"Stuur my.”

Met dié woorde uit die ontslape sanger Hugh Masekela se ikoniese lied het pres. Cyril Ramaphosa in sy eerste staatsrede in Februarie vanjaar sy hand opgesteek om Suid-Afrika se probleme op te los.

“Thuma mina,” het die refrein uit alle hoeke van die samelewing opgeklink terwyl mense oor die land heen weer wou hande vat om ons uitdagings te oorkom.

Maar met die applous vir Cyril se toespraak wat stil geword het en die “thuma mina”-refrein wat deesdae verdoof word in die koorsige debat oor politieke tameletjies, het dit opnuut soos ’n suiwer stem opgeklink toe die megaboer Nick Serfontein dié wekroep onlangs ingesluit het by ’n ope brief aan ons president.

Met die spanning aan die oplaai oor grondhervorming, het die woorde in Nick se brief geklink na ’n praktiese plan: “Meneer die president, stuur óns . . .”

In sy brief van vyf bladsye vertel Nick, voorsitter van die Sernick-landbougroep, van sy begrip vir opkomende boere se stryd om sonder behoorlike staatshulp die mas op te kom.

Hy wys daarop dat kommersiële boere reeds help – en baie meer kan help – om grondhervorming suksesvol en sinvol te laat geskied. Hy het “ongelooflike positiewe reaksie van wit en swart uit alle sektore ontvang,” sê Nick aan Huisgenoot.

En wat sê Cyril oor die brief? Nick sê hy het op 1 Augustus ’n SMS van die president ontvang. “Hy is blykbaar positief daaroor en wil graag gesels.”

Nick saam met Patrick Sekwatlakwatla, wat Sernick se program vir opkomende boere bedryf. Foto: Verskaf

Maar dié SMS het hy gekry ’n dag nadat Cyril bekendgemaak het die ANC gaan probeer om die Grondwet te verander om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak – juis die opsie wat boere soos Nick vrees.

Soos talle kenners reken Nick ’n herlewing in die landbou kan baie tot ekonomiese groei en nasiebou bydra, maar dan moet grondhervorming volhoubaar aangepak word. Daarvoor het hy ’n plan.

In ’n neutedop: grondhervorming gestroop van populistiese politiek met die oog op die nasionale verkiesing wat volgende jaar kom – en waar “ou” en “nuwe” boere hande vat.

Die suksesvolle boer hoop steeds die regering sal afsien van grondwetlike wysigings om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en dat kommersiële boere en landboukenners ingesluit sal word by die proses om grondhervorming suksesvol te laat geskied.

Dit ís moontlik, glo hy.

Nick boer in die Noord-Vrystaat op 5 500 ha wat hy met “baie bloed, sweet en trane” opgebou het, vertel hy in sy brief aan Cyril.

Sy landbouonderneming, Sernick, het 550 mense in diens en sluit ’n bonsmarastoetery, veevoerfabriek, voerkraal, abattoir, vleisverwerkingsaanleg en kleinhandelafsetpunte in.

“Die motivering vir my brief is nie dat ek bang is my plaas word onteien nie, maar dat ek eerstehands ervaar het watter hel opkomende boere in Suid-Afrika deurmaak,” skryf Nick.

“ ’n Volle 24 jaar is dié mense deur die regering versaak . . .”

Begin 2015 het hy besluit om self in te spring met ’n omvattende program om opkomende boere te ondersteun. By die eerste van sy boeredae waar hy praktiese inligting met opkomende boere deel, was daar reeds 250 boere.

Sowat 75 opkomende boere het ook sedertdien gratis tegniese opleiding deur Sernick ontvang.

Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Struikelblok vir opkomende boere is dat hulle nie vaste bates soos hul eie grond het wat hulle by leningsaansoeke as waarborg kan aanbied nie – baie boer immers op grond wat hulle huur deur die staat se hervormingsprogramme of van tradisionele leiers.

Nick-hulle het toe namens opkomende boere geld begin leen. Sernick het voorverlede jaar R25 miljoen geleen en aan hierdie boere voorgeskiet om speenkalwers te koop en op kontrak in die groep se voerkraal te voer.

Die lening is binne ’n jaar terugbetaal, en die proses is verlede jaar suksesvol met ’n leningsbedrag van R50 miljoen herhaal.

“Voorts het ons ’n transaksie beklink met die staat se werkskeppingsfonds waarvolgens ons ’n toekenning van R150 miljoen kry. Dit sal saam met ’n R100 miljoen-lening van die Landbank en Sernick-finansiering van nog R250 miljoen aangewend word om 660 opkomende boere op te lei.”

