Ivor Swartz, eens ’n dwelmverslaafde en veroordeelde misdadiger, verkondig vandag aan mense landwyd die storie van God se genade. Foto: Verskaf
Ivor Swartz, eens ’n dwelmverslaafde en veroordeelde misdadiger, verkondig vandag aan mense landwyd die storie van God se genade. Foto: Verskaf

Op ’n Sondagaand in 1998 is ’n sjebien in die woonbuurt Pineview net buite Grabouw in die Wes-Kaap stampvol jolytsoekers.

Onder hulle is Ivor Swartz, net 14 jaar oud, maar reeds lid van ’n jeugbende in die omgewing en swaar onder die invloed van drank, dagga en mandrax. Vroegaand kom sy ouboet, Deon (25), die kuierplek binne en stap dreigend na Ivor en sy vriend en medebendelid Romeo Moore (toe 20).

Net ’n paar weke tevore het die twee die buitekamer waarin Deon gebly het, afgebrand, en nou wil hy wraak neem. Deon se vuiste doen die praatwerk. Dan storm hy uit met Ivor en Romeo ’n ent agter hom. In elkeen se sak is ’n gesteelde pistool.

Toe Deon onder ’n straatlamp deurstap, tref twee koeëls hom in die rug. Hy sak op die grond neer en sterf drie dae later in die plaaslike hospitaal.

Ivor en Romeo word kort daarna in hegtenis geneem en tronk toe gestuur. Min sou Ivor in daardie donker dae kon dink tyd dat hy 22 jaar later as jeugleraar op die kansel van die NG gemeente Oosterlig in Pretoria sou staan en dat sy preke en godsdienstige dagstukkies op RSG uitgesaai sou word.

Of dat hy jaarliks by sowat 60 skole landwyd geestelike motiveringspraatjies sou lewer en dat van sy Christelike rubrieke gereeld op E-Kerk se webtuiste sou verskyn. Hy was immers toe nog iemand “wat nie ’n verstaan van God gehad het nie”, sê Ivor (36), wie se outobiografie, Die verlore seun vannie Gaatjie, verlede jaar deur Lux Verbi uitgegee is.

Daarin beskryf hy sy lewenspad wat, soos hy sê, van die sjebien tot by die kansel geloop het – en ook sy verhaal van verandering, eindelike uitkoms en nuwe hoop.

Hy het pas twee koppies espresso gedrink en sy skoene uitgeskop, vertel Ivor oor die foon waar hy op die rusbank in sy en sy vrou, Nadine (30), se meenthuis in Constantiapark, Pretoria, sit.

Dan begin hy vertel van die lang kronkelpad wat hy tot hier gestap het. Ivor se lewe het op 4 Augustus 1984 begin as die naasjongste van ses kinders in ’n blou skakelhuisie in Bosstraat, Pineview, Grabouw – of Gaatjie, soos die mense dit daar noem.

As tienerseun in Pineview, Grabouw. Daar word dié
As tienerseun in Pineview, Grabouw. Daar word dié woonbuurt “Gaatjie” genoem.

“Dit is ’n plek sonder hoop, en dit is nie fênsie nie. Dis waar die naam ‘Gaatjie’ vandaan kom,” vertel hy. “Dit is ’n varkhokervaring met rye klein huisies en rondloperhonde in die stowwerige strate.”

Sy ma, Lettie, het in die wasafdeling van die plaaslike ouetehuis gewerk en sy pa, Pieter, was ’n seisoenswerker wat op appelplase gewerk en net oor naweke tuis was. Een naweek, in die winter van 1987, toe Ivor drie jaar oud was, het Pieter nie huis toe gekom nie.

Hy en ’n ander werker het die nag versmoor nadat hulle in die kamer waar hulle op ’n plaas gebly het in ’n blik vuurgemaak het om die koue te verdryf.

“Almal het hom ‘Pieter-Bingo’ genoem, maar ek het geen herinnering aan hom nie,” vertel Ivor. “My oudste suster, Tess, het my later vertel hoe ek daai tyd by die venster gestaan en huil het en gekyk het of Pa nie van die volgende trok gaan afklim nie.”

Deon, toe 14, het as oudste die rol van ’n vaderfiguur in die huis oorgeneem. “Hy het homself aangestel, maar hy was die monster van die blou huis,” beskryf Ivor hom.

“Hy was ’n absolute tiran. As hy moeilikheid by die skool of op straat kry, dan kom slaan hy byvoorbeeld sommer ons huis se vensters uit.

“Hy het my aangerand om elke hoek en draai. Soos die dag toe ek huilend huis toe gehardloop het nadat ’n by my gesteek het. Toe slaan hy my met sy belt.

