Die vrolike borrellaggie vul die groot huis hier in Potchefstroom. ’n Mens sien bababottels, sagte speelgoed, ’n karstoeltjie.

Al die gewone tekens van ’n jong lewe wat die kroon kom span het op ’n egpaar se samesyn.

Hier is ’n sagte babakombersie, daar ’n pak doeke – dinge waaroor ouers dikwels nie twee keer dink nie.

Maar vir die Van Eedens, Christel (37) en Jacques (39), is al dié “alledaagse” babadinge ekstra spesiaal.

En die spesiaalste van alles is hul klein wonderwerk: die ses maande oue Alé, wat ná soveel terugslae, hartseer en smeekgebede eindelik hul huis met haar lag en liefde vul.

Foto: ER Lombard
Hul lewe wentel nou om die kleinding wie se borrellaggie die groot huis in Potchefstroom vul. Foto: ER Lombard

Maar die afgelope dekade was ’n opdraande pad. Dit was laat 2003 toe Christel, destyds net 21 en nog ongetroud, se lewe wreed verander het.

Eers was daar die skokdood van haar pa, Marthinus, weens ’n hartaanval. En toe, twee dae later, die motorongeluk wat haar ’n parapleeg gelaat het.

Sy en haar ousus, Thalita (toe 23), was op pad terug van ’n familielid op Leeudoringstad in Noordwes, waar hulle hul ma, Alta, bygestaan het ná hul pa se dood.

Van die ongeluk onthou Christel min – net die angs toe sy op die grond langs die wrak tot verhaal kom en besef sy kan nie opstaan nie. “Daar was ’n tyd ná die ongeluk dat ek, verlam en in ’n donker depressie, myself daagliks afgevra het wat die doel van die lewe nog is,” vertel sy.

Maar twee jaar ná die ongeluk het Jacques in haar lewe gekom – en toe was die tyd reg om ma te word. Dit was haar droom, al was ander soms skepties.

“Ons moes dikwels hoor: ‘Jul eie kind? Maar sy is dan in ’n rolstoel?’ ” vertel Jacques.

Maar die twee was vasbeslote. Dit was nie maklik nie.

Tien jaar lank het hulle kunsmatige-inseminasie- en in vitro-behandelings ondergaan.

En telkens weer die hartverskeurende woorde: “Jammer, Mevrou.”

Maar in Augustus 2018 was Christel oplaas swanger.

En in Mei 2019 is hul wonderbaba gebore. “Ons kla nie as sy huil of moeilik is nie, want ons het alles wat ons ooit wou hê,” sê Christel dankbaar.

Foto: Verskaf
Nadat sy die lewe geskenk het aan ’n perfekte en gesonde Alé. Foto: Verskaf

Jacques, ’n fotograaf, vertel al is Christel in haar onderlyf verlam, is sy nie hulpeloos nie. “Al wat Christel nié kan doen nie, is loop. Andersins bestuur sy, maak self die bababottels en kook.”

Tog het die vrese aan Christel geknaag terwyl sy destyds gewoond moes raak aan ’n lewe in ’n rolstoel.

Sou ’n man eendag lief wees vir haar nes sy is? En sou sy dan ooit swanger kon raak?

Dit was moeilik om ná die ongeluk aanvaarding te vind, vertel Christel, wat in die etiekkantoor van die Noordwes-universiteit werk.

Dit was ook uitdagend om afsluiting te vind oor gebeure wat uit haar herinnerings gevee is.

“Ek kan nie veel van die ongeluk onthou nie. Die een oomblik het ons rustig op die grondpad gery; die volgende het ons gerol.

“Ek onthou ek het op my maag buite die wrak gelê en Thalita het my omgedraai om te kyk of ek asemhaal. Sy het dadelik geweet daar is groot fout.”

Christel se rug is by die T7-werwel gebreek. Sy is na die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp geneem waar sy weke lank onder sterk verdowing was, ook tydens haar pa se begrafnis.

“Om in die hospitaal wakker te word en te hoor jou pa is dood en dan te besef jy is verlam. Joeg. Hoe gaan ’n mens aan? “Maar ek het besef ek moet myself regruk. So toe my ma en die dokter by my instap en sê hulle het slegte nuus, het ek gesê: ‘Ek weet; ek kan nie meer loop nie.’ ”

In Maart 2004 is sy ná vyf maande uit die hospitaal ontslaan.

In 2005 het sy sielkunde begin studeer, en in dieselfde jaar het sy in ’n aanlyn geselsgroep kennisgemaak met Jacques, toe ’n onderwysstudent. “Haar aanlyn naam was Bella-Blom,” vertel Jacques en lag.