Uit dié groep wil Sernick 50 opkomende boere as nuwe swart kommersiële boere gevestig kry, vertel hy.

Nick skryf in sy brief reguit oor wat hervorming kniehalter: “Ongelukkig het die gebrek aan boerontwikkeling en groot beleidsonsekerheid tot nou voortgeduur. Dis vererger deur korrupsie, nepotisme en ander misdadige agendas.

“Ek het ondervinding van mense met politieke bande wat nog nooit geboer het nie wat groot stukke grond gekry het, waarskynlik deur korrupsie. Hulle kom dikwels by my aan in hul luukse voertuie, ontwerpersklere en Gucci-skoene. Dié Suid-Afrikaners en korrupte amptenare is die ware aasvoëls van ons hulpbronne.”

Nick se pleidooi aan Cyril is eerste in Huisgenoot se sustertydskrif Landbouweekblad gepubliseer. Hy sluit dit af met dié punte oor proaktiewe optrede om die opkomende landbousektor te vestig:

  • Kies boere op grond van hul vermoë en bekwaamheid.
  • Bly weg van die “Gucci-mense” en politieke begunstigdes.
  • Gee titelaktes vir grond aan mense om sodoende toegang tot finansiering te kry.
  • Bring ’n professionele landbouontwikkelingsagentskap tot stand om die ontwikkeling van boere te koördineer, soos die toekenning van grond, beplanning, mentorskap en toegang tot markte.
  • Betrek die kommersiële boere. Hulle voel vervreem. Hulle wil help en kan ’n reuseverskil maak.
  • Hou politiekery weg van die ontwikkeling van plase en opkomende boere.

Maar toe sê die president die ANC beoog om die Grondwet te wysig vir duidelikheid oor onteiening sonder vergoeding en hoe dit kan geskied – en die kommersiële landbousektor sidder van voor af.

Dit ondermyn die huidige konsultasieproses waar Suid-Afrikaners aan die debat oor grondwetlike hersiening kan deelneem, sê Dan Kriek, president van Agri SA.

Aan Netwerk24 het Dan gesê dit is belangrik om eiendomsreg aan mense te gee, maar die regte van mense wat reeds eiendom het, moet ook beskerm word.

Hy sê die morele argument ten gunste van grondhervorming moet erken word, maar daar is ’n ekonomiese saak teen onteiening sonder vergoeding.

Volgens Dan wys Agri SA se jongste transformasieverslag die georganiseerde landbousektor het R331 miljoen aan transformasieprojekte bestee en 109 059 swart boere het by opleiding en mentorskap baat gevind.

Ook Omri van Zyl, die landbouliggaam se uitvoerende direkteur, glo die huidige denkrigting oor grondonteiening kan skade doen.

“Dit is ’n populistiese strategie deur die ANC wat kan lei tot ’n ekonomiese afgradering vir die land en ’n nadelige uitwerking op alle soorte eiendom,” sê hy.

Nick meen die regerende party se aankondiging oor die wysiging van die Grondwet, asook die belofte om trekkers, brandstof, saad en kunsmis aan opkomende boere te verskaf, is verkiesingsfoefies.

“Dit bied geen langtermynvoordele nie. Tenderpreneurs gaan waarskynlik die aanplantings doen sonder dat enige ontwikkeling van die boer plaasvind. Dis die ou storie van visse uitdeel pleks van mense leer visvang.”

Soos baie ander boere is hy bekommerd oor die radikalisme en rassisme wat die laaste ruk in sommige uitsprake oor grondhervorming kop uitsteek.

“ ’n Groot gevaar hiervan is hoe dit die kommersiële landbousektor se groei gaan beïnvloed. Dit skrik baie boere en beleggers af.”

Maar die kommersiële landbousektor en bekommerde verbruikers moet hulle nie steur aan al hierdie lawaai nie, sê Nick.

Trouens, die megaboer beklemtoon: “Dit maak my nie bang nie. “Die toets gaan wees hoe, waar en in watter omstandighede onteiening sonder vergoeding toegepas word,” sê hy.

Verhale van hoop 

Terwyl die herrie oor onteiening sonder vergoeding woed, lê die landboubedryf klem op suksesverhale van boere wat saamwerk om oplossings te vind.

