WAARSKUWING: Onstellende foto’s volg.

Dit klink soos iets uit ’n gruwelfliek: ’n 20-jarige sielkundestudent van Brisbane, Australië, moes uitvind haar duim moet geamputeer word nadat sy ’n seldsame velkanker ontwikkel het omdat sy haar nael nie net tot in die lewe nie, maar heeltemal afgebyt het. Hierdie grusame nuus het haar lewe onherroeplik verander en nou is sy nie net duimloos nie, maar ook die draer van akrale lentiginous subungual melanoom, ’n vorm van velkanker wat op die palms van die hande, die voetsole of onder die naels voorkom.

Courtney Whithorn is op skool so erg geboelie dat sy haar naels begin kou het. Maar al is daar duisende mense wat sukkel om hierdie nare gewoonte af te leer, is die blondekop tweedejaar-student se storie ongewoon. Waar ander mense hul naels soms tot in die lewe afbyt, het sy in 2014 haar duimnael só erg gebyt dat daar eindelik niks oorgebly het nie.

Volgens die Britse koerant The Daily Mail het haar duimnael pikswart begin verkleur, maar omdat sy te skaam was om vir enigiemand daarvan te vertel, het sy vier jaar lank gewag voor sy eindelik die moed bymekaargeskraap het om haar familie en vriende te vertel. 

Courtney Whithorn se duim voordat dit geamputeer is. Foto: Facebook

Nadat sy eindelik ’n dokter gespreek het, moes sy uitvind sy het so baie trauma aan haar naelbed veroorsaak dat dit in ’n seldsame kanker ontwikkel het. Die velkanker is in Julie 2017 by haar gediagnoseer. 

Ten spyte van die feit dat sy talle operasies ondergaan het om die kanker te verwyder en probeer het om haar duim te red, moes dokters haar duim verlede week laat amputeer. 

Courtney, wat oorspronklik van Newton Aycliffe, ’n dorpie in County Durham in Engeland is, het aan The Daily Mirror gesê dit het haar hart gebreek toe sy uitvind sy het kanker omdat sy haar naels gekou het. “In my kop het ek gedink ‘ek het dit aan myself gedoen’, maar ek het geweet ek moenie daardie mentaliteit hê nie. Ek kon dit nie glo nie,” het sy gesê. 

Die Britse poniekoerant, The Sun, berig verder Courtney se skryfvermoë is belemmer omdat haar duim bo die kneukel geamputeer is. 

“Ek is lief daarvoor om te skryf en ek besit ’n dagboek. Ek pen al my emosies neer. Die gedagte dat ek ’n ruk lank nie sal kan skryf nie, is beslis ’n groot verandering vir my,” het sy gesê.

Courtney is 'n tweedejaar sielkunde-student aan die Griffiths Universiteit in Australië. Foto: Facebook

Sy moes ook haar studies aan die Griffiths Universiteit in Brisbane, Australië, uitstel om te kan herstel.

Volgens Dr. Selwyn Schwartz, ’n dermatoloog van Johannesburg, is dit nie moontlik om velkanker te ontwikkel wanneer jy jou naels byt nie. “Die vel om ’n mens se naels is dooie vel en dit is nie moontlik om op hierdie manier velkanker te ontwikkel nie. As sy ’n moesie langs of onder haar duimnael gehad het wat kwaadaardig was, dan bestaan die moontlikheid egter wel.”

Maar volgens Dr. Koos Bouwer, ’n onkoloog van die Wilgers Onkologie-sentrum in Pretoria, is dit wel moontlik om velkanker onder die nael te ontwikkel. 

“Kroniese trauma op die vel kan wel kanker veroorsaak. Dit is ’n gevaarlike toestand aangesien dit dikwels ’n soort kanker is wat redelik maklik na die naasliggende limfkliere onder die arm of selfs na die longe kan versprei,” sê hy. 

Hy verduidelik dat amputasie van die betrokke vingerlit dikwels nodig is om lokale beheer van die kanker te verseker. “Noukeurige opvolg-ondersoeke is noodsaaklik om vroeë herhaling of verspreiding te diagnoseer en te behandel.”