“Sy wou weet wie van die manne kan kook. Ek kon, en sy was baie beïndruk.”

Christel voeg by: “Ek het kort daarna vir hom gesê ek kan nie loop nie. Natuurlik was ek bang. Maar toe bieg hy dat hy voorheen getroud was. En, ag, toe spat die vonke.”

Hulle is in Desember 2008 getroud. En toe begin hul stryd om swanger te raak. “Ek wou nog altyd graag kinders hê,” vertel Christel.

En Jacques? “Ek sou daarin berus het as ons nie kon swanger raak nie.” “Ons is toe na ’n ginekoloog om te hoor of dit vir ons moontlik sou wees,” sê Christel. “Tot ons verbasing het die ginekoloog vertel alles is normaal. Ons moes vir ’n tydperk normaal probeer en daarna kunsmatige inseminasie oorweeg.”

Maar toe kom nóg ’n slag. Op pad na Potchefstroom – om Christel op te pik vir ’n kuier by hul ma – het Christel se broer, Marthinus, in ’n botsing teen ’n vragmotor gesterf.

“Ek was so broken. Hoe gebeur sulke dinge met ons? My pa is reeds dood. Ek is in ’n rolstoel. Nou my broer.”

Sy aarsel, op die rand van trane. “En die seerste ironie is dat Marthinus my sou kom oplaai omdat dit daardie naweek die herdenking van my pa se dood en my ongeluk was. Ons het jaarliks in daardie tyd bymekaargekom. Om die lewe te vier.

“My pa sterf op 22 Oktober 2003; ek raak verlam op 24 Oktober 2003; my broer verongeluk op 23 Oktober 2015.”

’n Jaar later, in 2016, het die paartjie met vrugbaarheidsbehandeling begin – die eerste van vele pogings. “Elke keer hoop en bid ’n mens. Dis uitmergelend. En terwyl ek hoop, is ek terselfdertyd bang: Ek is in ’n rolstoel; hoe gaan ek die baba dra?

“Dan kom die slegte nuus en jy is verpletter. Ek het reg geëet; genoeg geslaap. Ek kan reeds nie loop nie; word ek nou van ma-wees ook beroof? Ag, en jy is so emosioneel. Jy huil en baklei met almal.”

Vier inseminasiebehandelings het misluk. Toe volg in vitro-behandeling – drie keer met een embrio, maar dit het elke keer misluk.

Met die vierde poging het die dokter twee embrio’s op een slag ingeplant – en een het Alé geword. “Die dokter het gesê hy plant sommer twee embrio’tjies op ’n slag in.

En ek sê toe vir Christel as daar twee babas is, hol ek weg,” onthou Jacques.

“Ek het vir hom gesê, nee, man, dan maak hulle mekaar sommer groot,” sê sy en lag.

Een aand in Oktober verlede jaar, aan die etenstafel, het die tamaties vir haar soos vis geproe. “En jy begin so half hoop,” sê sy.

En ’n dag later, ná bloedtoetse, het die langverwagte nuus gekom: Sy is swanger.

Foto: ER Lombard
Christel is ’n parapleeg, maar haar hande staan vir niks verkeerd nie. Foto: ER Lombard

“Joeg, maar ons het gehuil. Ons het net aanhou sê: ‘Dankie tog!’ Want alles was nie vergeefs nie. Al die huil en smeek. Ons sou oplaas mamma en pappa word.”

Haar swangerskap in ’n rolstoel was moeilik.

“Ek het kwaai blaasinfeksies gehad. Op 20 weke moes ek ’n kateter begin dra omdat ek nie kon voel wanneer ek ’n nood het nie; sy het so gereeld op my blaas gelê. Ons moes ook op 28 weke kortisoon spuit sodat haar longetjies kon ontwikkel. Net ingeval.”

Alé is op 4 Mei op 38 weke met ’n keisersnee gebore. “Ek wou nog so spot en vir die dokters sê narkose is nie nodig nie, maar toe gee Jacques my net so ’n kyk,” sê Christel.

“Toe sê ek maar vir die dokters hulle moet net seker maak hy val nie flou nie.”

Nou is hul lewe volmaak.

“Ons weet hoeveel seer agter ons lê. Maar ons weet ook hoeveel vreugde wag,” sê Jacques.

Hulle sal dalk selfs vorentoe vir nog enetjie probeer, sê Christel, “want die opdraandes is nou vergete; daar is nou net liefde en volmaaktheid”. 

Kom gesels saam

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.