Van links is Kosie van Zyl, stigter van die Agri Dwala-projek in die Overberg, saam met die projeklede Daniel Pieters, Maruis Engel en Richard Mitchell. Foto: Verskaf

Agri SA en Huisgenoot se sustertydskrif Landbouweekblad hou op 23 en 24 Augustus op Bela-Bela, Limpopo, ’n beraad getitel Die Grondoplossing waar kommersiële en opkomende boere asook kenners hul kundigheid sal deel.

  • Besoek landbou.com vir nog inligting. Dit is verhale soos dié, sê hulle, wat wys die landboubedryf kan transformeer en tegelykertyd gedy.

Gee grond aan werkers om self winsgewend te boer

Colin Forbes is ’n dokter en saaiboer wat al 20 jaar lank op die plaas Athole Farm in Mpumalanga boer. Hy het in 2011 byna 600 ha – 10% van sy grond – aan sy werkers beskikbaar gestel.

Op dié grond is ’n soort landboudorpie gevestig. Die wins uit dié grond gaan aan die werkers, vertel Colin aan Huisgenoot.

Amos Soko (links), wat Athole Farm in Mpumalanga se beeskudde bestuur, saam met Colin Forbes.

Die werkers verbou dieselfde gewasse volgens dieselfde “resep” as op die res van die plaas.

Colin vertel sy werkers het al beter oeste as hy getoon. Hy stem saam grondhervorming moet gebeur, maar sê dit moet met ’n plan gedoen word.

“Die ouens wat ’n sukses daarvan kan maak, is plaaswerkers met byvoorbeeld 30 jaar ervaring.

“Politici het blykbaar nie ’n benul dat boerdery nie maklik is nie – dat dit nie maklik is om ’n wins te maak nie, maar maklik om ’n fortuin te verloor. Om bloot te oorleef is al ’n prestasie.”

Sy bemagtigingstrategie behels mentorskap oor onder meer bestuursvaardighede, en hy staan borg vir sy begunstigdes se produksielenings.

Die nuwe boere gebruik sy plaastoerusting ook gratis.

Skep ’n maatskappy met aandeelhouers

Die landbouekonoom en boer Kosie van Zyl, van die plaas Hansieskloof naby Napier, het die Agri Dwala-bemagtigingsprojek in 2006 gevestig.

Die doel was om 640 ha meentgrond van die plaaslike owerheid te huur sodat voorheen benadeelde mense daarop kon boer.

Daniel, Kosie en Maruis met van die pryse wat Agri Dwala al gewen het.

“Ek het dié bemagtigingsboerdery aanvanklik begin met my eie plaaswerkers en ’n paar gesinne met ’n liefde vir boerdery wat byvoorbeeld kalwers in hul erwe grootgemaak het,” vertel Kosie.

“Ons het dié mense aandeelhouding in die maatskappy gegee.”

Hy en ’n vennoot, die landboukundige Piet Blom, het elk ’n belang van 15% gehad en die 29 begunstigdes saam ’n 70%- belang.

Die boerdery was so suksesvol dat die begunstigdes kort voor lank trekkers, ’n dorsmasjien, vragmotors en bakkies kon koop. Hulle kon ook hul bees- en skaapkuddes uitbrei.

“Drie jaar later het ons ook geslaag met ’n leningsaansoek by die departement van grondsake waarmee die bemagtigingsgroep toe sy eerste plaas kon aankoop,” vertel Kosie.

“Dié grond behoort dus aan die begunstigdes, en omdat hulle toe wel grond op hul balansstate gehad het, kon hulle ’n jaar later nog ’n plaas koop, deels met ’n lening en deels ’n skenking.

“Ons ideaal met ons oorspronklike sakeplan was om binne 10 jaar volhoubare boere gevestig te hê. Twee jaar gelede het die begunstigdes my en Piet se aandele uitgekoop. Die maatskappy is dus nou 100% in swart besit,” vertel Kosie trots.

Hy glo die potensiaal van ’n landelike gemeenskap lê in die grond opgesluit. “Dit is vir my belangrik dat ons verstaan wat ons met die grond moet doen,” sê hy.

“As ons die gemeenskap op die grond uitbou, kan ons mense se potensiaal ontsluit. Dan word daar hoop geskep, vooruitsigte vir kinders en welvaart.”

Skep boere vir die toekoms

Die benadering van die Future Farmers-stigting in Howick, KwaZulu-Natal, is om jong mense die vaardighede en ervaring te gee om goeie landbouposte te kry.

Dié aspirantboere word vir 12 maande op kommersiële plase in die streek uitgeplaas waar hulle praktiese opleiding en mentorskap ontvang.

Die room word dan vir nog 12 maande na Amerikaanse en Australiese plase gestuur.

“Hulle leer én verdien geld. Ons berei hulle voor op sukses,” sê Judy Stuart, ’n suiwelboer en Future Farmers-stigterslid.

Judy Stuart (regs), stigter van die Future Farmers-stigting, en ’n groep leerders by ’n aanbieding oor konyne. Foto: Verskaf

“Een jong vrou op ’n Amerikaanse hoenderplaas bestuur tans 500 000 lê- henne, en die eierproduksiesyfer is 95% – die hoogste nog op die plaas.”

Sy beklemtoon suksesvolle landbouloopbane draai nie net om grondbesit nie. Talle voedselmaatskappye huur plase en benodig werknemers met spesialisvaardighede.

Sy wys daarop dat talle voorheen suksesvolle plase wat ingevolge die huidige grondhervormingsprogram aan nuwe eienaars gegee is tans onproduktief is.

Die staat moet dié plase met behulp van die formele landbousektor laat herleef voor hulle nog grond onteien. Maar bowenal moet mense geleer word hoe om suksesvol te boer. “Ons het ’n land om te voer.”

Bied mentorskap aan nuwe boere

Die suksesvolle Witzenberg Partners in Agri Land Solutions is ’n privaat projek wat in vennootskap met die plaaslike gemeenskap en owerheid deur boere in die Witzenberg-distrik in die Wes-Kaap bedryf word.

“Die afgelope vier jaar het ons sonder staatshulp 14 projekte geïmplementeer waarby ongeveer 7 000 ha betrokke is,” sê Gerrit van Vuuren, een van die argitekte van die projek.

Gerrit van Vuuren (middel, wynrooi trui) van Witzenberg Partners in Agri Land Solutions, by die oorhandiging van die titelakte van ’n plaas naby Ceres. Foto: Verskaf

“Hiervolgens is plase oorgedra aan swart begunstigdes of swart maatskappye, of maatskappye waarin swart boere ’n wesenlike belang het.”

Hy sê die gemeenskap is betrek sodat mense met ’n passie vir boerdery tasbare geleenthede vir die toekoms kon sien.

“Dis een ding om vir iemand grond en selfs trekkers te gee; dis ’n ander om hulle sonder ondersteuning te los om te boer. Volgens Witzenberg PALS se suksesresep “boer die suksesvolle boer met geslagte se ervaring ’n ruk saam met die opkomende boer tot die gemoedsrus ontstaan dat die onderneming suksesvol is”.

Lei die volgende generasie op

Die wynboer Philip Jonker is een van die mense agter die vestiging van die nuwe Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool op 12 ha wingerdgrond naby Bonnievale in die Robertsonvallei.

Die grond is grotendeels met skenkings bekom en die gemeenskap het geld help insamel om die akademiese en tegniese landbouskool te bou.

Die wynboer Philip Jonker (regs) saam met Wilhelm de Wet (links) en Curren-David Kühn, wat ook die ­Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool help verwesenlik het. Foto: Verskaf

“Dit is opwindend dat ’n groot getal leerders kies om landboubestuurspraktyke saam met verbruikerstudie as vak te neem. Hulle word blootgestel aan die klein, selfversorgende entrepreneurskaal van voedselproduksie op die minimum grond en aan grootskaalse kommersiële produksie op landbougrond.”

Philip sê almal moet inspring en hande vat om die boere van die toekoms te onderskraag. 

“Ons raai gemeenskappe aan om oor grense te tree en saam te bid vir ’n nuwe visie wat groter is as enigeen in die groep.”

Verbou gemeenskapsgrond

Die sakevrou Gloria Serobe is die stigter van Wiphold, ’n groep wat hom toespits op onder meer bemagtiging deur die ontwikkeling van boerderyprojekte in die Oos-Kaap.

Hul Centane- en Mbashe-landbouprojek fokus op die winsgewende en volhoubare verbouing van gemeenskapsgrond. Van 2012 tot 2017 is meer as 2 000 ha grond oor 34 Oos-Kaapse dorpe heen danksy dié projek bewerk.

Gloria Serobe Foto: City Press/Sipho Maluka

So is miljoene rande in die vorm van vergoeding en dividende onder aandeelhouers in die gemeenskappe versprei. Dis benewens die nuwe ekonomiese bedrywighede wat inwoners met hul geld uit die boerdery begin het.

Projeklede ontvang opleiding in boerdery, boekhou en die bedryf van plaastoerusting.