“Ek tel die sekondes en die minute tot 10 Desember af, wanneer ons eindelik amptelik trou aan mekaar kan beloof,” voeg sy by. Haar en Jaco Pieterse (38) se oudste, Nikita (10), is veral opgewonde oor die troue waarop sy en haar ouers al ’n dekade lank wag.

Een paartjie se hartseer einde is nou hul geluk nadat Matthew Boshoff (26) vroeër vandeesmaand op Facebook aangekondig het hy wil ’n vooruitbetaalde troupakket weggee.

Hy en sy Franse bruid moes hul Maart-troue vir 60 gaste by Makiti in Krugersdorp uitstel weens die coronakrisis, maar hul liefdesbootjie het nie die inperking oorleef nie.

Jaco Pieterse en Nicole Sammons het uiteindelik die kans op hul droomtroue.

Saam met Jacadanda FM en die aanbieder Rian van Heerden het Matthew eers die toptien gekies uit 300 epos-inskrywings.

“Sjoe, ek was op my senuwees, veral toe hulle sê hulle gaan halfses bel. Maar toe ek niks hoor nie en hulle oor die lug vertel daar is ’n wenner, toe maak ek maar weer vrede daarmee dat ek nie binnekort voor die kansel gaan kan staan nie.

Sesuur lui haar foon en hulle is toe inderdaad die wenners.

“Ek was oorweldig. Ek was in trane. Dit was alles so onverwags. Jy sal nie verstaan hoe bly ek is nie,” vertel sy opgewonde. Jaco, ’n passer en draaier by ’n steenaanleg naby die Jakarandastad, het laat gewerk en was nie daar toe sy die nuus kry nie.

“Ek wens ek kon sy gesig sien," voeg sy by.

Nikita was ook in trane. Nou kan sy en haar kleinsus, Jolene (4), wat haar naam van die Dolly Parton-liedjie gekry het, uitsien daarna om hul blommemeisie-rokkies te kies. Hul agtjarige boetie, David (8), sal die ringdraer wees.

Hul ouers het in 2009 verloof geraak en wou vinnig trou toe hulle uitvind Nicole is swanger. Hulle het ’n pastoor gekry, R2 500 betaal en is binne ’n kwartier in sy sitkamer getroud. ’n Paar jaar later wou Nicole ’n nuwe identiteitsboekie kry, maar daar was geen bewyse van die huwelik nie.

Ná talle oproepe, het die pastoor se nommer skielik nie meer gewerk nie. Daarna het jare van burokratiese rompslomp, kinders grootmaak en geldelike tekort gekeer dat hulle kon trou.

Tot nou toe.

Die troue van sowat R40 000 sluit byna alles in behalwe ’n koek en ’n pastoor. Jacaranda FM het ’n kompetisie gehou vir iemand wat die koek kan maak. Hul gunstelingkoek het toe heel toevallig gewen.

Congratulations, Nicquille from Hart en Siel Bakery! She will bake the wedding cake for Nichole and Jaco Pieterse. Read more about the giveaway wedding here: https://bit.ly/2E1xyfp

Posted by The Scenic Drive with Rian on Thursday, 20 August 2020

“Die vrou het belowe sy gaan ’n boks met ses verskillende opsies vir ons bring om te proe voor sy ons troukoek gaan maak,” sê Nicole. “Maar ek is seker hierdie volgende vier maande gaan soos in ’n droom verbyvlieg.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe