Vir Mari, wat aan lupus ly en kwaai komplikasies gehad het, was daar die afgelope week minder goeie nuus toe sy gehoor het sy sal ’n nieroorplanting moet ondergaan.

Ruaché is al byna vyf maande oud, maar dié mikro-premature baba wat net 440 g met geboorte geweeg het, weeg darem al 1,7 kg.

Sy weeg nou eers die helfte van wat ander volterm-babas met geboorte weeg. 

Foto: Verskaf
Ruaché het talle beenbreuke omdat haar bene so sag is. Haar ouers moet versigtig wees wanneer hulle haar vashou.

Ruaché is op net 26 weke deur middel van ’n keisersnee gebore omdat daar ’n bloedklont in die naelstring was en dokters genoop was om haar uit te haal. Sy was toe so groot soos ’n baba van net 19 weke oud omdat die bloedklont daartoe gelei het dat minder voedingstowwe haar bereik het. 

Mari het ook ná die geboorte komplikasies gehad. Bloedklonte is deur haar longe en niere.

“Ons het dié week uitgevind ek sal ’n nieroorplanting moet kry. Ek kry nog drie keer per week dialise,” sê sy aan Huisgenoot. 

Mari was self ’n maand in die hospitaal en kon nie vir Ruaché sien nie. 

Foto: Verskaf
Mari en Johan Botha kuier elke dag by klein Ruaché. Hulle kon haar onlangs vir die eerste keer vashou.
Foto: Verskaf
Mari en Johan Botha kuier elke dag by klein Ruaché. Hulle kon haar onlangs vir die eerste keer vashou.

Ruaché het ook verskeie terugslae gehad.

Haar longe was baie swak en haar derms het gaatjies in gekry. Dokters het nie geweet of sy dit gaan maak nie. 

“Haar dermpies is nou nog in ’n sakkie buite haar lyf, maar dokters het gesê hulle kan dit terugsit en regmaak sodra sy 2 kg weeg. Sy is van ’n ventilator af en kry net suurstof deur ’n pypie in haar neus. Dit gaan al soveel beter met haar,” vertel Mari. 

Die beensiekte ragitis is ook by die baba gediagnoseer. “Byna al die bene is haar lyf was gebreek. Klein, fyn breukies. Ons het dit so ’n maand gelede uitgevind. Haar femur, sleutelbeen, armbene en skedel het breuke gehad. Sy was regtig in pyn. Dis omdat haar bene so sag is,” vertel Mari. 

Ruaché kry nou vitamienaanvullings om haar bene te versterk en dokters glo sy sal herstel.  

“Ons kan haar ook darem vashou sedert ek laas met jou gepraat het. Sy weeg ook nou byna dubbel as wat sy toe geweeg het.” 

Mari en Johan ry elke middag halfvyf uit Kempton Park om vir Ruaché te gaan kuier in die hospitaal 55 km daarvandaan. 

“Omdat ons haar nou kan vashou, kan ons eindelik 'n bietjie gesinstyd saam hê. Dis so lekker,” sê sy. 

Mari probeer ook nou haar eie kultuurskool op die been bring. 

Foto: Verskaf
Mari sê hulle is positief oor haar en Ruaché se gesondheid.

“Ek is nog siek, maar ek is vasbeslote om weer te begin werk. Ek het lank genoeg vakansie gehou,” sê sy en lag. 

Mari sê as Ruaché eers die operasie gehad het om haar derms te herstel, sal sy hopelik kan huis toe kom. 

“Ons sien daarna uit om haar by die huis te hê,” sê sy.