Volgens die New York Post is dié 20-jarige man van Colorado in die VSA ook in die afgelope paar jaar onderskeidelik deur ’n beer en ’n slang gebyt. 

Hy het diep snye aan sy been opgedoen toe ’n tierhaai hom in Hawaii gebyt het terwyl lyfplank ry.

“Ek het die haai ’n paar keer geskop en toe begin kant toe swem”, het hy aan die BBC vertel. 

“Die wond was nie lewensgevaarlik nie, maar ek was baie bang toe ek met die bloeiende wond moes terugswem”, het hy aan Hawaii News Now gesê. 

Die haaibyt in Hawaii. Foto's: Facebook

Hy moes uiteindelik 7 steke kry. 

Dylan is ook deur ’n beer aangeval toe hy ’n jaar vantevore in Colorado gekamp het. Die swartbeer van 140kg het in die vroeë oggendure die kampplek binnekom en hom aan die kop beetgekry. 

Hy het aan die Honolulu Star-Advertiser vertel dat hy kon hoor hoe sy skedel kraak. 

#bearattacksurvivor

A post shared by Dylan McWilliams (@dmcw1998) on

Volgens News.com het hy dié keer genadiglik weggekom met 9 steke. 

’n Ratelslang het hom gebyt toe hy 3 en ’n half jaar gelede in die deelstaat Utah gaan bergklim het. Gelukkig was daar bittermin gif in die byt en was hy net vir ’n paar dae siek. 

“Ek weet nie of ek baie gelukkig of ongelukkig is nie”, het hy grappenderwys aan die Honolulu Star-Advertiser gesê. 

Volgens National Geographic is die kanse 1 in 893,35 biljard dat dit met een mens kan gebeur. 

Dylan is wel baie lief vir die buitelug en werk gereeld as oorlewingsgids. Hy reis al die afgelope paar jaar deur die VSA en Kanada.

“My ouers is net baie bly ek lewe nog”, het hy aan die Honolulu Star-Advertiser gesê. 

Bronne: New York Post, Honolulu Star-Advertiser, Hawaii News Now, BBCNews.comNational Geographic