In die vyf maande dat haar seun, Ruan, ná sy ongeluk in ’n koma was, het Liesel Joubert baie gebid. “Ek het die Here gesmeek om my kind aan my terug te gee. Dit maak nie saak hoe nie. En Hy het.”

Liesel (48) glimlag hartseer. Want al het sy en haar man, Rynand (49), geweet Ruan is in sy hart nog dieselfde lewenslustige jong man wat hy in die voorafgaande 19 jaar was, was dinge daarna anders.

Hy kon nie meer loop nie. Sy ouers moes hom bad en help eet. Hy moes doeke dra. En toe volg die Jouberts se vier jaar lange emosionele reis met hul seun terwyl hy in ’n toestand soortgelyk aan 'n skynkoma was. 

Liesel Joubert, Ruan se ma, sê sy het gebid dat Go
Liesel Joubert, Ruan se ma, sê sy het gebid dat God Ruan aan hulle teruggee. Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

’n Skynkoma is ’n toestand waar jou lyf byna leweloos is, maar anders as ’n volle koma is jy nie bewusteloos nie. Jou sintuie is glashelder sodat jy alles rondom jou kan sien en hoor.

Nadat Ruan uit sy koma ontwaak het, het hy vier jaar lank in ’n nákoma gebly. Hy het soos ’n kluisenaar in sy eie liggaam gelê en beleef hoe sy ma of versorgers hom met ’n lepel voer; hoe hulle hom elke drie uur kom omdraai sodat hy nie bedsere kry nie.

Ek het vir hom gesê ek wil hom so graag ‘mamma’ hoor sê.

Liesel en Rynand het nie hoop verloor nie. Hulle het geglo en gebid dat Ruan sal herstel, weer sal praat en dalk loop. Hulle het ’n rolstoel gekoop sodat hulle hom op uitstappies kan neem. Sy pa het hom soms in die swembad ondersteun terwyl hy op die water dryf. Hulle het hul bes gedoen om hom so normaal moontlik te laat voel.

Soggens wanneer Ruan wakker geword het, het sy ma langs hom gaan lê. Soms in stilte. Soms het sy met hom gesels.

“Ek het vir hom gesê ek wil hom so graag ‘mamma’ hoor sê,” vertel sy.

Haar onderlip bewe. En verlede maand het dit eindelik gebeur. Op ’n opname wat sy daardie dag gemaak het, kan ’n mens duidelik hoor hoe haar volwasse seun moeisaam die woord uitkry: “Mamma”.

“Dit was vir my ’n lig in die donkerte,” sê Liesel. Maar dit was ook sy laaste woord. Want twee weke later, op 5 Maart, het Ruan weens covid-19 en ’n sekondêre infeksie gesterf. 

Ruan se kamer is nog onaangeraak. ’n Suurstoftenk staan in die hoek en teen die dak van sy kamer is ’n industriële katrol monteer wat sy versorgers en ouers gebruik het om hom van die bed af op te tel en te skuif. Rynand het dié katrol gemaak, want ten spyte daarvan dat Ruan in sy nákoma net sagte kos kon eet, het hy ’n stewige 100 kg geweeg. 

Dit is ’n warm dag in Kimberley en net ’n week tevore het Ruan nog in dié kamer gelê.

Liesel, Rynand en hul dogter, Adri (25), praat en spot oor Ruan asof hy nog by hulle in hul huis is. Asof hy steeds vol lewe en grappies is. Hulle glimlag selfs toe hulle vir ’n foto poseer – nog so vol liefde en herinneringe aan die jong man wat eens so teenwoordig in hul lewens was.

“Sy gunstelingwoorde was ‘ek joke net’, en dan het hy daai terggees-glimlag van hom gegee,” sê Liesel.

“Toe Ruan in gr. 1 was, het hy op sy eerste dag ’n afspraak met die hoof gemaak en gesê hy wil toestemming hê om nie skoolskoene te dra nie. En hy het dit reggekry.” 

“Dit is hoe Ruan was. Hy kon homself uit alles uitpraat. Hy sou ’n goeie prokureur wees,” lag Rynand.

Ruan op sy matriekafskeid by Grey Kollege in Bloem
Ruan op sy matriekafskeid by Grey Kollege in Bloemfontein. Foto: Verskaf

Hy wys ’n videogreep van Ruan op ’n motorfiets wat teen ’n hoë spoed op ’n plaaspad jaag.

“Kyk, dit was vir jou Ruan. Hou die foon met die een hand vas en bestuur met die ander terwyl hy homself afneem. 

“Hy het die video ’n dag voor sy ongeluk vir pelle gestuur,” vertel Rynand. Op talle foto’s en in video’s, nes dié een, het Ruan sy kenmerkende parkajas aan. 

Dit was in Junie 2017 dat alles verander het. Ruan was ’n LL.B.-student in sy eerstejaar aan die Noordwes-universiteit toe die gesin op ’n plaas naby Boshof in die Vrystaat by Frikkie Markgraaff, deesdae Adri se man, gekuier het.

“Ruan het met die motorfiets gery om ’n plaashek te gaan toemaak. Dit was nie eens ver nie,” vertel Adri.

Hy het vermoedelik beheer oor die motorfiets verloor en teen ’n damwal vasgejaag. Frikkie het hom daar gekry.

“Hy het nie ’n pols gehad nie. Frikkie moes noodhulp toepas en het met hom hospitaal toe gejaag,” vertel Rynand.

Sy vriend Frikkie (links), wat intussen met sy sus
Sy vriend Frikkie (links), wat intussen met sy suster getroud is, het ná die ongeluk in 2017 noodhulp op hom toegepas, sy hart aan die klop gekry en met hom hospitaal toe gejaag. Foto: Verskaf

Liesel vroetel met haar hande en trane loop geluidloos by haar wange af.

“Ruan het dit van kleintyd af gehaat om alleen te wees. Tot op sy laaste was iemand by hom,” sê Adri.

Selfs toe hy in Bloemfontein in die hospitaal was en sy ouers na hul werk in Kimberley moes terugkeer, het Adri, destyds ’n onderwysstudent in haar finale jaar, elke dag langs sy bed gewaak. 

Ruan was vyf maande lank in ’n volle koma ná sy mo
Ruan was vyf maande lank in ’n volle koma ná sy motorfietsongeluk in 2017. Foto: Verskaf

In Januarie 2019 kon Ruan huis toe kom en meteens moes die Joubert-gesin ’n nuwe lewe gewoond raak.

Die mediese fonds het vir versorgers betaal wat dag en nag vir hom kom sorg het.

Al het Ruan toe byna leweloos op die bed gelê, het die gesin geweet hy is bewus van alles. Hulle het hul bes gedoen om hom te laat voel sy lewe gaan so normaal moontlik voort. 

“Ruan was nog altyd ’n baie goed versorgde ou,” vertel Adri. “Hy was altyd gestel op wat hy aantrek.”

Voor die ongeluk het Ruan sy gesin gespot dat niemand aan sy hare mag sny as hy nie toestemming gegee het nie, so die gesin het begin om sy ál langer hare in ’n vlegsel te bind.

Mettertyd het allerlei klein seëninge opgeduik. Ruan het selfs geleer om sy hande effens te beweeg.

“As iemand nuuts in die huis is en hy lê op sy bed met net sy doek aan, het hy geluide gemaak en baie kwaad geraak. Hy wou nie hê mense moes hom so sien nie,” sê Liesel. “Wanneer ons foto’s van hom in sy toestand wou neem, het hy sy oë toegeknyp,” las Adri by.

Rynand vertel hy kon nie bloot langs Ruan se bed sit nie. “Ek is ’n doener. Ná sy ongeluk het ons tyd saam deurgebring, maar dan het ons rugby gekyk of geswem.” Dit was Rynand se idee om saam met Ruan te swem deur hom in ’n opslaanswembad te tel en hom te help dryf.

Mettertyd het allerlei klein seëninge opgeduik. Ruan het selfs geleer om sy hande effens te beweeg.

“Hy het sy duim gelig wanneer iets reg is. Wanneer ek hom geïrriteer en aan hom gekarring het, het hy sommer vir my ’n middelvinger gewys,” lag Adri.

Tog het praat hom bly ontwyk. “Maar hy het presies geweet wat jy vir hom sê.”

Ruan by pa Rynand, ma Liesel, suster Adri en haar
Ruan by pa Rynand, ma Liesel, suster Adri en haar man, Frikkie Markgraaff, verlede jaar op hul troue. Foto: Verskaf

Hoe Ruan covid-19 opgedoen het, weet hulle nie. Niemand anders in die gesin het vir die coronavirus positief getoets nie. 

Ruan sou in Maart ’n standaard mediese prosedure ondergaan het, maar toe doen hy covid-19 op. Sy ouers vertel hy het geen simptome gewys nie, maar vier dae later ’n koors ontwikkel. ’n Dag voor sy dood het hulle met hom hospitaal toe gejaag omdat sy suurstofvlakke gedaal het. Hy is binne 24 uur oorlede.

Liesel en Rynand is egter skepties daaroor of covid-19 sy dood veroorsaak het en glo dit was eerder die sekondêre infeksie wat dokters nie met antibiotika kon beveg nie.

“Ruan het soveel mense se lewe geraak. Hy het so h
“Ruan het soveel mense se lewe geraak. Hy het so hard gewerk om te probeer glimlag of sy hand op te lig ná sy ongeluk,” sê Adri. Sy gesin sê ondanks hul hartseer is hulle verlig sy lyding is nou verby. Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

“Die dag dat Ruan dood is, het ek by hom in die hospitaal gesit,” vertel Liesel. “Ons het na gospelmusiek geluister. Hy was op ’n ventilator, maar hy was nie heeltemal verdoof nie. Ek het vir hom gesê dis oukei, hy hoef nie meer te veg nie. Hy kan maar rustig raak. Toe hou sy hart op met klop.”

Rynand kyk af na sy hande. “Ek is die realis. Ek het hoop en bid, maar dit was baie erg om my kind so te sien. Vir Ruan se onthalwe is ek verlig die lyding is nou verby,” sê hy en sy oë blink.

“Nou kan hy weer Ruan wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe