Evgeny Anisimov maak sy seun, Mishka, alleen groot nadat sy eksvrou hul gesin verlaat het omdat die feit dat hy Downsindroom het haar oorweldig het. 

Die 33-jarige man deel nou sy storie met die hoop om ander te inspireer wat met dieselfde uitdagings stoei.  

“Ek het nie geweet wat om te doen toe ek hoor my seun het Downsindroom nie,” het hy aan Bored Panda vertel. “Ek het daarop gefokus om my emosies af te sny, my gedagtes aan die gang te kry en my vrou te ondersteun, want ek het geglo dit (die diagnose) sal vir haar moeiliker wees.”

Tog het hy gehuil die dag toe hy twee jaar gelede die hospitaal verlaat. “Later het ek skuldig gevoel oor die trane.”

Hy het begin navorsing doen oor Downsindroom en uitgevind dat mense met die toestand goed kan aanpas en onafhanklik kan leef en werk. 

Ongelukkig was die tyding vir sy vrou te veel en sy het daarop aangedring dat hulle die seuntjie vir ’n kinderhuis gee. Evgeny wou niks daarvan weet nie, al het dit beteken dat die egpaar se paaie moes skei.

Hy het besluit om die verantwoordelikheid aan te gryp en sy seuntjie self groot te maak. 

Aanvanklik was borsmelk die grootste probleem, maar gelukkig het hy ’n skenker gekry. Vriende en familie het ook ingespring om te help. 

Nou het Evgeny en Mishka (2) ’n gevestigde roetine en hulle doen so veel as moontlik oefeninge wat masserings en speletjies insluit om die seuntjie se fisieke ontwikkeling aan te moedig.

'n Weldoener het ook ’n geldinsameling gehou sodat Mishka toegang tot ’n swembad kan kry en nou gaan hy gereeld vir lesse.

 

Evgeny geniet al die vreugdes van vaderskap en vier elke oomblik wat hy saam met sy klein seuntjie deurbring. Hy deel gereeld foto’s van alles wat hulle doen soos stap, lees en speletjies speel.

“Wanneer ’n kind gebore word, vra hy vir die wêreld: Is ek noodsaaklik, of nie?" meen Evgeny. "Die antwoord is met sekerheid: Seun, jy is noodsaaklik!"

Bronne: Bored Panda, Bright Side, Instagram

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe