’n Spesiale band bestaan tussen ’n tweeling, ’n onuit­gesproke verbintenis, ’n intuïtiewe aanvoeling wat nie maklik verwoord kan word nie, ’n same­­syn selfs wanneer hulle nie by mekaar is nie.

Dis die soort verhouding wat Margaret Harrod en haar tweelingbroer, Michael Aulsebrook, gehad het.

As kleuters was hulle onafskeidbaar – of “by die heup aan mekaar vas”, soos hul ma sou sê. Op laerskool het hulle langs mekaar gesit, as tieners dieselfde vriende gehad en op 22 albei hul lewe aan die Rooms-Katolieke Kerk gegee.

Margaret het ’n non geword en Michael ’n priester, lewenslank tot God en mekaar verbind.

Margaret koester daardie sorgelose herinnerings, want vandag is haar broer in die tronk.

As kinders het die tweeling ’n spesiale band gedeel en was hulle on­afskeidbaar
Dié foto is op hul 12de verjaardag geneem. Op 22 h
Dié foto is op hul 12de verjaardag geneem. Op 22 het albei hul lewe aan die Rooms-Katolieke Kerk gegee

Vader Michael is ’n veroordeelde pedofiel, en die onwaarskynlike onthuller was sy moedige tweelingsuster wat die afgelope dekade ’n stryd teen die kerk en haar familie gevoer het om haar broer voor die gereg te bring.

Die voormalige non het ’n duur prys betaal en nie net haar geloof verloor nie, maar ook ’n broer wat sy verafgod het en haar familie wat weier om te aanvaar hul geliefde seun is skuldig. Al waaroor sy spyt is, is dat sy nie haar stem gouer laat hoor het nie.

“Praat was die regte ding om te doen – dit was die enigste ding om te doen,” sê Margaret, wat die uitsonderlike verhaal in haar memoires, Blood on the Rosary, vertel.

“Dit spook by my dat ek nie gepraat het toe ek die eerste keer onraad vermoed het nie, want dalk kon ek dan ander die mishandeling gespaar het. Ek sal vir die res van my lewe daarmee saamleef, maar ten minste weet ek hy kan nie meer enigeen seermaak nie.”

'Hy was heilig'

In Maart 1987 is Michael (toe 31) tydens ’n luisterryke seremonie in ’n kerk in Engadine, Sydney, tot priester inge­seën. Gaste van oral in Australië het die naweek lange vierings met aandetes, misdienste en plegtighede bygewoon.

Geen onkoste is ontsien nie en Michael was sy familie se trots en vreugde.

“In my ouers se oë was hy heilig,” vertel Margaret (62).

“Hulle het dit as ’n groot eer beskou om ’n priester in die familie te hê. Sy inseëning was beslis die gelukkigste dag van hul lewe.”

Saam met hul ouers by Michael se inseëning in 1987
Saam met hul ouers by Michael se inseëning in 1987 in Sydney. Foto met vergunning: Aulsebrook- en Harrod-gesinne se agiewe

Jare later, toe sy speurders van die Victoria-polisie die grusame web van molestering help uitpluis wat haar broer geweef het, het Margaret besef baie van die jong gesigte daardie dag in die gemeente was slagoffers van sy misdade.

“Dit was kinders wat hy onderrig het, kinders uit gesinne in die gemeente, mense wie se huise ons saam besoek het,” het sy gesê. “Die ouers het Michael met hul kinders se lewe vertrou en hy het daardie vertroue geskend.”

Michael se loopbaan in die kerk het reeds jare tevore begin toe hy by die Sale­siaanse Orde se vooraanstaande Ruperts­woodkollege in Sun­bury, Victoria, klas gegee het.

Broeder Michael was gewild onder die leerders. Hy het dikwels vir hulle lekkernye by die kantien gekoop en sy etenstye op die speelterrein deur­gebring. Hy het vinnig in die Salesiaanse Orde opgang gemaak en is tot adjunkhoof be­vorder.

Maar teen daardie tyd moes die waarskuwingsligte al geflikker het.

Wanneer Michael sy gesin tydens skoolvakansies besoek het, het hy dikwels ’n leerder saamgebring.

“Hy het elke keer ’n ander seun by hom gehad,” vertel Margaret.

“Ek was ontsteld daaroor. My instink was dat dit nie reg is nie, maar Michael het vir ons gesê die seuns kom uit probleemgesinne en hulle het ’n blaaskans nodig. Die gesinne het in­gestem dat hul kinders saam met Vader Michael met vakansie gaan. Waarom sou ek die een wees wat dit bevraagteken?

“My ouers het gedink dit is ruim­hartig van Michael om die seuns met vakansie weg te neem. Hulle het in hotelle gebly, soms saam met familielede.

“Wanneer ek nou terugdink, wou ek nie glo wat my binne­ste vir my gesê het nie. Ek kon my nie indink dat daar iets onheilspellends daaraan was nie en ek het myself oortuig alles is in die haak.”

Self 'n slagoffer

Ongelukkig weet Margaret maar alte goed watter vernietigende uitwerking seksuele misbruik het.

Sedert sy twee jaar oud was tot in haar vroeë 20’s is sy deur haar godsdienstige pa, die orrelis by die plaaslike kerk en ’n steunpilaar in die Katolieke gemeenskap, misbruik.  

In 1981 by hul ouers. Haar pa het haar gemolesteer
In 1981 by hul ouers. Haar pa het haar gemolesteer vandat sy twee jaar oud was, sê sy. Foto met vergunning: Aulsebrook- en Harrod-gesinne se agiewe

Sy het ’n non in die Salesiaanse Orde geword om van sy molestering te ontsnap.

Maar toe sy op haar kwesbaarste was, is sy weer misbruik – deur die priester aan wie sy haar geheim onthul het.  

Soos soveel ander slagoffers van seksuele molestering is Margaret oorweldig deur gevoelens van skaamte, waardeloosheid en die verraad van mense wat veronderstel was om haar te beskerm. Dit het haar tot op die rand van selfdood gedryf. Maar ’n kollega by die plaaslike gemeenteskool het een oggend vir haar onwetend ’n reddingsboei gegooi.

“Sy het vir my gevra: ‘Het jy gisteraand die program op TV oor bloedskande gesien? Dit was oor slagoffers van molestering wat daaroor praat. Dit het my regtig geraak. Dit is verskriklik om te dink enige ouer kan hul eie kind so iets aandoen.’ ”

Daardie paar woorde het ’n enorme uitwerking op Margaret gehad.

“Toe het ek nog vir niemand vertel wat my pa aan my gedoen het nie. Ek het dit alles diep in my binneste begrawe, maar met haar woorde het sy bevestig dat wat my pa met my gedoen het verkeerd is en dat dit oukei is om daaroor te praat.”

Margaret het die klooster kort daarna verlaat en begin met wat ’n lewenslange reis na genesing sou wees. Sy het haar pa dapper gekonfronteer.

Hy het skuld beken, maar ook aan­gevoer dit was sy manier “om sy liefde uit te druk”.

“Ek het vir hom geskree dit is geen manier om jou liefde vir jou dogter te wys nie,” het sy gesê.

Margaret het later liefde gevind by die vloot­matroos Rod Harrod, wat sedertdien haar rots is, maar soms het die pyn van haar molestering vir haar te veel geword. Sy het ineengestort en omvattende terapie ondergaan.

Nadat Margaret die kerk verlaat het, het sy met di
Nadat Margaret die kerk verlaat het, het sy met die vlootmatroos Rod Harrod getrou

Terwyl sy nog haar eie seksuele mishandeling probeer verwerk het, het nog ’n onheilspellende legkaart begin vorm aanneem toe ’n oudleerder van Michael hom in 1993 van seksuele aanranding beskuldig.  

Die dag met die dogtertjie

“Dit was soos ’n weerligstraal deur my hart, en ek het geweet die jong man praat die waarheid. Ek het ’n spesifieke dag helder onthou toe ek en Michael ’n gemeentegesin saam besoek het en hy hul jong dogter aangemoedig het om op sy knie te sit.

“Hy het reg oorkant my gesit en ek kon sien hoe hy haar magie baie onvanpas vryf.

“Toe het ek nog vir niemand vertel wat my eie pa aan my gedoen het nie en daar het ek my tweelingbroer dit ook sien doen. Ek was in algehele ontkenning en het eers jare later besef hoe veel­seggend dit was.”

Met Rod aan haar sy is sy na die kerk se komitee vir beroepstandaarde om haar kommer oor Michael en nog twee priesters met hulle te deel.

Hulle het bevestig verskeie bewerings van onsedelike aanranding word teen haar geliefde broer ondersoek. Margaret en haar twee jonger broers het hom daarna ge­konfronteer en hy het skuld beken.

My bloed het gekook. Al waaraan ek kon dink, was die kinders. Wie beskerm hulle?

“Die kerk het volgehou dat hulle die saak hanteer en Michael is na ’n kerk­program vir pedofielpriesters weg­gestuur om ‘gerehabiliteer’ te word.

“Ek was met afgryse vervul. Sodra hy die program voltooi het, sou hy na die gemeen­skap teruggestuur word. My bloed het gekook. Al waaraan ek kon dink, was die kinders. Wie beskerm hulle?”

Margaret het daarop aangedring om ampsdraers van die kerk persoonlik te ontmoet.

Dit is toe dat sy uitvind nog ’n be­wering teen Michael word ondersoek. Die slagoffer is ontmoedig om na die polisie te gaan en is ’n vertroulike skikking aangebied omdat dit “sy woord teen die kerk” is.

“Van die bewerings teen Michael is ­gemaak nog voor hy formeel georden is; tog is hy ’n priester gemaak en bevorder.”

Margaret het geweier om tou op te gooi. Sy kon skaars glo dat ten spyte van die skokkende be­werings teen haar broer hy tot hoof van die Sint Mar­kus-­kollege in Port Pirie, Suid-­Australië, bevorder is.

