Die polisie het Donderdagoggend in ’n verklaring bevestig dat ’n 50-jarige man en twee vroue van onderskeidelik 27 en 40 jaar by hul huise in Vanderbijlpark in hegtenis geneem is. 

Ontvoering
Amy-Lee de Jager (6) is Maandagoggend 2 September voor haar skool ontvoer. Foto: Facebook

“Die drie is glo die hoofspelers in die ontvoering,” sê brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder. 

Lede van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings sowel as die misdaadintelligensie-eenheid het Woensdag ure lank saam met Amy’Leigh se ouers deurgebring om die verdagtes vas te trek. 

“My trane hou nie op nie. My hart is opreg dankbaar,” het Louise Horn, Amy’Leigh se tannie, op Facebook geskryf. 

“Dankie aan elke polisielid wat nie ’n sekonde ophou werk het nie.” 

Amy’Leigh, ’n gr. R-leerder, is Maandagoggend buite die Laerskool Kollegepark ontvoer toe haar ma, Angeline, haar afgelaai het. 

Die ontvoerders het ’n losprys van R2 miljoen geëis. Sy is die daaropvolgende dag in die vroeë oggendure ongedeerd deur verbygangers in ’n straat in Vanderbijlpark gevind.

Die verdagtes is tans in aanhouding en sal Vrydag in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn.