Steven sê dit voel soms of hy van sy kop afgaan om
Steven sê dit voel soms of hy van sy kop afgaan omdat hy ’n geheim ronddra wat hy met niemand kan deel nie. Foto: Gallo Images/Media24/Luba Lesolle

In sy dekades as volwassene het hy nog nooit een van die natuurlikste fisieke vreugdes van die mens ervaar nie. Die intimiteit wat miljarde volwassenes al oor die eeue heen ervaar het, was hom nog nooit beskore nie.

Dié Gautengse verkoopsman is in sy 40’s, maar hy het nog nooit seks gehad nie en nog nooit die vervulling van ’n intieme verhouding gesmaak nie. En dis nie omdat hy nie wil nie – dis omdat hy nie kan nie.

Sy depressie en skaamte daaroor het daartoe gelei dat hy selfs ’n gewone sosiale lewe vermy, want sê nou daar word oor slaapkamersake gepraat en uitgevra? Of erger nog, sê nou hy word gespot?

Steven (’n skuilnaam) ly aan Peyroniese siekte – ’n seldsame toestand wat die penis drasties laat buig wanneer dit ’n ereksie ervaar. Dit maak seks pynlik of selfs onmoontlik, soos in Steven se geval.

Meer as 20 jaar lank het hy niemand in sy vertroue geneem oor die toestand wat hom soveel emosionele pyn en eensaamheid laat verduur nie.

Selfs toe Steven as ’n jonger man wel nog ereksies kon kry, het die toestand sy penis na onder laat buig en ongemak veroorsaak.

Hy het jare gelede mediese hulp gesoek en eindelik ’n operasie aan sy penis gekry in die hoop dat hy daarna gemaklike ereksie sou kon ervaar, maar hy vertel dit het sake vererger en hy kon sedertdien glad nie meer ereksies kry nie.

Meer as 20 jaar lank het hy niemand in sy vertroue geneem oor die toestand wat hom soveel emosionele pyn en eensaamheid laat verduur nie.

“Nie eens my beste vriend weet nie,”vertel hy. Steven vryf met sy hand oor sy kort geknipte hare terwyl hy vertel dat hy ná die mislukte operasie in die 1990’s nooit weer na ’n dokter is nie.

Ek het iemand liefgekry. So lief dat my hart pyn as ek dink dat ek dalk nie genoeg gaan wees vir haar nie.

Hy is nie meer lid van ’n mediese fonds of het die geldelike vermoë om spesialis hulp te kry nie. Hy het hom aan die depressie oor gegee wat hy ontwikkel het asook selfopgelegde sosiale ballingskap en het dit met tye selfs oorweeg om sy eie lewe te neem.

“Ek kon jare lank nie eens daarna kyk nie,” vertel hy oor die orgaan wat aan hom soveel sorge besorg het.

Maar vandag het Steven die dapper besluit geneem om sy hart teenoor Huisgenoot oop te maak, want hy het weer ’n rede gevind om te begin hoop en droom.

“Ek het iemand liefgekry,” vertel hy. “So lief dat my hart pyn as ek dink dat ek dalk nie genoeg gaan wees vir haar nie.”

Sy stem bewe en sy oë skiet vol trane. Hy wil haar vra om te trou, maar hy is bang die vrou, 20 jaar jonger as hy, sal hom verwerp as hy sy geheim met haar deel.

“Ek het onlangs besef ek sal met iemand moet praat, dat ek weer by ’n dokter sal moet uit kom. Die tegnologie het mos deur die jare verbeter,” sê hy met ’n tikkie hoop in sy stem.

“Ek wil so graag nog ’n seuntjie hê; dit is nie te laat nie . . .”

Steven is moedeloos en hoop sy geliefde sal hom aa
Steven is moedeloos en hoop sy geliefde sal hom aanvaar. Foto's: Gallo Images/Media24/Luba Lesolle

In sy eenslaapkamer woonstel in die suide van Johannesburg vertel Steven hy was in die destydse st. 8 toe hy besef daar’s fout.

“Ek kon nie reguit word nie,” sê hy. Toe hy besef sy ereksies was te krom om seks moontlik te maak, was hy te skaam om daaroor te praat.

“Net my ma en pastoor weet ek het probleme. Maar nie eens my ma weet presies wat fout is nie. Ek het in die verlede al probeer om teenoor my ma oop te maak, maar sy kry ook seer as ek seer kry. ‘Ag, nie weer daardie probleem nie, asseblief,’ is al wat sy sal sê.”

Ek was te selfbewus. Nou nog. Al het my penis normaal gelyk wanneer hy sag is, was ek so bang iets lyk anders of buitengewoon.

Weens sy vrees om gespot teword het hy hom aan sy vriendekring onttrek. Die oudpolisieman sê hy was nog altyd selfbewus en het gesweet as hy by openbare toilette ’n draai moes loop. Hy was bang iemand sien iets is fout met sy penis.

“Ek kon nie. Ek was te selfbewus. Nou nog. Al het my penis normaal gelyk wanneer hy sag is, was ek so bang iets lyk anders of buitengewoon.“ Op die ou end het ek ’n bietjie my kop verloor en in ’n inrigting beland,” vertel hy.

Hy het erg depressief geraak oor die gedagte dat hy nooit sou kon trou of kinders kry nie. Hierdie wroeging het hom verskeie kere na donker gedagtes gedryf.

“Ek het myself eenkeer by ’n trap afgegooi. Ek het eindelik een van die polisie se beraders vertel, en hy het toe vir my pa gesê,” vertel Steven.

Hy het toe, op 22 jaar, ’n operasie by’n staatshospitaal in Pretoria ondergaan. Al wat hy daarvan onthou, is hoe seer en sensitief sy geslagsdeel daarna was. Vir maande daarna is vet uit sy boude gereeld in sy penis ingespuit as deel van die behandeling ná die operasie, maar die prosedures het sake net vererger, vertel hy en raak weer emosioneel.

“Die gedeelte waar die vet ingespuit is, het sulke knoppe gemaak. Die basis van my penis is dik en in die middel sit hierdie groot knop.

“Ek kan geen ereksie kry bo die knop nie, en ek lyk misvorm.” Hy kan wel urineer en ondervind geen pyn noudat hy nie meer ereksies kry nie.

Ons was eers vriende, maar toe raak ons verlief. Ek het dié vrou bitter lief, en ek weet sy het my ook lief.

Antidepressante teen sy depressie en angstigheid hou die selfmoord gedagtes deesdae op ’n afstand.

En toe, oplaas, ná ’n leeftyd sonder fisieke vervulling, ontmoet hy die vrou saam met wie hy die res van sy aardse bestaan wil deurbring.

“Ons was eers vriende, maar toe raak ons verlief. Ek het dié vrou bitter lief, en ek weet sy het my ook lief,” vertel hy en sy oë sprankel vir die eerste keer.

“Ek dink nie alles is ‘gebreek’ daar onder nie. As ons vry, dan voel ek iets gebeur. Ek vermoed die bloedtoevoer word afgesny deur daardie knop vet. Ek wens so iemand kan my help, want al wat ek wil doen, is om met haar te trou.”

Steven is vir ’n paar oomblikke stil.

“Het jy enige idee hoe erg dit is om iemand met jou hele wese te begeer en niks, boggherol, daaromtrent te kan doen nie? Maar ek is gelowig; dus sal ons in elk geval eers intiem kan wees wanneer ons die dag getroud is.

“Dalk, as ek weet iemand sal my medies kan help, sal ek haar daarvan vertel.

“Sy verdien om op die hande gedra te word,” sê hy en glimlag. “Sy verdien iemand wat vir haar alles kan gee.”

Gospelmusiek weerklink saggies deur die woonstel terwyl Steven praat oor sy hoop om ’n gewone intieme verhouding te kan hê. Hy doen gedurig navorsing oor die mediese moontlikhede, en in sy hart is hy seker daar is iets wat vir hom gedoen kan word.

“Ek gee nie om hoe dit lyk nie. Ek wil net hê dit moet werk,” sê hy. Maar Steven het onlangs sy werk verloor. Hy verkoop nou allerlei produkte om die pot aan die kook te hou. Elke sent word drie keer omgedraai, want geldspaar is nou nommer een op sy lys. Net vir ingeval.

“Ek moet dit laat fix. Nie net om my eie onthalwe nie, maar ook vir haar,” sê hy vasbeslote. “Vir die eerste keer in ’n lang tyd het ek weer moed.”

En dalk, net dalk, glo hy, sal hy eendag daardie spontane fisieke ervaring hê waarvan hy nog net kon droom. 

Daar is behandeling

Dr. Deon Weyers, ’n plastiese chirurg van Johannesburg, verduidelik Peyronie se siekte word veroorsaak deur litteken-weefsel wat die penis laat skeef trek.

“Dit is gewoonlik generies en daar is ’n verskeidenheid maniere om dié toestand te verbeter. Die laaste uitweg is chirurgie,” sê hy.

Hy verduidelik middels kan in die weefsel wat beskadig is, gespuit word om selvernuwing teweeg te bring, of die littekens kan deur nie chirurgiese metodes “opgelos” word.

“In erge gevalle is chirurgie nodig. Dit klink of hulle in dié geval vet ingespuit het en dat van die vetweefsel moontlik deur sy lyf verwerp is. Dit maak nou die littekens erger, wat moontlik verhoed dat hy ’n volkome ereksie kan kry,” sê hy.

Tegnologie in dié veld het ook die afgelope 20 jaar baie verbeter. Hy stel voor dat iemand met hierdie toestand by ’n uroloog gaan aanklop.

“Ons werk soms hand aan hand met ’n uroloog indien chirurgie nodig is, en plastiese chirurge doen ook gewoonlik die vet verplasing indien dit nodig is. Maar die belangrike ding is daar is behandeling daarvoor.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe