Waar hy met wakker ogies die wêreld vanuit sy stoeltjie lê en bekyk, lyk hy soos enige ander blakend gesonde baba van vyf maande – vol lewenslus en met 'n immer laggende mondjie.

'n Mens sou nooit kon raai dat klein Ralph Flemming* in sy jong lewe al drie keer onder die mes was en geskree het van die pyn nie. 

Ook met sy geboorte in April was sy ouers, Donovan* en Diana*, se eerste ­indruk dat hul wens op 'n tweede ­ge­sonde bondeltjie vreugde vervul is.

Maar toe roep die pediater sy pa eenkant toe en sê die woorde wat geen ouer verwag nie: Hul baba is sonder 'n anus gebore.

“Ons het gedink ons het 'n gesonde baba, en toe tref dít ons,” vertel ­Diana van die skok toe hulle hoor Ralph is met die seldsame toestand anorektale mis­vorming gebore. 

Waar die opening van die anus moes wees, was 'n lang gang tussen die blaas­nek en die anus.

En pleks daarvan dat die rektum (die laaste deel van die kolon aan die einde van die spys­verteringskanaal) na die anus lei, het dit in die blaas ge-open. Daarom sou dit vir hul ­babaseun onmoontlik wees om normaalweg te ontlas.  

Net vyf uur ná sy geboorte in 'n hospitaal in die Paarl is hy na die Netcare Blaauwberg-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. 

“Ek was in soveel pyn van die keisersnee dat ek hom nie eens in die waakeenheid kon besoek voor hy daar weg is nie,” vertel Diana van haar hartseer toe sy van haar pasgebore baba ­geskei is. Sy kon hom eers drie dae later weer sien. 

Daar was ’n tyd toe sy ma gedink het hy sal sekerl
Daar was ’n tyd toe sy ma gedink het hy sal sekerlik nie nog ’n operasie oorleef nie. Foto: Verskaf

Intussen het die bekommerde ouerpaar met onbeantwoorde vrae geworstel. “Ons het heeltyd gewonder: Hoekom ons?” erken die ma.

Maar nou, ná 'n derde operasie waarin 'n anus vir die seuntjie geskep is, het ­hulle nuwe hoop dat Ralph 'n normale lewe sal kan lei. Ook op die kwelvraag “Hoekom ons?” het daar mettertyd ’n antwoord gekom.

“Ek het besef God het ons gekies om sy ouers te wees,” sê Diana.

“God het hom vir ons gegee omdat Hy geweet het ons sou mooi na hom kyk.”

Terwyl die kleinman met die groot gesondheidsuitdaging hier in die sitkamer van sy ­ouerhuis op 'n dorpie in die Swartland in sy drastoeltjie lê en brabbel, vertel Diana van die vreugde toe sy in Augustus ­verlede jaar ontdek sy is swanger. 

Maar haar tweede swangerskap was veel moeiliker as dié met hul eersteling drie jaar tevore. Dié keer het sy met sooibrand en oggendnaarheid gesukkel.

Soos met haar vorige swangerskap het sy hoë bloeddruk gehad; daarom moes sy elke derde week vir 'n sonar gaan. 

“Maar die sonars het niks verkeerds gewys nie,” sê Diana.

“Ons het niks geweet tot daardie dag van sy geboorte nie.”

Donovan was by ­tydens die keisersnee, en alles het goed afgeloop. Ralph het 'n stewige 3,3 kg ­geweeg. Niks kon Donovan op die skok voorberei toe die dokter vir hom sê hul jongste se anus het nie ontwikkel nie.

Al was hy bekommerd oor die pad ­vorentoe, het hy sy vrou gerusgestel dat hul baba “orraait” sal wees. “My man was my rots,” sê Diana.

Dit was nogtans vir haar 'n vreesaanjaende gedagte dat hul babaseun 'n operasie moes ondergaan toe hy net twee dae oud was.

“Ek was bang hy sou nie die narkose oorleef nie en dat hulle hom nie sou kon regmaak sodat hy ’n normale lewe kon lei nie.”

Die glimlaggende Ralph is al deur baie beproewings
Die glimlaggende Ralph is al deur baie beproewings. Foto: Corrie Hansen

Tydens die operasie is 'n stoma, oftewel ’n opening, laag aan die linkerkant  van sy magie gemaak en die eindpunt van die kolon daarheen gelei sodat die ­ontlasting deur die stoma tot in ’n sakkie buite sy lyfie kon uitloop.

Dié sakkie moes elke 12 uur vervang word. Teen ’n koste van R1 200 vir 20 was dit ’n groot uitgawe. Aanvanklik het Diana se mediese skema daarvoor betaal, maar later moes hulle self daarvoor opdok. 

Maar niks kon die ouerpaar se vreugde demp toe hulle hul jongste 10 dae ná sy geboorte eindelik kon huis toe neem nie. Hul eersteling “was vreeslik opgewonde om sy ‘boeta’ te ontmoet wat hy toe nog net op foto’s gesien het,” vertel Diana.

In Junie moes Ralph weer geopereer word in 'n ingewikkelde operasie waartydens die rektum losgemaak is van die blaasnek en na die vel gebring is om 'n anus te maak waaruit hy normaal sou kon ontlas.

Dié keer was daar wel komplikasies. Hierna het Ralph soveel pyn verduur dat hy drie dae lank onder verdowing gehou is.

“Elke keer wanneer hy wakker geword het, het hy gegil van die pyn,” sê Diana.

“Hy moes 'n ruk lank aarvoeding kry. Hy het so maer geword dat sy nek ­benerig was en sy ogies begin uitpeul het.” 

Dit was vir haar bitter moeilik om haar jongste so te sien en ook om min van haar oudste te sien te kry, want haar ­eersteling is nie by sy kleinboet in die waakeenheid toegelaat nie. Donovan, 'n vakman, kon ook moeilik by die werk wegkom om sy gesin by te staan.

“As hy nie die dag gaan werk het nie, het hy nie betaling gekry nie,” verduidelik Diana.

“Ons families het my staande gehou.” 

Intussen het die moontlikheid van ’n vierde operasie gedreig as Ralph nie deur die nuwe anusopening sou kon ontlas nie.

“Ek het gedink as hy weer gesny moes word, sou sy liggaampie dit nie kon hanteer nie.”

‘Ons het niks geweet tot daardie dag van sy geboorte nie’

Maar die Sondagaand voor hy die Maandagoggend weer die operasiesaal binnegestoot sou word, het sy tot haar groot verligting 'n geluidjie gehoor.

“Hy het 'n wind gelaat wat vir die eerste keer deur die anusopening gegaan het. En ­sedertdien kan hy nie ophou nie,” sê die ma laggend.

Ralph is ná 19 dae ontslaan om by die huis te gaan aansterk. Sy mediese koste het meer as R300 000 beloop, waarvan die mediese skema die meeste gedek het.

Van die mediese ­rekeninge moet nog betaal word, en die gesin reël nou 'n vleisbraai om geld in te ­samel.

Al het Ralph se behan­deling geldelik sy tol geëis, het dit die ­ouerpaar hegter saamgesnoer.

“Ons was albei daar vir mekaar en het steeds tyd vir mekaar gemaak,” sê Diana. 

Sy het in Augustus teruggekeer na haar werk.

“Ek voel deesdae baie beter by die werk, want ek hoef my nie meer oor hom te bekommer nie; hy is orraait.”

Klein Ralph sal veel langer as ander kinders – tot sowat sesjarige ouderdom – moet doek dra, want hy sal eers beheer oor sy stoelgang kan uitoefen wanneer die spier rondom die anusopening ­sterker geword het, sê Diana.

“Dit is nog nie die einde nie,” sê sy oor die doktersbesoeke. Hulle moet ook nog 'n neuroloog spreek oor 'n probleem met Ralph se sakrum, die driehoekige been tussen die twee heupbene in die bekken, wat skeef ontwikkel.

“Hy is wel baie sterk op sy twee bene, so hy gaan groot word en fine wees,” voeg die moedige ma by.

“Ek is baie positief oor die pad vorentoe. Hy is ’n absolute seëning,” glimlag Diana. En in haar arms glimlag haar ­dierbare jongste breed vir die kamera.

*Skuilname. 
Wat is anorektale misvorming?

“Sowat een uit 5 000 babas word met anorektale misvorming gebore,” sê prof. Daniel Sidler, ’n pediatriese chirurg van Kaapstad – dit beteken hulle het geen anusopening nie. 

Die oorsaak is onbekend. By sommige babas maak dit deel uit van genetiese sindrome, maar Ralph Flemming* het net 'n abnormaliteit in sy ruggraat gehad.

Sy sakrum is wel misvorm, wat ­daarop kan dui dat Ralph moontlik in die toekoms swak spierfunksie, ontlas- en blaasbeheer sal hê, verduidelik Daniel.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.