrikaanse reg word lewensvonnisse gelyklopend eerder as die een na die ander uitgedien.

Dit beteken die maksimum tyd wat hy kon dien, is 25 jaar. Xolani het sowat 18 jaar uitgedien en word nou weens goeie gedrag vir parool oorweeg.

Ek het amper nie woorde nie. Ons as gesin is die mense wat ’n lewensvonnis van pyn en verlies gekry het. My pa het die doodsvonnis gekry.

Leslie Cilliers
Roxanne van Eck (34) was net ’n tiener toe haar polisieman-pa in ’n bankrooftog 18 jaar gelede geskiet is. Foto: Verskaf

My ma, Thyra, het ’n senuwee-ineenstorting gehad. Sy was nooit weer dieselfde nie. My grootouers, Helen en Jannie, moes hul seun begrawe. 

Ek haat die feit dat my pa van ons gesin weggeneem is. Ek sal nooit die mans wat dit gedoen het kan vergewe nie en daarom baklei ek om Xolani Kumalo agter tralies te hou.

Sedert die nuus van sy moontlike vroeë vrylating bekend geword het, het ek honderde briewe van ondersteuning gekry wat ek aan die departement van korrektiewe dienste gestuur het vir hul rekords.

Ek het ook ’n aanlyn petisie begin wat in minder as ’n week sowat 1 000 handtekeninge gekry het. Ek sal nie ophou baklei vir geregtigheid nie. Dis waarvoor my pa gestaan het."