Maar dit het haar nie ondergekry nie en vandag sê sy: "Ek sien werklik uit na die toekoms en die dinge wat ek nog kan doen."

Haar lewe lank was sy ’n besige en aktiewe vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Vir sowat 18 jaar lank het sy en haar man, oom James Marais, op verskillende plase in die land geboer, maar deesdae bly die twee in Huis Maudie Kriel op Ceres.

Hoewel tannie Brinkie nou van ’n rolstoel afhanklik is, doen sy steeds sover moontlik alles self in hul wooneenheid. Benewens dat sy na haarself kan omsien, versorg sy ook grotendeels vir oom James (nou 94-jaar oud en verswak).

Sy vertel dat sy gereeld vir die Here vra om haar te seën met nog dinge om te doen, want sy hou daarvan om besig te bly.

Soos sy dit stel: "Ledigheid is die duiwel se oorkussing – en daaraan wil ek nie deel hê nie!"

Tannie Brinkie het ongeveer vier jaar gelede sporadies sere en pynaanvalle in haar voete begin kry. "Soos honde wat aan my voete kou", of "asof ek met my kaal voete in gloeiende kole staan", beskryf sy dit.

Netjies en uitgevat op haar rolstoel!

"Soms het dit gevoel of my voete met dik bloudraad vasgedraai word, ál stywer." Gangreen is by haar gediagnoseer en sy is in Augustus 2016 in die hospitaal opgeneem.

In daardie stadium het die bloedsomloop in haar onderbene baie verswak.

Sy onthou hoe sy in daardie stadium gebid het: "Here, as ek my bene moet laat gaan op hierdie hoë ouderdom, sê ek net dankie dat dit nie jare vantevore gebeur het nie. Want dan sou ek dit moontlik nie kon hanteer nie, want ek was toe nog net te veel aan die gang."

Albei haar bene is bokant haar knieë geamputeer. "Ek het nooit oor my lot gekla nie, maar was dankbaar dat ek nog lewe," beskryf sy haar emosie van destyds.

Maar dit was wel vir haar erg dat sy toe skielik van ander mense afhanklik was, soos daardie eerste sowat 2½ weke ná die operasie toe sy nog deur verpleegpersoneel gewas is.

"Ek het ure lank lê en dink aan maniere hoe ek myself kan help, want dit was vir my baie moeilik om my mees basiese versorging aan ander oor te laat," vertel tannie Brinkie.

Sy het besef dat sy haar rolstoel voortaan as deel van haar liggaam moet sien, want dit sal haar nuwe bene wees.

"Ek het dinge as ’n uitdaging begin beskou, in plaas van ’n probleem. Ek het gou geleer hoe om myself vanuit die rolstoel tot in die bed, en weer terug tot in die rolstoel, te kry. Volgende was om myself by die wasbak te was en om sonder iemand se hulp die toilet te gebruik. Dit het my weer my selfrespek en menswaardigheid teruggegee."

Tannie Brinkie het wel een keer geknak, erken sy. ’n Paar dae ná sy uit die hospitaal ontslaan is, het sy haarself vir die eerste keer in ’n vollengte spieël in haar kamer gesien.

Vir die eerste keer het sy haarself gesien soos wat ander mense haar sien.

Sy het erg geskok uitgeroep: "Ek het nie meer ’n middellyf nie – daar’s niks! Ek lyk soos ’n sak wasgoed op die stoel." Die selfbejammering het haar oorrompel en die trane het gevloei.

Tannie Brinkie is weer fluks aan die werk agter haar naaimasjien.

Haar dogter, Riana Joubert, wat op daardie oomblik by haar was, het haar verseker dat sy nie nou ’n "minder-mens" is net omdat sy nie meer bene het nie, want haar menswees word grotendeels deur haar persoonlikheid bepaal; daarom is sy nog net so volwaardig mens as voorheen.

Sy het haar ma ook aangemoedig om haar altyd goed te versorg en moeite met haar voorkoms te doen omdat iemand wat onversorg en verwaarloos lyk, baie maklik soos 'n "patetiese sak wasgoed" kan voorkom.

Tannie Brinkie het besluit om die stukkie selfbejammering eenkant toe te skuif en gou het sy met ’n positiewe gesindheid ál beter begin voel.

Vandag kan die lewenslustige tannie Brinkie steeds nie stilsit nie.

"Ek geniet dit om myself in die stoel aan te dryf, of as my dogter my in die straat stoot. Te lekker!" 

Sy het ook geleer om weer haar naaimasjien te gebruik, al "trap" sy nou die pedaal met haar hand. Sy sê wanneer sy hoor wat soms met ander mense gebeur het, is sy dankbaar dat sy vir 88 jaar lank die gebruik van haar twee bene gehad het.

"Die Here was deur my lewe by my, en Hy is steeds by my."