“Dit was die begin van ’n dekade van hel vir my persoonlik terwyl ek hand en tand teen die kerk baklei het vir erkenning van wat ek gesien en van wat ek by hulle aangemeld het,” sê sy.

  • In Augustus 2011 het Michael eindelik skuld beken op verskeie aanklagte van onsedelike aanranding op ’n 12-jarige seun. Hy is tot twee jaar tronkstraf en ’n opgeskorte vonnis van 15 maande gevonnis. Hy het nege maande agter tralies deurgebring.
  • In 2016 is hy weer tronk toe vir mis­dade teen nog drie slagoffers.
  • In Augustus 2018 is hy aan die verkragting van ’n 11-jarige seun by die Salesiaanse Kollege skuldig bevind en tot nog sewe jaar en ses maande tronkstraf gevonnis. Al die misdade is in die 1980’s gepleeg.

“Die skuldigbevindings is ’n formele erkenning dat wat hy gedoen het verkeerd was. Dit bring vir my troos dat wat ek al die jare gesê het reg is en maak my stryd die moeite werd. Tog is dit ook soos ’n rouproses,” erken Margaret.

“Ek rou oor my verlore broer. Die broer wat ek gedink het ek gehad het, is nie die broer wat in die tronk sit nie, en dit maak my diep seer dat ek die band verloor het wat ons gedeel het. Hy dien sy vonnis uit. Hy lei ’n verlore lewe.”

Rod en die egpaar se kinders, Jason en Nicola, is trots dat Margaret haar stem laat hoor het.

Maar nie die hele familie is bly daaroor nie. Party meen haar broer se misdade het die familie te veel in die skande gesteek. Maar Margaret is oor net een ding spyt: dat sy dit nie gouer onthul het nie.

Margaret Harrod het jare lank teen die Rooms-Ka­to
Margaret Harrod het jare lank teen die Rooms-Ka­to­lieke Kerk in Australië geveg. Sy kon nie verstaan waarom die kerk onwillig was om teen haar pedofielbroer op te tree nie

“Ek was meer as 20 jaar skuldig daaraan dat ek nie gepraat het nie. Dit is belangrik dat ons die verlede aanvaar en daaroor praat om te sorg dat dit nooit weer gebeur nie,” sê sy.

“As ek die eerste dag gepraat het toe ek hom aan daardie jong meisietjie sien vat het, het ek moontlik baie ander dit gespaar en nou moet ek daarmee saamleef. Dit is nie nou tyd om stil te bly nie; dis tyd om te praat.”

Dit is tyd vir slagoffers van molestering om hul mag te herwin en hul stem te laat hoor.

Margaret sê al was dit ’n uitdaging om haar storie te vertel, was dit ook “baie suiwerend en bemagtigend.

“Jare lank kon ek geen woord teenoor enigeen uitkry nie. Die hartseer, skaamte en verleentheid was soos ’n ondeurdringbare betonblok in my, ’n donkerte wat byna die lig van hoop in my verteer het.

“Ek was oorweldig. Maar ek sal nie meer uit skaamte swyg nie. Dit is tyd vir slagoffers van molestering om hul mag te herwin en hul stem te laat hoor.

“Ek praat namens dié wat nog nie hul stem laat hoor het nie en namens dié wat probeer praat het, maar toe nie gehoor is nie.”

Margaret meen daar is ’n rede waarom sy al die jare van molestering oorleef het: Sy glo dit is om ander mense te inspireer en te bemagtig.

Sy het opleiding as lewensafrigter en motiveringspreker ontvang en wy haar tyd daaraan om gemolesteerde vroue ’n gevoel van eiewaarde te help opbou en hul drome waar te maak.

Dit is tyd vir eerlikheid, deursigtigheid en ware berou van die kerk – slagoffers verdien dit om die waarheid te hoor.

“Dit was ’n lang reis, maar as my storie een mens kan help om hul mishandeling te verwerk, is alles die moeite werd.

“Bowenal wil ek mense aanmoedig om daaroor te praat.

“Seksuele mishandeling is ’n plaag in ons samelewing, en ek glo nie ons het al tot die kern daarvan onder geestelikes deurgedring nie. Dit is tyd vir eerlikheid, deursigtigheid en ware berou van die kerk – slagoffers verdien dit om die waarheid te hoor,” sê sy.

Dié nuwe roeping is dalk ver verwyder van haar vroeëre begeerte om God te dien, maar die voormalige suster Mar­garet sê dit is haar belangrikste sending nog: om lig op die saak te werp en genesing vir haarself en ander te bewerkstellig.

“Ek is sterk,” sê sy.

“Ek was hel toe en terug en het oorleef. Ek het my lewe lank hard baklei om te oorleef, en ek sal alles uithaal om met my genesing vol te hou. Dit is wat ek elke dag moet doen sodat ek die opwinding daarvan kan ervaar om te leef, en nie net te oorleef nie.”  

© BAUERSYNDICATION.COM.AU/­MAGAZINEFEATURES.CO.ZA; FOTO'S: ALANA LANDSBERRY/AUSTRALIAN WOMENS WEEKLY/MAGAZINE FEATURES, VERSKAF
Het jy hulp nodig?
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.