“Dit is byna 'n jaar later en die feit dat ek nog nie sy pa oor sy eie seun se dood kon inlig nie, is net so tragies soos my seun se afsterwe.”

Op 7 Julie 2017 het Marie se grootste nagmerrie waar geword toe sy haar 18-jarige bruinoogseun Brandon aan die dood moes afstaan.  

“Ek glo nie Brandon se pa weet eens van sy dood nie,” sê sy.

Brandon Roux. Foto's Verskaf

“Daarom moet ek hom aanhou soek.”  

Brandon, 'n gewilde matriekleerling aan die Hoërskool Upington, is op die noodlottige dag in 'n bad water gevind waar hy vermoedelik verdrink het nadat hy deur gas oorval is. 

Brandon Roux op skool.

Die kranige rugbyspeler is omstreeks 18:00 deur sy stiefpa, Jacques, dood in die bad van 'n werkershuis op 'n plaas op 'n soutpan naby Askham in die Kalahari, gevind. 

Sy foksterriër-hond is ook dood buite die badkamerdeur gevind. Die polisie het destyds vermoed die hond het moontlik by Brandon probeer uitkom toe hy ook deur die gas van 'n geyser oorval is.

Die bad waar Brandon se lyk gevind is nadat hy deur gas van ‘n geyser in ‘n plaashuis oorval is.

Jacques het onraad begin vermoed toe hy Brandon op sy selfoon probeer kontak en hom nie in die hande kon kry nie. Hy het die familievriend op wie se plaas Brandon gekuier het, gekontak waarna sy lyk in die bad gevind is. 

Marie vertel Brandon was vyf jaar oud toe haar huwelik met sy pa, Barend  (Ben) Coetzee, op die rotse geloop het. 

Marie en Barend se destydse huweliksertifikaat.

“Ná die egskeiding het Brandon nooit weer kontak met sy pa gehad nie,” sê sy. 

Marie sê dit was nog altyd Brandon se begeerte om sy pa op te spoor.

Barend Petrus (Ben) Coetzee, soos hy deestyds gelyk het.

“Hierdie ding jaag my. Ek dink nie eens hy weet sy seun is dood nie. Ek probeer hom opspoor om vir hom te sê wat met Brandon gebeur het.”

• Barend Petrus (Ben) Coetzee het in Kimberley grootgeword en later in Carletonville gewoon. Hy was destyds 'n vragmotorbestuurder.

Enigiemand met inligting oor waar hy moontlik kan wees, kan vir Mari 'n e-pos stuur na mhj.roux@gmail.com