“Toe hy groter word, het hy my en Ma Lettie en my jongste boetie buite uitgesluit. Dan moes ons maar by ander mense gaan slaap.”

Ma Lettie was ’n Christen en was elke Sondag in die kerk, maar as jong seun was die Bybel vir Ivor maar net nog ’n storieboek.

“Ek het nie ’n verstaan van God gehad nie. Daar word altyd na God as ’n pa verwys, maar ek kon nie daarby aanklank vind nie. My twee verwysings van ’n pa was my aardse pa wat dood is en ons met swaarkry gelos het, en toe my ouer monsterbroer wat homself as die pa van die huis gesien het.”

Ivor was op laerskool toe hy die eerste keer die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 lees.

“Ek het myself daarin gesien: Ek was die verlore seun wat ’n hongerte gehad het vir ’n huis. Want die huis wat ek toe gehad het, was nie ’n huis nie. Dit was net ’n slaap- en eetplek. Eers jare later, toe ek in 2006 tot bekering kom, toe kry ek ’n regte huis.”

Dinge het destyds by sy ouerhuis net ál erger geword, en in 1998 wou Ivor (toe 14) en sy vriend Romeo, wat ook toe al onder Deon se woedebuie deurgeloop het, hom terugkry. Daarom het hulle Deon se kamer afgebrand, sê Ivor.

Dit was die vonk in die kruitvat wat op die sjebiengeveg en die moord uitgeloop het. Romeo is daarvoor en vir ander onverwante aanklagte van diefstal, roof en aanranding tot altesaam 36 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy 18 jaar uitgedien het.

Die minderjarige Ivor is ses jaar tronkstraf opgelê. Hy was nog besig om sy vonnis uit te dien toe Ma Lettie in Julie 2005 aan ’n hartaanval oorlede is. Ivor kon nie toestemming by korrektiewe dienste kry om haar begrafnis by te woon nie.

“Dis maar oor al die nonsens wat ek in die tronk aangevang het – bakleiery, bendegeweld, sulke dinge,” verduidelik hy. “En die dagga en die mandrax. Maar in daardie jaar het ek my matriek in die tronk gekry,” voeg hy by.

Toe hy in Desember 2005 vrygelaat word, het ’n bewaarder hom gewaarsku dat baie mense sukkel om weer in die samelewing aan te pas. Hy het Ivor aangeraai om by ’n kerk in te skakel.

 Ivor is verlede jaar as die jeugleraar by die NG
Ivor is verlede jaar as die jeugleraar by die NG kerk Oosterlig in Pretoria aangestel. Hy het sy honneursgraad in teologie in 2018 aan die kweekskool van die Universiteit van Pretoria verwerf.

Terug op Grabouw is hy dadelik na Gerhard en Ammie Coetzee se bediening. Hulle het hom ook verblyf gegee in ruil vir instandhoudingswerk by die kerk. ’n Maand later het hy tot bekering gekom.

“Ek het besef ek het heeltyd na God gekyk deur die lense van my eie miserabele lewe. Ek het nooit na hom gekyk as die Pa wat hy eintlik altyd is nie. En toe val die skille van my oë af,” vertel Ivor. “Ek het ’n dissipelskapkursus by die kerk gedoen, maar die hongerte vir die teologie het net groter geword.”

Tussen 2008 en 2011 het hy deur afstandsonderrig teologie aan die South African Theological Seminary studeer. By hul bedieningskool op Somerset-Wes, waar hy sy praktiese opleiding gedoen het, het hy Nadine, ’n medestudent, ontmoet.

By sy vrou, Nadine, wat uit ’n “baie goeie Afrikaa
By sy vrou, Nadine, wat uit ’n “baie goeie Afrikaanse huis kom”, vertel Ivor, “maar sy het my met my wilde storie gekies”. Foto: Verskaf

Hulle is in Desember 2015 op ’n wynplaas in die Robertson-distrik getroud.

 Op hul troudag in 2015 op ’n plaas by Robert­son.
Op hul troudag in 2015 op ’n plaas by Robert­son. Foto: Verskaf

Drie jaar later het Ivor sy honneursgraad in teologie aan die kweekskool van die Universiteit van Pretoria verwerf. Tydens sy studentejare het hy al gedink “dit sal goed wees as ek eendag my storie in boekvorm vir die mense kan gee”.

Mense wat sy outobiografie gelees het, sê dikwels vir hom hoe dit hulle geraak het en hoe jammer hulle hom kry oor die omstandighede waarin hy moes grootword, vertel Ivor.

“Dan antwoord ek hulle moenie my jammer kry nie. Sê eerder net dankie aan God vir sy genade.”

Ander wil weer weet hoe hy die boek sal opsom. Vir hulle sê hy kort en kragtig: Dis die verhaal van die verlore seun wat huis toe gekom het. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe